SA se beeste van beste ter wu00eareld
SA se beeste van beste ter wu00eareld

SA se beeste van beste ter wêreld

'n Suid-Afrikaanse kampioenbul van Sannieshof is as die wêreld se beste Santa Gertrudis-bul aangewys.
Karin Eloff
Alet van der Walt



Suid-Afrikaanse beeste het pas by die wêreldkampioenskap vir beeste uitgeblink en 'n hand vol medaljes ingeoes.

'n Suid-Afrikaanse kampioenbul van Sannieshof is as die wêreld se beste Santa Gertrudis-bul aangewys.

Die bul, Breede Ace BR 140016, van Raymund de Villiers, is ook vroeër vanjaar as die Suid-Afrikaanse interraskampioen aangewys.

Die Kampioen van die Wêreld-kompetisie word sedert 2012 aangebied, maar omdat dit onmoontlik sal wees om al die diere in een skouring byeen te bring, word die kompetisie op die web aangebied.

In 2012 het twee rasse deelgeneem en 54 diere is ingeskryf en sedertdien groei die kompetisie jaarliks.

Volgens PJ Budler, hooforganiseerder van die kampioenskap, het meer as 1 000 beeste van 16 verskillende beesrasse uit 77 lande vanjaar aan die kampioenskap deelgeneem.

Budler, 'n Suid-Afrikaner, woon deesdae in Amerika.

Albert Loubser, van die Alfa Ekspo wat die jaarlikse Suid-Afrikaanse interraskampioenskap aanbied, sê Suid-Afrikaanse beeste het vanjaar besonder goed gevaar in die kampioenskap.

Diere kwalifiseer vir die kompetisie wanneer hulle die nasionale kam­pioenskappe in hul lande van herkoms wen, sê Budler.

Telergenootskappe kan ook diere aanwys wat goed genoeg is om deel te neem. Net een goeie foto van elke dier word per inskrywing toegelaat.

Loubser, wat die Hinterland Nasionale Interraskampioenskap in Suid-Afrika aanbied, sê die beste interraskoei in Suid-Afrika, 'n simmentaler genaamd Dipsie PJO 12-65, is as die wêreld se naasbeste simmentalerkoei aangewys.



'BAIE GOEIE NUUS'

Dipsie is deur die Chrismar-stoet by Lichtenburg geteel.

Loubser sê dit is baie goeie nuus dat Suid-Afrika se twee interraskampioene by die wêreldskou uitgeblink het.

“Dit wys dat ons beesteling nie net in pas met die res van die wêreld is nie maar ook van die beste ter wêreld is,” sê Loubser.

Die beste simmentalerbul in die wêreld is ook 'n Suid-Afrikaanse bees en is deur Nico Venter van Von-Adel Simmentalers by Ventersdorp geteel.

Die wêreld se beste limousinbul, Xourel Rainmaker, behoort aan Derick le Roux van Lichtenburg.

'n Beefmasterbul van Alzu Beefmasters het 'n silwer medalje gewen, terwyl die wêreld se beste vroulike beefmaster deur Bos Blanco Beefmasters van Kroonstad geteel is.

'n Brahmanbul, HOT 1486, van Linde du Plessis van Brandwater Brahmane buite Fouriesburg, het 'n silwer medalje gewen en 'n simbrabul van Cornelis Derksen van Viljoenskroon is as die wêreld se naasbeste simbrabul aangewys en het 'n silwer medalje gewen.

Die Hereford-ras se wêreldkampioen is nog nie gekroon nie, maar Philip de Waal van Locheim Herefords se bul is reeds as een van die beste vier bulle aangewys. 

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer