SA sanger liries oor Hentiesbaai
SA sanger liries oor Hentiesbaai

SA sanger liries oor Hentiesbaai

Dit klink soos ’n skurwe liedjie, maar eintlik is dit ’n visvangwenk.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Suid-Afrikaanse sanger Armand Steenkamp (28) het verlede maand die musiekvideo vir sy liedjie “Diep steek en lank lê” op sy tweede CD, Lekker mens, langs Hentiesbaai se viswaters gemaak.

En nee, net soos Sarah se Gat, is “Diep steek en lank lê” nie ’n skurwe liedjie nie – dit gaan oor visvangwenke.

“Diep steek en lank lê is raad wat ek by die visvanglegende Spyker Kruger van Hentiesbaai gekry het oor hoe om die groot blinklywe langs die Namibiese viswaters uit te katrol,” vertel Armand per satelliettelefoon van sy plaas in die Boesmanland af.

Armand sê hy is baie lief vir Namibië en kom al die afgelope nege jaar hier vakansie hou.

“Ek is visvangmal en het vir drie jaar ná skool in die rots- en strandhengelliga gehengel en dis hoe ek aanvanklik langs die Namibiese viswaters uitgekom het. Ek kom ten minste een keer ’n jaar op Hentiesbaai visvang,” sê hy.

Armand boer op die plaas Koffiemeul, sowat 110 km suid van Pofadder, in die Noord-Kaap, en hy sing al die afgelope tien jaar nadat hy sy skoolloopbaan aan die Boland Landbouskool in die Paarl, in die Wes-Kaap, voltooi het.

“Ek sing enigiets – van ou treffers tot kuiermusiek wat jy om die braaivleisvuur kan luister, of iets wat die voete op die dansbaan laat jeuk,” sê hy.

Sy debuut-CD se titel is Ek kan nie dans nie, maar ek kan vry.

Armand sê hy het “Diep steek en lank lê” verlede jaar al vir sy CD Lekker mens geskryf en dit is sedert die begin van die jaar reeds op die rakke.

Hy vertel einde April het hy op Walvisbaai ’n show gedoen en het sy vriende Burre Burger, die bekende boer van Klawer, wat geld vir droogtehulp insamel, en Pierre Rossouw van Kaapstad saamgebring Hentiesbaai toe om te kom visvang.

“Ek en Burre kom al ’n lang pad saam en toe besluit ek sommer terwyl ons hier is, kom ons maak die video vir ‘Diep steek en lank lê’. Saam met ons op die video is my Walvisbaaise vriend, Luther Mostert.”

Armand sê vanjaar gaan hy sommer drie keer Namibië toe kom, want hy is besig om optredes vir September in die land te reël “en November gaan ek weer kom visvang”.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer