SA Reserwebank moet nou net wakker skrik
Kapitaalvorming is kritiek belangrik vir sowel huidige as toekomstige ekonomiese groei.
Roelof Botha - Begin vandeesmaand is Suid-Afrika aan ’n bekende gesegde herinner: Ná vrolikheid kom olikheid.
November was in baie opsigte ’n wonderlike maand, wat begin het met die behoud van beleggersgraadstatus vir die land se staatseffekte (deur Moody’s) en kort daarna die ongekende vreugde met Suid-Afrika se oorwinning in die Wêreldbeker-rugby-eindstryd.
Landbouers in die noordelike provinsies het ook begin mielies plant ná die eerste goeie somerreëns. Verder het die rand weer sy spiere begin bult en selfs die Britse pond uitgestof.
Toe breek Desember aan en Statistieke Suid-Afrika kondig die droewige nuus aan dat die ekonomie in die derde kwartaal ingekrimp het. Die mooi groeikoers van meer as 3% wat in die tweede kwartaal behaal is, kon ongelukkig nie momentum opbou nie.
En toe gaan die ligte weer uit. Beurtkrag het oudergewoonte tot ’n uitbarsting van woede en sinisme in die sosiale media gelei, met voorspellings dat ekonomiese groei daarmee heen is.
Indien beurtkrag egter slegs sporadies ingestel gaan word en tot fase twee beperk kan word, is daar geen rede om ’n resessie in 2020 te vrees nie.
Een van die min ekonomiese ligpunte is die stewige herstel van kapitaalvorming, oftewel vaste investering in nuwe produksievermoë (wat infrastruktuur insluit).
Ontleed jy die bruto binnelandse produk (BBP) vir die derde kwartaal, blyk dit reële kapitaalvorming het die afgelope twee kwartale met ’n verstommende 18% toegeneem vergeleke met die vorige twee kwartale.
Bevestiging van die nuwe lewe wat in vaste investering geblaas word, kan ook in ’n mate in die mooi vertoning van Afrimat se konstruksie-indeks gevind word wat in die derde kwartaal met meer as 5% verbeter en ook in die tweede kwartaal toegeneem het.
Verder het regstreekse buitelandse investering na Suid-Afrika sedert die bewindsoorname van pres. Cyril Ramaphosa na die derde hoogste vlak tot nog toe beweeg.
Die nuwe stukrag van ’n kernaanwyser van beleggersvertroue het in die eerste helfte van vanjaar voortgeduur.
Die welslae wat met Suid-Afrika se tweede beleggingskonferensie behaal is, is ongetwyfeld ’n verduideliking vir die pragvertoning van dié aanwyser in die afgelope ses kwartale.
Op die glansgeselligheid, wat deur 1 500 afgevaardigdes bygewoon is, het Ramaphosa se vyfjaarteiken vir nuwe beleggings ’n reuse-hupstoot gekry. Maatskappye en ander organisasies het hulle tot investering van R363 miljard in nuwe produksievermoë verbind.
Altesame 72 ondernemings het hulle tot nuwe investering verbind, waarvan 39 se waarde meer as R1 miljard beloop het. Dit is verblydend dat al die nuwe beloofde beleggings reeds deur die direksies en bestuursliggame van die verskillende ondernemings goedgekeur is.
Toe Ramaphosa verlede jaar die regering se doelwit van R1 200 miljard se nuwe beleggings oor ’n tydperk van vyf jaar bekend gemaak het, was daar oudergewoonte kritiek van ’n paar doemprofete, wat dit as belaglik en hopeloos te ambisieus beskou het.
Dié pessimiste loop nou egter druipstert rond, aangesien Suid-Afrika se nuwe president reeds binne die eerste twee jaar 57% van sy teiken behaal het.
Om van Oktober 2018 tot November vanjaar waarborge van R680 miljard vir nuwe investering te ontvang, spreek boekdele vir die geloofwaardigheid van Ramaphosa se nuwe benadering tot ekonomiese beleid.
Kapitaalvorming is kritiek belangrik vir sowel huidige as toekomstige ekonomiese groei.
Al wat nou kort om verdere stukrag daaraan te verleen, is dat die Reserwebank wakker skrik en die koste van kapitaal wesenlik verlaag.
Teen die agtergrond van verspot-lae inflasie, geen ekonomiese groei en stygende werkloosheid, behoort die repokoers onverwyld met minstens 200 basispunte verlaag te word.
· Dr. Roelof Botha is ekonomiese raadgewer van die Optimum-Beleggingsgroep. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie