SA teleurgesteld oor Trump se besluit oor staal
SA teleurgesteld oor Trump se besluit oor staal

SA teleurgesteld oor Trump se besluit oor staal

Die handelsoorlog tussen Amerika en China eis nou slagoffers in Afrika.
Nellie Brand-Jonker - Suid-Afrika is baie teleurgesteld dat hy nie een van die lande is wat Maandag permanente vry­stelling van Amerika gekry het van die invoerheffings op staal en aluminium nie, sê dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

Trump het Maandag proklamasies onderteken wat permanente vry­stelling aan 'n aantal lande verleen en vir ander nog 'n maand se uitstel gee voordat die tariewe in werking tree.

Argentinië, Australië en Brasilië kry permanente vrystelling van die invoerheffing terwyl Kanada, die Europese Unie (EU) en Mexiko 'n maand se uitstel gekry het.

Trump het op grond van nasionale sekuriteit 'n handelswet van 1962 opgeroep ten einde Amerikaanse produsente van staal en aluminium te beskerm. Hy het op 8 Maart 'n pro­klamasie onderteken wat 'n 10%-ad valorem-heffing op die invoer van ­aluminium en 'n 25%-ad valorem-heffing op die invoer van staal ingestel het.

Davies het hieroor vertoë aan Amerika gerig. Mninwa ­Mahlangu, Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika, het ook die Withuis en die Amerikaanse departement van handel hieroor gekontak.

Davies het op 22 Maart en 30 April ook 'n telekonferensie met Amerika se adjunkhandelsverteenwoordiger vir beleggings, dienste, arbeid, die omgewing, Afrika, China en die Weste gehou om die saak te bespreek.

Davies het aangevoer Suid-Afrika sukkel self met die nagevolge van die oorvloed staal in die internasionale mark. Hy het verduidelik Suid-­Afrika het streng maatreëls vir doeane­beheer en dat daar geen risiko bestaan dat staal wat uit ander lande afkomstig is deur sy grense na Amerika uitgevoer sal word nie.

Davies sê van die lande wat vrystelling gekry het, is van die grootste ­uitvoerders van staal en aluminium na Amerika.

Suid-Afrikaanse aluminium beloop net 1,6% van Amerika se totale invoer van die produkte. In 2017 het Suid-Afrikaanse staal net 0,98% van Amerika se totale invoer van staal beloop.

Die 330 000 ton staal wat na Amerika uitgevoer is, verteenwoordig 5% van Suid-Afrika se produksie en sowat 7 500 poste word in die ver­skaffingsketting daarmee onderhou.

“Suid-Afrika is besorg oor die onbillikheid van die maatstawwe en dat hy een van die lande is wat uitgesonder word as 'n bydraer tot die kommer oor Amerika se nasionale sekuriteit terwyl die land se uitvoer van aluminium- en staalprodukte nie so beduidend is nie.

“Suid-Afrika hou nie 'n gevaar in vir Amerika se nasionale sekuriteit nie.

“Weens die maatstawwe wat Amerika instel, gaan Suid-Afrika buite verhouding negatief geraak word ten opsigte van poste en produksie. Suid-Afrika is 'n slagoffer van die handelsoorlog wat tussen groot ekonomieë plaasvind.”

Davies sê hy weet daar is 'n oorvloed staal in die mark en die plaaslike bedryf ly ook onder die lae pryse.

“Die invoertariewe gaan 'n negatiewe impak hê op produksie en poste in die sektor wat reeds onder die oorvloed staal ly.”

Hy is ook besorg daaroor dat ­handelsvennote van Suid-Afrika anders behandel word. Dit gaan 'n impak op sy mededingendheid in Amerika hê en veroorsaak dat sy produkte in die Amerikaanse mark vervang word met die lande wat vrystelling gekry het.

Davies sê die maatstawwe oortree die belangrike beginsels van die Wêreldhandelsorganisasie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!