SA staalbedryf stuur noodkreet uit oor Trump-besluit
Dié besluit maak SA staal- en aluminiumprodukte duurder as dié uit die VSA se buurlande, al is die rand relatief hoe swak.
Hanlie Stadler – Suid-Afrika se staalprodusente trek noustrop sedert pres. Donald Trump van die VSA onlangs vir Kanada en Mexiko vrygestel het van sy swaar invoertariewe op staal en aluminium, sê Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris.
Dit maak Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumprodukte duurder as dié uit die VSA se buurlande, al is die rand relatief hoe swak.
Ad valorem-tariewe van 10% op aluminium en 25% op staal geld sedert 23 Maart 2018 vir alle uitvoer na die VSA, maar Kanada en Mexiko is in Mei daarvan vrygestel.
Croucamp sê hoewel Amerikaanse maatskappye wat staal aankoop, by die regering mag aansoek doen om vrystelling van die tariewe, is dit baie selektief vir Suid-Afrikaanse staal gedoen.
Suid-Afrika het in Januarie 2018 – voor die instelling van die verbod – nagenoeg $21,6 miljoen se staal na die VSA uitgevoer. Teen Junie – ná die tariewe – het dit tot $8 miljoen getuimel voordat dit weer effens gestyg het.
Die maandsyfers is redelik wisselvallig, maar die mediumtermynsyfers vertel die volle verhaal: In die eerste nege maande van 2017 het Suid-Afrika byna $218 miljoen se staal na die VSA uitgevoer en in dieselfde nege maande van 2018 net $144 miljoen, ’n daling van ’n derde.
Croucamp verwag dat die syfers oor ’n maand of twee gaan wys dat uitvoer in 2019 selfs verder geval het.
Suid-Afrika se staalbedryf verskaf werk aan meer as 281 000 mense. Hoewel nie alle maatskappye uitvoer nie, vrees Solidariteit dat die Amerikaanse tariewe die bedryf baie seer gaan maak.
Duferco, Cisco, Columbus Stainless, South 32 en ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) tel onder die maatskappye wat staal uitvoer. Van hulle het reeds aangedui dat bestellings vanuit die VSA gedaal het.
“Die situasie waarin hierdie vervaardigers hulself bevind, is baie ernstig van aard omrede die uitvoer na die VSA vinnig besig is om op te droog. Fabrieke is reeds besig met afleggings en die moontlikheid bestaan dat fabrieke gaan sluit.”
Die plaaslike staalbedryf gaan onder verskeie uitdagings gebuk, insluitende Eskom se hoë kragtariewe en trae groei in die plaaslike ekonomie.
Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, het onlangs gesê die ekonomie moet met 1,8% groei om die vraag na staal te laat groei. Ekonome wat aan Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, het pas groei van gemiddeld net 0,8% vir 2019 voorspel.
Croucamp sê die ingestelde koolstofbelasting is ’n verdere terugslag vir die bedryf.
Solidariteit het begin Junie 2019 ’n versoek aan Ebrahim Patel, wat pas minister van handel en nywerheid geword het, gerig dat hy die vernaamste rolspelers in die Suid-Afrikaanse staalbedryf byeen roep om die uitdagings te bespreek.
“Ons fokus daarop om die bedryf van ondergang te red en werkverliese te bekamp. Daar moet vinnig en ernstig na uitdagings gekyk word sodat oplossings gevind kan word.” Solidariteit sê die tariewe het nie juis die Amerikaanse staalbedryf gehelp – die rede waarom Trump dit ingestel het – nie.
“Vroeër die week het U.S. Steel aangekondig dat die staalreus twee hoogoonde in Chicago en Detroit gaan afskaal. Die aankondiging volg op afskaling van ’n hoogoond in Europa. U.S. Steel gaan produksie met 200 000 ton per maand verminder. Die maatskappy het verder sy verdienstevooruitsigte verlaag.
“Twee ander staalvervaardigers in die VSA, Nucor en Steel Dynamics, het ook vandeesweek soortgelyke waarskuwings uitgereik.
“Staalpryse in die VSA het die afgelope jaar drasties gedaal. Paniekaankope van staalvoorraad het gevolg op die aankondiging van die staaltariewe in Maart 2018. Die vrees dat daar voorraadtekorte kon ontstaan, was deels die oorsaak vir die paniekaankope en berging van voorraad. “Die teenoorgestelde het egter gebeur met te veel staal in voorraad in die VSA nadat die vraag gedaal het as gevolg van ’n verlangsaming in die motor-, energie- en konstruksiesektore, wat staalaankope en -pryse drasties laat daal het.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie