SA parlement: Man vandag in hof
Die verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die brand by die Suid-Afrikaanse parlement in Kaapstad, sal vandag in die hof verskyn.
Ané van Zyl
Brig. Thandi Mbambo, woordvoerder van die Valke, het aan Netwerk24 bevestig 'n 49-jarige man is in verband met die vernietigende brand by die parlement in Kaapstad in hegtenis geneem.
Die klagte teen hom is huisbraak en diefstal, sê Mbambo. Die verdagte word ook van brandstigting verdink.
Hy sal vandag in die hof verskyn.
News24 berig die man het volgens Mbambo die terrein deur 'n venster betree.
Netwerk24 het vroeër berig 'n man is deur die polisie vir ondervraging ingeneem nadat die brand uitgebreek het. Ingeligte bronne het aan Maygene de Wee gesê die man is van Khayelitsha en dokumente is glo in sy besit gekry.
Die polisieondersoek na die brand is oorhandig aan die Valke se eenheid wat misdaad teen die staat ondersoek.
DIE SKADE
Dit sal maande neem om die brandskade te herstel, sê Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand- en reddingsdienste in Kaapstad.
Hy het in 'n onderhoud aan Newzroom Afrika gesê 'n deel van die dak het ineengestort. Omvangryke skade is ook aan die eerste tot vierde verdiepings van die gebou aangerig, wat volgens Carelse maande sal neem om te herstel.
Sover Carelse weet, is die Nasionale Raad van Provinsies se gebou, waarin die geskiedkundige biblioteek van die parlement geleë is, nie deur die brand geraak nie.
'RAMP WAT WAG OM TE GEBEUR'
Die brand wat Sondagoggend ontstaan het, was 'n ramp wat bloot gewag het om te gebeur, het die Demokratiese Alliansie (DA) in sy reaksie gesê.
“Dit kan nie ontken word nie dat die instandhouding van die parlement, veiligheid en algemene instandhouding die afgelope tien jaar agteruitgegaan het,” sê die DA-verklaring.
“Die geboue het verwaarloos, vuil en gevaarlik geword en dit pas beslis nie as die tuiste van Suid-Afrika se demokrasie nie.
“Dis ons oortuiging dat 'n onafhanklike ondersoek onmiddellik van stapel gestuur moet word, gelei deur brand-, brandstigting- en forensiese kundiges, om te verseker dat niks misgekyk of oor die hoof gesien word nie.
“Ons versoek dringend dat hierdie ondersoek bepaal hoe die brand ontstaan en versprei het,” lui die verklaring.
John Steenhuisen, die DA-leier, het Sondag gesê: “Ek is absoluut gebroke en hartseer om te sien hoe ons pragtige parlementêre kompleks begin brand het. Dis 'n ongelooflike spesiale plek, ryk aan geskiedenis en tradisie en die bymekaarkompunt van ons demokratiese debat. Ek vlieg Dinsdag terug Kaapstad toe om die situasie te beoordeel.”
VOLKSRAADGEBOU GLO BESKADIG
Die brand het om 05:03 uitgebreek en het die plafonne van die Volksraadgebou en die Nasionale Vergadering-gebou, asook verskeie kantore en die gimnasium vernietig.
Die hele gebou het ernstige rook- en waterskade opgedoen, maar die brandbestryders kon keer dat die vlamme na die geboue van die Nasionale Raad van Provinsies versprei, het die Kaapstad-Metro gesê.
Ander politieke partye het ook hul skok oor die brand uitgespreek.
Die Good-party sê in sy verklaring hy is “diep hartseer en ontsteld”.
“Ons nasionale parlement is die mense se huis van hul demokrasie. Die geboue is die ruimtes wat die uitkomste van moeilike verkiesings huisves. Die Good-party se parlementêre kantore was in die Volksraadgebou en dit blyk dat ons kantore heeltemal uitgewis is.”
Brett Herron, sekretaris-generaal van die party, was Sondagoggend op die perseel.
“Ons sal wag vir amptelike bevestiging oor watter dele beskadig is, en tot watter mate, maar uit my waarneming blyk dit dat ons kantore deur die brand vernietig is.
“Ons bedank die brandbestryders vir hul snelle reaksie en dapper pogings om die brande te keer. Soos die res van die land is ons gretig om die oorsaak van die brande te verstaan.”
EFF SÊ PARLEMENT MOET VERSKUIF
Die EFF het in 'n verklaring gesê hy het met kommer van die brande kennis geneem, maar het lankal reeds 'n oproep gedoen dat die parlement om politieke en kosteverwante redes na 'n sentrale ligging verskuif word.
Volgens die EFF het die parlement se ligging in Kaapstad 'n koloniale geskiedenis wat neerkom op die onderdrukking van mense van Afrika.
“Wat koste betref, is die voortgesette ligging van die parlement in Kaapstad 'n vermorsing van belastingbetalersgeld. Dit lei tot onnodige uitgawes wat parlementariërs en lede van die kabinet se reis en verblyf betref,” sê die EFF.
“Die EFF versoek dus dat enige geld wat opsygesit word vir herstelwerk aan wat lyk na onherstelbare skade, eerder aangewend word om die parlement te verskuif na Tshwane, waar die Uniegeboue is.”
Die VF-Plus het ook die brand betreur.
“Die parlementêre kompleks huisves 'n ryke geskiedenis in terme van geskrifte, skilderye, dokumente en vele meer. Die biblioteek is 'n nasionale skatkis van Suid-Afrika se geskiedenis. Sou dit verwoes word, is dit 'n geweldige verlies.”– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie