SA partye druk besig met hul kandidaatlyste
SA partye druk besig met hul kandidaatlyste

SA partye druk besig met hul kandidaatlyste

’n Politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê politieke partye moet met die finalisering van hul kandidaatlyste aandag gee aan onder meer die nasionale protes teen korrupsie.
Philda Essop - Politieke partye in Suid-Afrika is druk besig om hul kandidaatlyste te finaliseer vir ná vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing.

Dié lyste, wat die name van lede bevat wat hul partye na die verkiesing in die Nasionale Vergadering, die Nasionale Raad van Provinsies en die nege provinsiale wetgewers sal verteenwoordig, moet by die Verkiesingskommissie (OVK) ingedien word.

Die afsnydatum vir hul indiening sal in die verkiesingsrooster van die OVK vervat word wat in werking sal tree sodra pres. Cyril Ramaphosa die datum vir die verkiesing proklameer.

Zizi Kodwa, waarnemende ANC-woordvoerder, het gesê die ANC se kandidaatlyste is tans onderhewig aan ’n keuringsproses.

Op die vraag oor wanneer die lyste gefinaliseer sal wees, het hy gesê die ANC is “nie haastig” om dit af te handel nie en wil die proses deeglik voltooi.

Die DA het die meerderheid van sy provinsiale lyste reeds gefinaliseer, het Solly Malatsi, partywoordvoerder, gesê. “Dié wat dit nog nie gedoen het nie, behoort dit vandeesweek af te handel, hoewel sommige provinsies ietwat langer kan neem.”

UITVOERENDE KOMITEE

Die party se federale uitvoerende komitee is geskeduleer om die lyste eerskomende naweek te bespreek. Appèl kan daarna aangeteken word.

Die federale regskommissie en die subkomitee vir appèlle van die DA sal dié proses hanteer.

Die EFF het nie op navrae oor die saak reageer nie. Luidens ’n vroeëre mediaverklaring het lede van die EFF op streek-, provinsiale en nasionale vlak twee weke gelede op sy nasionale lystebyeenkoms kandidate benoem wat op ’n enkele stembrief saamgevoeg is. Daar is later per geheime stembrief vir dié kandidate gestem.

Die EFF se nasionale lystekomitee is verantwoordelik vir die finale lys van openbare verteenwoordigers op provinsiale en nasionale vlak. Aspekte wat deur die komitee in ag geneem sal word, sluit in geslagsbalans, kontinuïteit, jeugverteenwoordiging en geografiese verspreiding. Die party sal ook die kredietrekord, misdaadgeskiedenis en gedrag in die organisasie van elke kandidaat nagaan.

POLITIEKE ONTLEDER

Ralph Mathekga, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê politieke partye moet met die finalisering van hul kandidaatlyste aandag gee aan onder meer die nasionale protes teen korrupsie.

“Hulle behoort mense met integriteit te kies. Tans is daar veelvuldige kommissies van ondersoek aan die gang. As ’n party kandidate op sy lyste plaas teen wie selfs net ’n geringe bewering gemaak is, beteken dit dat die party nie na die kiesers luister nie en dat hulle uit voeling is met hulle.

“Dit gaan oor integriteit en etiek – politieke partye weet presies wie op daardie lyste moet wees en wie nie,” het Mathekga gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!