SA se aankope van Russiese lugafweerwapens ge-Trump
SA se aankope van Russiese lugafweerwapens ge-Trump

SA se aankope van Russiese lugafweerwapens ge-Trump

Erika Gibson – ’n Plan om Russiese lugafweerkanonne met ’n ontwerp uit die 1950’s vir die Suid-Afrikaanse weermag aan te koop, is op die lange baan geskuif nadat dit aan die lig gekom het die transaksie kan Suid-Afrika aan strafmaatreëls deur die Trump-administrasie blootstel.

Krygkor het die afgelope week bevestig die weermag het die bestelling gekanselleer. Korrespondensie tussen Krygkor en die weermag, wat Rapport gesien het, wys dat daar behoefte was vir tien ZU-23mm- en 12 ZPU-4-lugafweerkanonne.

Rapport verneem egter betroubaar die weermag oorweeg steeds om die wapens nie deur Krygkor nie, maar eerder uit die weermag se geheime wapenfonds aan te koop, omdat dit geen ouditspoor laat nie. Dié fonds was tot enkele jare gelede ’n paar miljard rand sterk.

Pres. Donald Trump het verlede jaar sanksiewetgewing bekragtig waarvolgens die VSA stappe kan doen teen enige land, entiteit of persoon wat handel dryf met enige van ’n rits verbode entiteite. Op dié taboe-lys verskyn Rosoboronexport, Krygkor se eweknie in Rusland.

Volgens prof. Hennie Strydom, kenner van internasionale reg by die Universiteit van Johannesburg, sal die Amerikaners ’n waardebepaling van sodanige transaksies meet aan onder meer die gevolge van die aanwending van die wapens.

Geteikende sanksies teen ’n entiteit soos Krygkor, die weermag en selfs individue kan volg. Dit kan kredietbeperkings of boetes behels.

Plaaslike kenners in die wapenbedryf vra egter ook waarom die weermag hoegenaamd lugafweerkanonne wil koop vir die spesiale magte (recces), wat nog nooit dié soort wapens gebruik het nie.

Boonop het die weermag ’n hele lugafweerregiment in Kimberley wat dié rol vervul. Hul toerusting word gestoor omdat daar nie tans ’n bedreiging uit die lug vir Suid-Afrika bestaan nie.

Onderhandelinge vir die wapens was volgens ingeligtes in Krygkor-geledere, waar ’n rooi vlag oor die transaksie glo gehys is, reeds in 2015 onderweg. Uit ’n ope brief wat Mmusi Maimane, DA-leier, onlangs aan adj.pres. David Mabuza geskryf het oor dié se besoek aan boord van ’n Gupta-straler aan Rusland op 25 Oktober 2015, blyk dit ’n weermaghoë was saam Moskou toe.

Maimane skryf die passasierslys het Gupta-afgevaardigdes en Russiese mynbouverteenwoordigers ingesluit. Op die lys word Sehularo Solomon Letshwenyo aangedui as een van die Gupta-werknemers by hul ondernemings Westdawn en Mabangela. Die enigste Sehularo Solomon Letshwenyo op die bevolkingsregister is beter bekend as kol. Solly Letshwenyo, bevelvoerder van 5 Verkenningsregiment in Phalaborwa.

Rapport verneem uit weermaggeledere dat brig.genl. Steve Maloma, generale bevelvoerder van die recces, Letshwenyo glo Moskou toe gestuur het om wapen-evaluerings te gaan doen. Maloma het in die laaste paar jaar van oudpres. Jacob Zuma se termyn gesorg dat Zuma dag en nag deur recces bewaak word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!