• Tuisblad
  • Sake
  • SA wankel op rand van afgrond, waarsku Rupert
SA wankel op rand van afgrond, waarsku Rupert
SA wankel op rand van afgrond, waarsku Rupert

SA wankel op rand van afgrond, waarsku Rupert

Die voorsitter van Remgro sê hy is geskok oor wat by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aan die lig kom.
Nellie Brand-Jonker - Mense besef nie hoe naby Suid-Afrika aan 'n Zimbabwe-­Argentinië-Venezuela-tipe situasie is nie, waarsku Johann Rupert, voorsitter van Remgro.

Hy het Donderdag op Remgro se jaarvergadering gesê dit bekommer hom omdat mense blykbaar nie besef “in watter moeilikheid ons is nie”.

“Die meeste mense met wie ek praat glo Amerika gaan teen 2020 in 'n ­resessie wees. Pres. Donald Trump is vasbeslote om oral handelsoorloë te voer.

“Dit is vreesaanjaend soortgelyk aan die laat 1920's. Fascisme neem toe, ­populisme neem toe, ­ekstremiste word verkies en gematigde mense word stilgemaak.”

Terselfdertyd, sê hy, blyk dit nou staatskaping in Suid-Afrika is erger as wat hy gedink het dit is.

“Vier jaar gelede het ek hier in Suid-Afrika vir Hemingway aangehaal en gesê – 'Hoe raak jy bankrot: stadig, stadig, stadig en dan skielik'. Ek is berispe omdat ek gesê het ons is rot en kaal besteel vir radikale ekonomiese transformasie.”

Rupert sê hy is geskok oor wat by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aan die lig kom. “En ek het geweet dit was erg.”

Rupert het twee jaar gelede op die jaarvergadering gesê hy word as teiken gebruik om die aandag van staatskaping weg te lei.

Hy verwys na Eskom se skuld van meer as R400 miljard en die probleme by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).



PARLEMENTARIëRS

“Begin die dinge bymekaartel. Ons het werklike probleme. Maar wat doen ons? Kyk hoe gedra mense hulself in die parlement.

“Dit is asof hulle (die parlementa­riërs) nie verstaan hoe naby ons is – as ons nie almal saamkom en saamwerk nie – aan 'n Zimbabwe-Argentinië-­Venezuela-tipe situasie.

“Ek sê nie dit gaan gebeur nie, maar dis die goed waaroor julle bekommerd moet wees,” het hy aan aandeel­houers gesê.

Hy meen beleggers moet meer bekommerd wees oor watter maatskappye gaan oorleef as oor dinge soos die diskonto waarteen Remgro se aandeelprys tot sy netto batewaarde verhandel (waaroor hy uitgevra is). “Want glo my, as alle hel losbars gaan jy bekommerd wees oor watter maatskappye gaan oorleef.”

Hy het gevra dat strestoetse op Remgro se maatskappye uitgevoer word. “Kyk wat gebeur in Zimbabwe en Venezuela en elke nou en dan in Argentinië en strestoets jou onderneming en kyk of jy gaan oorleef.”

Shane Watkins, uitvoerende hoof van die batebestuurder All Weather Capital, wou weet waar Remgro geleenthede sien om sy potensiële R15 miljard in kontant te belê wat twee jaar gelede met 'n regte-uitgifte ingesamel is, en die geld wat hy vir sy belang in Unilever gekry het.

Rupert het verwys na die algemeen aanvaarde wysheid dat 'n belegging in eiendom oor die ligging daarvan gaan, en gesê hier gaan dit nie oor ligging nie, maar oor tydsberekening.

“Daar is tans te veel goedkoop kapitaal wat geleenthede najaag. Wees gerus, die geld sal gebruik word. Ons sal gereed wees as die tyd reg is.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!