SA vegters geen helde
SA vegters geen helde

SA vegters geen helde

Die staatshoof sê die Lubango-ondersoek is nie goed vir nasiebou nie.
Augetto Graig
Augetto Graig



Wanneer die president van Namibië, dr. Hage Geingob, sê niemand moet uitgesluit word van Heldedagvieringe nie, maak hy nie voorsiening vir voormalige gebiedsmaglede van Suidwes-Afrika (SWATF) nie. Ook nie vir Koevoet-vegters of die oorlewende slagoffers van die Lubango-kerkers nie.

Die afgelope naweek het pres. Geingob tydens die viering van Heldedag op Oshakati uitdruklik gesê diegene wat destyds teen Swapo geveg het, sal nooit deur die Namibiese regering as oorlogsveterane beskou word nie.

“Ons sal nooit daarvan oortuig kan word dat die eise van voormalige Koevoet-soldate om as oorlogveterane erken te word, opbouend is nie. Hulle is betaal deur diegene wat hulle gehuur het en sal nie vergoeding van die regering ontvang nie,” het die staatspresident gesê.

“Net so sal ons nooit oortuig wees daarvan dat die selektiewe versoeke om die sogenaamde Swapo-kerkers weer oop te maak, ten gunste van nasiebou is nie. Die beleid van nasionale versoening is daar om 'n rede. Om te probeer om daardie pynlike hoofstuk selektief oop te maak, sal 'n vloedgolf van woede ontketen,” sê Geingob.

“My geloof in die behoefte aan die eenheid van ons volk is so sterk soos my liefde vir hierdie volk. Hierdie liefde verander in pyn wanneer ek klanke, woorde en dade van verdeling sien, hoor en voel. Ons sê nié meer nie. Ons sê nóóit weer nie. Nie weer oseane van angs, riviere van bloed of poele van trane nie,” sê hy.

Hy gaan voort: “Daar is 'n ontstellende tendens van onvoorspelbare en valse openbare verklarings wat in Namibië posvat. Hierdie tendens is in teenstelling met Een Namibië, Een Nasie.”

Volgens die president lyk dit of Namibiërs begin aanvaar dat dit normaal is om ander te belaster en af te breek.

Hy sê dit lyk of die neiging as normaal beskou word om konflik te veroorsaak deur die kombers-amnestie, wat op beide die Suid-Afrikaanse magte en Swapo toegepas is, te ignoreer.

“Hierdie amnestie het aanleiding gegee tot 'n wapenstilstand tussen Swapo-vegters en apartheid-Suid-Afrika se magte om die vrede te fasiliteer wat ons vandag geniet. Dit is die grondslag van die beleid van nasionale versoening. Die wonde van die stryd sal nooit weggaan nie - ons het bloot geleer om daarmee saam te leef. Ons het geleer om met mekaar saam te leef - ongeag die rolle wat in die stryd gespeel is,” sê hy.

Verlede maand het die dagblad New Era berig sowat 3 885 voormalige SWATF- en Koevoet-soldate ly aan geestesgesondheidsprobleme, posttraumatiese stres, blindheid en gestremdheid, en sowat 10 000 is in armoede gedompel.

In Mei het die menseregtevegter mnr. Phil ya Nangolo die Lubango-kwessie weer geopper toe hy 'n versoekskrif na die Lutherse Wêreldfederasie gestuur het om verskoning vir hul goedkeuring van die gebeure te eis.

Meer onlangs het me. Bience Gawanas, die voormalige ombudsvrou, 'n openbare beroep gedoen op 'n geregtelike ondersoek na die marteling, gevangenisskap en moorde van Swapo-lede wat beskuldig is van spioenasie vir die apartheidsregering.

Gawanas, wat self dié gebeure oorleef het, het aan 'n plaaslike weekblad gesê: “Baie mense sal sê moenie ou wonde oopkrap nie. Die vraag is: Het hierdie wonde ooit genees? Die wonde kan net genees as die probleme wat hulle veroorsaak het, aangespreek word.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!