S.A. reserwebank u2018bly versigtigu2019 oor rentekoerse
S.A. reserwebank u2018bly versigtigu2019 oor rentekoerse

S.A. reserwebank ‘bly versigtig’ oor rentekoerse

Die rentekoers is Dinsdag onveranderd gelaat, maar Suid-Afrikaners met skuld moenie verwag dat rentekoerse sommer gou gaan verlaag nie.
Estelle de Bruyn
Niel Joubert - Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het Dinsdag in Pretoria gesê die repokoers bly op 7%. Dit beteken die banke se prima uitleenkoers bly op 10,5%.

Volgens Kganyago is die einde van die siklus van rentekoersverhogings moontlik naby, maar “dit beteken nie die verlaging van koerse is om die draai nie”.

Die repokoers is vir die vyfde agtereenvolgende keer onveranderd gelaat, met die laaste verhoging in Maart 2016, toe die repokoers met 25 basispunte opgestoot is. Die repokoers is sedert Januarie 2014 met 200 basispunte opgestoot.

David Crosoer, hoof van navorsing en beleggings van PPS Investments, sê dit wil nie voorkom of die Reserwebank “enige tyd gou rentekoerse gaan verlaag nie”.

Hy sê die mark was dalk voortydig om te argumenteer dat die rentekoersverhogingsiklus reeds sy bopunt bereik het, “gegewe dat inflasie hardkoppig hoog bly en die VSA na verwagting ten minste drie keer vanjaar rentekoerse gaan verhoog”.

Volgens Kamilla Kaplan, ekonoom van Investec, hou die Reserwebank by ’n versigtige beleidstandpunt weens die verslegting in die vooruitsigte vir inflasie en te midde van voortslepende swakheid in die ekonomie.

Kganyago het gesê die vooruitsigte vir ekonomiese groei bly “swak” en die raming vir groei is afwaarts aangepas van 1,2% na 1,1% vir 2017.

Die Reserwebank verwag verder dat die inflasiekoers eers gedurende die laaste kwartaal van die jaar sal terugkeer na binne die teikenband van tussen 3% en 6%, later as die tweede kwartaal wat hy voorheen verwag het. Die verwagting is dat die inflasiekoers gemiddeld 6,2% vir die jaar gaan wees, wat aansienlik meer is as die 5,8% wat hy voorheen verwag het.

“Gegrond op die toon van die verklaring bly nog ’n rentekoersverhoging vanjaar ’n moontlikheid,” sê Kaplan.

Die Reserwebank het herhaal dat inflasie oor die langer termyn “ongemaklik naby die boonste perk van die teikenband bly” en dat die gevaar bestaan dat dit verder kan versleg.

Kganyago het ook verwys na die onsekerheid rondom die omvang van beleidsverandering in die VSA met pres. Donald Trump aan die stuur en die moontlike impak daarvan op ontluikende lande soos Suid-Afrika.

Sizwe Nxedlana, hoofekonoom van FNB, sê hoewel die rand onlangs gestabiliseer het en dit die inflasievooruitsig ondersteun, kan internasionale risiko’s die rand destabiliseer in die komende maande, en kan dit die inflasievooruitsigte laat versleg.

“Ons verwag dus dat die Reserwebank rentekoerse onveranderd sal hou totdat groter beleidsekerheid uit die VSA kom,” sê Nxedlana.

Die Reserwebank se grootste probleem is die onvoorspelbaarheid van die rand, sê Dennis Dykes en Nicola Weimar, ekonome van Nedbank.

Kganyago het Dinsdag gesê die plaaslike geldeenheid “bly kwesbaar vir sowel plaaslike as eksterne skokke”.

“Afgesien van enige opwinding van die ‘plaaslike en eksterne skokke’ het rentekoerse waarskynlik ’n hoogtepunt bereik, met geleidelike dalings wat in die tweede helfte (van 2017) kan begin tot in 2018,” sê Dykes en Weimar.

Volgens hulle is ’n “aantal uitkomste vir die jaar egter steeds moontlik”. Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!