SA spring 1ste gradeer-skok vry
SA spring 1ste gradeer-skok vry

SA spring 1ste gradeer-skok vry

Vida Booysen - Die kredietgradeerder Fitch Ratings het sy gradering van die land se staatskuld onveranderd op BB+ gehou.

Fitch Ratings, wat nie vooraf sy hersieningsdatums aankondig nie, het ’n dag voor die ander twee agentskappe, Moody’s Investors Service en Standard & Poor’s (S&P) sy graderingsbesluit aangekondig.

Fitch het alle staatskuld reeds in April tot onder beleggingsgraad afgegradeer.

In sy verduidelikende nota sê Fitch ondanks Suid-Afrika se baie probleme kan “fiskale konsolidasiemaatreëls ná die ANC se verkiesingskonferensie in Desember in die land se guns werk.”

As die ander twee agentskappe dié siening handhaaf, sal die rand na verwagting volgende week aansienlik versterk.

S&P se aankondiging word Vrydag eers ná 23:00 verwag. Moody’s het geen tydsaanduiding gegee nie, maar as geen graderingsbesluit geneem word nie, sal dit na verwagting ook eers laatnag kom.

Die kredietgradeerder sê Suid-Afrika se gradering word negatief beïnvloed deur lae ekonomiese groei, aansienlike regeringskuld, staatswaarborge vir staatsondernemings en verswakkende standaarde van beheer en bestuur.

Desondanks glo die agentskap dié swakhede word uitgebalanseer deur ’n gunstige skuldstruktuur vir die regering, plaaslike kapitaalmarkte wat steeds diep sakke het en ’n buigsame wisselkoers wat die skokke van buite help absorbeer.

Dit bevestig dat hoewel Suid-Afrika ’n swakker fiskale vooruitsig het en dus vinniger skuld maak, kan die konsolidasievoorstelle ná die ANC se verkiesingskonferensie in Desember in die land se guns werk, terwyl daar verwag kan word dat die bruto binnelandse produk (BBP) se groei ook sterker sal herstel.

Só reageer tesourie

Die tesourie het in sy reaksie gesê hy neem kennis van Fitch se besluit om die land nie dieper in rommelstatus te plaas nie.

“Hoewel Fitch se gradering daarop dui dat Suid-Afrika steeds in ooreenstemming is met die ander ontluikende markte in dieselfde graderingskategorie, is die implikasies groot vir Suid-Afrika.”

’n Gradering van rommelstatus het implikasies vir die ekonomie, die koste van staatskuld, staatsbeheerde maatskappye en ook vir Jan Alleman, sê die tesourie in sy verklaring.

“Sedert Fitch die land in April tot rommelstatus afgegradeer het, het die land ’n resessie beleef, die koste van lenings het verhoog en ons inkomste het nie na wens presteer nie.”

Die land en die regering kan nie bekostig om gerus te raak oor sy blootstelling aan risiko wat al hoe groter raak nie, volgens die verklaring.

“Dit bly belangrik vir die land om deurslaggewende beleidskwessies af te handel sodat daar sekerheid kan wees.”

Deurdat Fitch die land nie verder afgegradeer het nie, het hy Suid-Afrika nou die geleentheid gegee om die probleme aan te pak wat tot ’n “opwaartse hersiening” van ons gradering kan lei, sluit die verklaring af. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer