SA vlieu00ebniers wyk uit oorsee
SA vlieu00ebniers wyk uit oorsee

SA vlieëniers wyk uit oorsee

Jo-Mare Duddy Booysen
Tot 60 Suid-Afrikaanse vlieëniers het die afgelope 12 maande by buite­landse lugdienste gaan werk, sê Jimmy Conroy, voorsitter van die SAL-­vlieëniersvereniging, luidens ''n berig van Timeslive.co.za.

Die meeste van hulle het poste by Midde-­Oosterse lugdienste soos Emirates, Etihad en Qatar Airways aanvaar.

Conroy meen die plaaslike lugdiensbedryf kan nog ''n groot klomp vlieëniers verloor weens ''n groeiende internasionale vraag.

“Die SAL verloor gewoonlik tussen 15 en 25 vlieëniers per jaar. Onlangse negatiewe publisiteit tesame met vyandigheid vanuit sekere oorde het sommige vlieë­niers by die SAL genoop om hul loopbaanopsies te herevalueer,” het Conroy in ''n verklaring gesê.

Dudu Myeni, voorsitter van die SAL, het vroeër luidens berigte gesê die staatslugdiens se vlieëniers word onbekostigbare en buitensporige salarisse betaal.

Bloomberg het onlangs berig Chinese lugdienste moet weens groeiende vraag na lugreise vir die volgende 20 jaar byna 100 vlieëniers per week in diens neem. Lugdienste in Noord-Amerika, Europa en in die res van Afrika het ook vakatures om te vul.

Volgens Conroy is Suid-Afrikaanse vlieë­nierslisensies onlangs deur die Chinese lugvaartowerhede erken, “wat die mark vir ervare Suid-Afrikaanse lugdiensvlieë­niers verder oopmaak”.

Die lugvaartkonsultant AirInsight raam daar is tans 281 000 handelsvlieëniers in die wêreld, maar die vraag kan teen 2034 tot 428 988 toeneem.

Die getal Chinese kommersiële vliegtuie het in die afgelope tien jaar meer as verdriedubbel tot 2 650, volgens ''n lugvaartbedryfverslag. Sommige van die Chinese lugdienste betaal dus goeie salarisse, tot soveel as 50% meer as wat sommige senior vlieëniers in Amerika verdien.

Volgens Conroy gaan die krimpende poel ervare of toekomstige vlieëniers die mededinging onder internasionale lugdienste­ verhoog om die beste en vaardigste vlieëniers te werf. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer