SA regering gaan dalk tot 100 000 poste sny
SA regering gaan dalk tot 100 000 poste sny

SA regering gaan dalk tot 100 000 poste sny

Jo-Mare Duddy Booysen
Jan de Lange - Die getal staatsamptenare in nasionale departemente gaan in die volgende twee jaar met sowat 4,27% krimp weens besparings wat Pravin Gordhan, minister van finansies, Woensdag aangekondig het.

Sowat 434 111 amptenare werk in die nasionale departemente, maar in die volgende twee jaar gaan hulle met 18 546 verminder word.

Daar is egter net soveel besnoeiings in provinsiale en munisipale toewysings, wat daarop sal uitloop dat personeelgetalle in dié afdelings van die staatsdiens in die volgende twee jaar onder net soveel of selfs meer druk as die nasionale departemente sal wees.

Lungisa Fuzile, direkteur-generaal, het Woensdag gesê van die besparings sal kom omdat poste nie weer gevul word wanneer staatsamptenare bedank of aftree nie of deur vrywillige skeidingspakkette, maar dat dit moontlik nie genoeg sal wees nie. Gedwonge skeidingspakkette sal dus mettertyd oorweeg word.

Kenners verwag dat die hele staatsdiens uiteindelik met meer as 100 000 poste kan krimp.

Die departement van verdediging en dus die weermag loop die ergste deur – daar sal 15,48% oftewel 12 015 poste verminder word tot 65 582 lede. Ook 2 299 poste in die polisie word besnoei (1,18%) en 1 092 by korrektiewe dienste (2,75%).

Die land se diplomatieke korps word ook met meer as 12% verklein. Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking verloor 602 poste en sal 4 404 behou.

Gordhan se eie departement word nie ontsien nie – die nasionale tesourie word met 94 poste of 7,7% verklein tot 1 124 amptenare.

Nie alle departemente krimp nie.

Die departement van openbare werke gaan met 18,5% groei tot 5 368 poste – waarskynlik omdat die regering besluit het om aansienlik meer onderhoudswerk aan staatsgeboue te doen. Dié departement is in die Mbeki-Manuel-tydvak skerp ingekort.

Die 18 omstrede sektorale opleidingsowerhede (setas), wat tans 2 059 personeellede het, groei met 4,8%. Die setas val onder die departement van hoër onderwys en opleiding en kry dit nie tans reg om hul volle begroting uit die nasionale opleidingsheffing te bestee nie.

Die nasionale tesourie moet R6,6 miljard vind vir bykomende uitgawes – hoofsaaklik vir hoër onderwys weens die eise van studente in die #FeesMustFall-veldtog.

Die grootste gedeelte van die geld gaan kom uit die nasionale vaardigheidsfonds, wat net soos die setas oorgefinansier word uit die vaardigheidsheffings. R4,998 miljard gaan hiervoor uit die reserwes van die nasionale vaardigheidsfonds getrek word.

Die finansiering van universiteitsopleiding gaan in 2018-’19 ’n begrotingstekort van R5,3 miljard veroorsaak en in 2019-’20 ’n tekort van R5,7 miljard. Buiten die tekort het die regering reeds bykomende verpligtinge van R5 miljard vir 2019-’20 aangegaan vir hoër onderwys.

Die tekorte kan aangevul word omdat die tesourie verwag dat maatskaplike toelaes in dié jare stadiger gaan groei en R2,1 miljard minder daarvoor begroot word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer