SA: ‘Staat sal top-salarisse móét bevries’
Volgens die adjunkminister is lae ekonomiese groei en die groeiende staatskuld versperrings tot volhoubare, inklusiewe groei.
Francois Williams – Die staat sal móét kyk na die bevries van salarisse onder topbestuurders in die staatsdiens, het dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, Maandag gewaarsku.
Hy het op ’n beleggingskonferensie van JP Morgan SA in Kaapstad ook in ’n verskuilde verwysing na die regering se beleid oor voorgeskrewe bates die tesourie se gekwalifiseerde steun vir dié beleid gegee.
Beskerm werkers se spaargeld
Om die ekonomie te laat groei, verg hoër belegging van buitelandse en binnelandse kapitaal, het Masondo gesê, maar werkers se spaargeld moet beskerm word. Dit behoort nooit aan risiko’s soos swak finansiële bestuur in sowel die openbare as private sektor blootgestel te word nie.
Die regering behoort nie batebestuurders te dwing om hul kliënte se geld in onverstandige projekte of projekte met swak opbrengste te belê nie.
Dit was waarskynlik bedoel om vrese te besweer dat die regering planne het om pensioenfondse te dwing om in swak presterende staatsondernemings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te belê.
“Spaargeld moet toepaslik gekanaliseer word. Die omvang van langtermynfondsbestuurders soos pensioenfondse is op sigself ’n bron van geweldige krag en invloed om ekonomiese groei en verandering aan te dryf. Hulle kan vir langtermynopbrengste sorg deur op hoë standaarde vir prestasie, korporatiewe bestuur en sosiale verantwoordelikheid aan te dring.”
Volgens Masondo is lae ekonomiese groei en die groeiende staatskuld versperrings tot volhoubare en inklusiewe groei. Die skuldlas is weens die hoë salarisrekening, reddingsboeie aan staatsondernemings en rentebetalings op skuld.
Bevries salarisse
Die staat se salarisrekening bedra 35% van totale staatsbesteding en 46% van die totale belastinginkomste. Die nasionale tesourie is voortdurend in gesprek om besparings op die salarisrekening te behaal, en “daar sal na die bevries van salarisse gekyk moet word, beginnende by openbare posbekleërs, topbestuurders en uitvoerende bestuurslui op alle vlakke van die staat as ons ernstig is om ons dreigende fiskale krisis aan te pak”.
In die private sektor, as die bestuur elke boekjaar vir ekwiteit-inspuitings vra, sal jy jou beleggingsbesluit in daardie betrokke maatskappy heroorweeg. Daar is geen rede dat die regering anders moet optree nie.
Volgens Masondo is Eskom se skuld die simptoom van ’n dieper probleem met Eskom se kostestruktuur, sy sakemodel asook inkomstegenerering en -insameling. Die munisipaliteite skuld Eskom R25 miljard, maar hulle kan nie voortgaan om gratis krag en ander dienste uit te deel nie.
Die staatsondernemings kan nie blanko tjeks kry nie. Daar moet streng voorwaardes wees.
Belastingstatus
Oor Suid-Afrikaanse maatskappye wat internasionaal uitbrei, het Masondo gesê die regering sal daarop aandring dat dié maatskappye steeds hul status as belastinginwoners in Suid-Afrika behou om die land se belange te beskerm.
Kredietgradering
Masondo het gewaarsku oor die negatiewe uitkringende gevolge as Suid-Afrika se kredietgradering verder versleg. Dit sal die koste van lenings vir die staat, staatsondernemings asook die private sektor verhoog. Banke en maatskappye wat meer moet betaal om geld te leen sal die koste aan verbruikers deurgee in die vorm van hoër rente en geld, en hulle sal minder geld uitleen en minder belê. Dit sal die ekonomie laat verlangsaam, wat bose kringlope aan die gang sal sit en nog meer druk op die regering se toekomstige kredietgraderings plaas.
Vervoerstelsel duur en onvolhoubaar
Suid-Afrika is nie internasionaal mededingend nie want dit kos relatief baie om in die land sake te doen.
Pendelaars bestee sowat die helfte van hul inkomste aan vervoer - boonop ’n baie ongerieflike en duur vervoerstelsel.
Die openbare vervoerstelsel in Suid-Afrika wat grootliks deur die minibustaxibedryf oorheers word, is nie volhoubaar nie. ’n Massavervoerstelsel is dringend nodig. Die stelsel vir goedere-vervoer wat deur die vragmotorbedryf oorheers word, is ook nie volhoubaar nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie