SA sal lande inlig nu00e1 bek-en-klouseer
SA sal lande inlig nu00e1 bek-en-klouseer

SA sal lande inlig ná bek-en-klouseer

Riana De Lange - Die taakspan wat die bek-en-klouseer-uitbreking monitor en bestuur, sal na verwagting vandeesweek briewe uitstuur na die lande waarheen Suid-Afrika beesvleis uitvoer om die veiligheid van die vleis en produkte te waarborg nadat bek-en-klouseer vroeg vandeesmaand buite die beheersone in Limpopo gevind is.

Suid-Afrika kan ingevolge die reëls van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) nie op die oomblik diere en produkte van diere met gesplete hoewe soos beeste, bokke, varke en skape uitvoer nie nadat gevalle van bek-en-klouseer gevind is. Dit raak veral die beesvleisbedryf omdat die land ’n netto uitvoerder van beesvleis is.

Suid-Afrika het in 2017 beesvleis ter waarde van meer as R2 miljard uitgevoer (lewende diere uitgesluit).

Mnr. Senzeni Zokwana, minister van landbou, het verlede Maandag gesê die departement sal Suid-Afrika se handelsvennote verseker dat produkte wat nie ’n risiko inhou vir die verspreiding van die siekte nie, veilig is. Elke uitvoerland sal op grond van die versekering besluit of hulle steeds van Suid-Afrika sal invoer. Dié produkte sluit in hitte-bewerkte vleis, suiwelprodukte, ontbeende en rypgemaakte beesvleis, skoongewaste wol, behandelde huide en vee-embrio’s.

Volgens Mnr. Matthew Karan, ’n direkteur van Karan Beef wat Suid-Afrika se grootste uitvoerder van beesvleis is, was hy Vrydag in kontak met die taakspan. Hulle het hom verseker hulle stel die briewe op ná goeie vordering met die verifikasie van waar produkte vandaan kom.

Wat Karan Beef betref, is die taakspan tevrede dat al die maatskappy se geriewe vry is van bek-en-klouseer en dat hy nie beeste uit die geaffekteerde gebied koop nie, sê Karan. Hulle is baie ingenome met die departement se vinnige optrede en aksieplanne.

Hy sê hoogstens 10% van Karan se produksie word uitgevoer.

Mnr. Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Limpopo-dieregesondheidsforum (LDGF), sê alle rolspelers werk saam om die tydelike opheffing van die land se uitvoerstatus so vinnig moontlik herroep te kry. Waarneming in die kwarantyngebied is baie skerp en gereelde toetse word gedoen.

Met die vorige groot uitbreking in 2011 toe Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status verloor het, het dit byna drie jaar gevat om dit te herwin. Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) raam dit het die land R4 miljard aan inkomste gekos.

Mnr. Wandile Sihlobo, ’n ekonoom van Agbiz, sê in ’n markoorsig enige langtermyn-onderbreking van uitvoer sal druk plaas op beesboere, en uiteindelik negatief wees vir die landbousektor se handelsbalans.

Van Jaarsveld sê die departement is druk besig met inenting in die Vhembe-gebied waar die bek-en-klouseer gevind is om te keer dat die siekte versprei. Die departement het ’n siektebeheergebied geïdentifiseer waar streng reëls geld oor die beweging van diere en produkte. Zokwana het gesê inentings sal gedoen word in ’n radius van 20 km om die dorpie waar die siek beeste gevind is.

Die LDGF en die RPO bied môre ’n inligtingsdag by Adam’s Apple-hotel in Makhado aan om boere, veilingskrale en ander rolspelers in te lig oor wat gedoen word om die siekte in bedwang te hou en watter bydrae elkeen kan lewer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer