SA wil Suid-Soedan help soek na olie
SA wil Suid-Soedan help soek na olie

SA wil Suid-Soedan help soek na olie

Die buurland het al in 2018 ingestem om sowat R14,5 miljard in Suid-Soedan se energie-infrastruktuur te belê.
Francois Williams – Suid-Afrika se Strategiese Brandstoffonds (SFF) gaan olie in Suid-Soedan help soek, blyk uit ’n mediaverklaring wat die regering van Suid-Soedan Maandag uitgereik het.

Hiervolgens gaan die brandstoffonds, ’n filiaal van die staatsbeheerde Sentrale Energiefonds, Blok B2 in Suid-Soedan besit en bedryf.

Suid-Afrika het al in 2018 ingestem om $1 miljard sowat R14,5 miljard) in Suid-Soedan se energie-infrastruktuur te belê. Suid-Soedan het die derde meeste oliereserwes in Afrika suid van die Sahara, maar nog net 30% van die land is al deur eksplorasiewerk gedek, lui die verklaring wat namens die Suid-Soedannese ministerie van petroleum deur die APO Group uitgestuur is.

Twyfel bestaan egter nog oor die akkuraatheid van die mediaverklaring aangesien dit Godfrey Moagi aanhaal as waarnemende uitvoerende hoof van die SFF.

Moagi was in werklikheid tot Desember waarnemende uitvoerende hoof van die Sentrale Energiefonds, die SFF se beheergroep, maar hy is volgens berigte al in Desember vervang met Sakhiwo Makhanya as waarnemende hoof van die Sentrale Energiefonds.

Die huidige waarnemende hoof van die SFF, volgens sy webtuiste, is Thabane Zulu.

Zulu is eintlik die direkteur-generaal van energie, maar is deur die regering gesekondeer om tydelik by die SFF uit te help ná bestuursprobleme.

Dit is ook nie duidelik waarom dit die SFF sou wees wat eksplorasiewerk in Suid-Soedan wou doen nie, want die kundigheid oor eksplorasie lê eerder by PetroSA, die ander filiaal van die Sentrale Energiefonds.

Die SFF se bedrywighede is toegespits op die bestuur van die olie-opgaartenks by Saldanha, en dit is ook dié filiaal wat in Desember 2015 Suid-Afrika se strategiese olievoorraad verkoop het.

Suid-Afrika wil saam met Suid-Soedan werk om ’n olieraffinadery van 60 000 vate per dag te bou wat olieprodukte plaaslik kan versprei en dit na Ethiopië en ander buurlande uit te voer, lui die mediaverklaring.

Suid-Soedan het geskatte oliereserwes van sowat 3,5 miljard vate.

Die Strategiese Brandstoffonds, die Suid-Soedannese ministerie van petroleum en Nilepet - die staatsbeheerde oliemaatskappy van Suid-Soedan - sal die olie-eksplorasieblok Blok B2 bedryf. Dit is ingevolge ’n eksplorasie- en produksiedeelooreenkoms wat Maandag onderteken is.

Dit is maar nog net die tweede ooreenkoms van dié aard wat Suid-Soedan onderteken sedert die land in 2012 onafhanklik geword het van die groter Soedan noord van hom.

Die ooreenkoms sluit ’n eksplorasiefase van ses jaar in waarin die Strategiese Brandstoffonds en Nilepet ’n omvattende eksplorasieveldtog, die insameling van seismiese data en die boor van eksplorasiegate sal onderneem.

Jeff Radebe, minister van energie, sê die ooreenkoms bied Suid-Afrika ’n kans om sy energiesekerheid te verbeter.

Dit blyk Radebe was haastig om die ooreenkoms voor die verkiesing Woensdag te sluit.

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, sê hy is agterdogtig oor Radebe se haas om die transaksie te beklink so kort voor die verkiesing.

Dit kom ná berigte die naweek dat Radebe glo by Ezekiel Gatkuoth, Suid-Soedan se minister van petroleum, gesmeek het om die ondertekening van die ooreenkoms te versnel.

Dit kom glo ondanks kundiges wat waarsku dat Brent-ruolie van Suid-Soedan nie geskik is om by Suid-Afrikaanse raffinaderye te verwerk nie.

Mileham sê hy gaan aan Radebe en aan die nasionale tesourie skryf om te vra waarom die haas oor die ooreenkoms wanneer ’n lewensvatbaarheidstudie nog nie eens deur die tesourie, die Sentrale Energiefonds of die SFF gedoen is nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!