SA vakbonde steun boikot teen winkelreus
Vakbonde in die buurland het nou hul stemme by die wekroep op verbruikersteenstand gevoeg.
Augetto Graig
Suid-Afrikaanse vakbonde het ook nou tot die stryd teen die winkelreus Shoprite toegetree.
Dít volg ná Namibiese vakbonde Donderdag teen Shoprite se uitbuiting en regsaksie teen sy werknemers betoog het.
Die metaalwerkersvakbond van Suid-Afrika (Numsa) sê in 'n verklaring: “Shoprite is 'n maatskappy wat misbruik, en waarvan die sukses afhanklik is van die buitensporige uitbuiting van arbeid.”
Die vakbond het 'n beroep op die werkersklas gedoen om alle Shoprite-winkels te boikot.
Volgens Numsa behandel Shoprite sy werkers soos slawe en selfs in Suid-Afrika, waar die kettingwinkelgroep sy oorsprong het, verdien die maatskappy sy swak reputasie as werkgewer.
Oraloor die vasteland is Shoprite berug ná voorvalle soos byvoorbeeld dié in Zambië in 2013 toe die regering eers moes dreig om die winkelgroep te sluit, voor salarisse met 34% verhoog is, sê Numsa.
Intussen het Shoprite Namibië sy hoërhofeis van meer as N$4,5 miljoen teen 93 werkers laat vaar.
Dié eis was vir skadevergoeding, 'n verlies aan wins, asook vir die maatskappy se regskoste verbonde aan die lang, uitgerekte dissiplinêre proses ná stakings in 2015.
Interne dissiplinêre verhore teen die werkers sal egter voortduur en die uitkoms hiervan word in die komende weke verwag.
“Die Shoprite-groep huldig al lank die standpunt dat alle werkers op redelike en ordentlike werksomstandighede geregtig is.
“Ons het altyd 'n poging aangewend om wat ons eie werknemers betref, te fokus op die beginsels van regverdigheid en respek in ooreenstemming met die bepalings van bestaande arbeidswetgewing,” het die winkelreus in 'n vroeëre verklaring gesê.
Me. Uno Katjipuka, die menseregteprokureur wat die werkers in die dissiplinêre verhore verteenwoordig, het die terugtrek van die eis bevestig.
“Dit is (teruggetrek), maar sover dit ons aangaan, is dit nie genoeg nie.
“Hulle moet ook die dissiplinêre verrigtinge stop. Van wat ek verstaan, fokus hulle op die 'onwettigheid van die staking', terwyl hulle hul eie onwettige aksies ignoreer, soos die eensydige oplegging van salarisverhogings,” het sy gesê.
Nieregeringsorganisasies, plaaslike jeugbewegings en selfs hoë amptenare van Namibië se ministerie van arbeid het Donderdag voor Shoprite se deure in Onafhanklikheidsrylaan in Windhoek se middestad betoog.
Betogers het op die laat vaarding van die eis én die dissiplinêre proses aangedring.
Die organiseerders van die betoging is ná die terugtrekking van die eis steeds ontevrede.
Volgens mnr. Nixon Marcus van die Sentrum vir die Mense se Weerstand (CPR) is die stryd nog lank nie verby nie.
Marcus, eienaar van die regsfirma waarvoor Katjipuka werk, sê Shoprite se verklaring is onwaar dat Namibiese howe hulle die reg om te eis reeds in November 2015 gegee het.
“Eerstens word hofbevele vir koste weens die verlies van verkope en vir skade nooit toegestaan nie; nie in dié land en in ons howe nie,” het hy gesê.
“Dit is hoekom hulle in die eerste plek die aksie om hul koste te verhaal teen die werkers ingestel het.”
Hy sê ná Shoprite die arbeidshof al in Desember 2014 genader het om hul koste te verhaal, het die hof in September 2015 nie net die aansoek afgekeur nie, maar ook spesiale koste aan Shoprite toegeken weens die manier waarop Shoprite hul verliese wou herwin.
Marcus aanvaar ook nie dat Shoprite in Namibië behoorlike werksomstandighede vir sy werkers ernstig opneem nie, weens die hofsaak in 2017 waarna Shoprite hul beleid moes skrap dat werkers se name en toiletbesoeke aangeteken moet word.
Hy het ook gesê Shoprite oortree die Namibiese arbeidswet voortdurend – in teenstelling met hul verklaring dat die maatskappy die huidige arbeidswet gehoorsaam.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie