SA span nuwe tegnologie in
'n Maatskappy het op die New Yorkse aandelebeurs genoteer wat nuwe genetika-tegnologie op mielies gaan toepas.
Suid-Afrika sal een van die eerste lande wees waar nuwe genetika-tegnologie vir mielies ontplooi word.
Só het die wêreld se nuutste landbou-reus, Corteva Agriscience, verlede week gesê met sy notering op die New Yorkse aandelebeurs.
Corteva se Suid-Afrikaanse handelsmerke is Pannar en Pioneer.
Ná 'n rits verkrygings en samesmeltings in die laaste twee dekades, is Corteva en nog 'n Amerikaanse maatskappy, Monsanto, nou die grootste spelers in Suid Afrika se landbousektor. Monsanto het vroeër Sensako en Carnia oorgeneem.
Peter Freymark, navorsingsdirekteur van Corteva, het aan Netwerk24 gesê Suid-Afrika is 'n baanbreker vir hul Crispr-tegnologie.
Dié tegnologie behels die redigering van 'n plant se genetiese stof sonder om enige genetiese stof by te voeg soos met tradisionele geneties gemodifiseerde (GM) sade.
Freymark sê die meeste ander Afrikalande laat nie GM's toe nie, maar hy hoop Crispr-tegnologie verander die negatiewe opvattings oor genetiese modifisering.
Amper 90% van Suid Afrika se mielieoeste is GM, wat dit die enigste land ter wêreld maak waar die stapelvoedsel geneties aangepas is. “Ons bring niks vreemds hier in (met Crispr-tegnologie) nie,” sê Freymark.
“Ons vee net problematiese gene uit wat die plant makliker laat verdroog of minder saad dra.”
Steve Reno, Cortevo se hoof van saad, sê hulle is terdeë bewus dat verbruikers al hoe meer fokus plaas op hul koskeuses en hoe dit geproduseer is.
“Mense wil weet wat in hul kos ingaan en ons toekomstige beleggings sal daarop moet fokus,” sê hy. “Ons wil die kos van die toekoms produseer.
DOWDUPONT
“Maar verbruikers sal die produk wat ons ontwikkel, dikteer. Ons kan nie net 'n produk na die mark bring en hoop hulle sal dit koop nie.
“Ons wil 'n produksielandboumaatskappy wees met 'n voedselmaatskappy se ingesteldheid”
Corteva, wat voorheen by die landbouafdeling van DowDuPont was, het 'n baie skerp fokus op biotegnologie en Reno sê hy besef dít sal die maatskappy nog meer in die soeklig plaas.
Corteva se sake sal ná die notering op drie gebiede fokus: saadontwikkeling, oesbeskerming en die verskaffing van presisietegnologie wat boere help om beter te boer deur data van hul boerderye in te vorder. Maar biotegnologie en genomika vorm die hart van die landbou-reus se sakemodel.
Die nuwe maatskappy se weddenskap is dat verbruikers geneties aangepaste gewasse al hoe smaakliker sal vind, veral die wat nie uit ander organismes se genetika verbou word nie, soos sy transgeniese sade tans.
Freymark sê al die nuutste tegnologie bereik Suid-Afrikaanse boere dieselfde tyd as hul Amerikaanse eweknie.
In Corteva se Delmas-tegnologiesentrum in Mpumalanga, wat in 2017 geopen het, word produkte aangepas vir plaaslike weersomstandighede en plae soos die kommandowurm.
Die sentrum het ook dieselfde nuwe toerusting as sy grootboet in Iowa, Amerika, waar 'n “plantfabriek” geredigeerde plante in massiewe kweekhuise kweek.
Klimaatsverandering en droogte is volgens Freymark 'n groot tendens wat die Afrika-navorsers in hul nuwe sade inbou.
Volgens Reno neem dit ongeveer tien jaar vir 'n produk om na die mark geneem te word omdat hulle wil seker maak dat dit geen gevare inhou vir mens of omgewing nie. Dit neem veral tyd om dit plaaslik te toets in die spesifieke markte waarvoor die sade of chemikalieë ontwikkel is.
BOERE HOOGS AANPASBAAR
Prabdeep Bajwa, die maatskappy se hoof vir Afrika en die Midde-Ooste, sê Corteva se motto is om wêreldwyd te innoveer, en plaaslik te verfyn.
Hy sê daar is geen planne om hul bekende Pioneer- en Pannar-handelsname te verander nie.
“Ons boere koop nie produkte voordat hulle dit nie deeglik op die proef gestel het nie. Suid-Afrikaanse boere is hoogs aanpasbaar en kry baie reg met min.”
Pannar is in 2012 oorgeneem deur Corteva se voorganger, Pioneer Hi-Bred, wat toe nog 'n filiaal van DuPont was. Onder Pannar word daar ook nog fluks nie-GM sade in Afrika verkoop.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie