SA uitvoere styg
SA uitvoere styg

SA uitvoere styg

Suid-Afrika het in Julie die sesde maand op ’n streep ’n handelsoorskot aangeteken.
Die Suid-Afrikaanse handelsoorskot – dus hoeveel meer die land uit- as invoer – het R8,99 miljard beloop, het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bekend gemaak. Die aangepaste oorskot vir Junie is R10,67 miljard, effens laer as die aanvanklike syfer.

Dit bring die oorskot vir die jaar tot op hede op R36,63 miljard te staan. In die eerste sewe maande van 2016 het Suid-Afrika ’n handelstekort van R4,7 miljard gehad.

In Julie was uitvoer R93,09 miljard en invoer R84,1 miljard. Uitvoer het met 2,7% gestyg vergeleke met ’n jaar gelede, terwyl invoer met 6,8% gedaal het.

Vooruitsig vir rentekoers

Nedbank verwag dat die Reserwebank die rentekoers in September weer gaan verlaag.

Daarna sal die Reserwebank dalk eers wag en kyk wat die uitwerking van die kredietgradeerders se besluit oor staatskuld en die ANC se leierskonferensie in Desember op die rand is. “Indien daar geen wisselkoersskokke in Desember is nie, kan nog rentekoersverlagings vroeg in 2018 verwag word.”

In Julie 2016 het Suid-Afrika ’n oorskot van net R0,41 miljard gehad.

Die grootste rede vir die groot daling in invoer is die laer invoer van minerale produkte soos olie.

Isaac Matshego en Dennis Dykes van Nedbank se ekonomiese eenheid verwag dat uitvoer ondersteun sal word deur sterker wêreldwye vraag en hoër hulpbronpryse vanjaar. Die volume van uitvoer bly egter onder druk. Enige terugslag in die wêreldekonomie of in plaaslike produksie sal die uitvoerprentjie laat verswak.

Volgens Kamilla Kaplan, Investec-ekonoom, het die wêreldwye aankoopbestuurdersindeks (PMI) vir nuwe bestellings in Julie die twaalfde agtereenvolgende maand gestyg en die Wêreldhandelsorganisasie is optimisties dat wêreldhandel in die derde kwartaal verder sal verbeter.

Kaplan sê Suid-Afrika se handelsbalans, en dus ook die balans op die lopende rekening (die breedste maatstaf van die in- en uitvloei van geld), sal na verwagting vir die res van die jaar effens positief bly.

Die vooruitsig vir invoer het effens verbeter omdat huishoudings ’n bietjie meer geld in hul sak het danksy laer inflasiekoerse en die effense verlaging in die rentekoers in Julie. Die plaaslike ekonomie bly egter steeds onder erge druk.

Die handelsoorskot is een van die redes waarom die rand die laaste ruk betreklik stabiel was. Dit het verlede week (28 Aug tot 1 Sept) selfs tot onder R13 per dollar beweeg. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!