SA wynbedryf voer minder uit, maar verdien meer
Nellie Brand-Jonker – Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het verlede jaar, ondanks minder wyn wat uitgevoer is, meer vir die wyn verdien wat wel uitgevoer is.
Die bedryfsliggaam Wines of South Africa (Wosa) is bly oor die styging van 4% in die waarde van die uitvoer tot R9 miljard.
Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wosa, glo dit toon die positiewe sentiment teenoor Suid-Afrikaanse wyn in internasionale markte omdat dit gebeur het terwyl die uitvoervolume gedaal het.
Suid-Afrika se uitvoer in liter het met 6% tot 420,2 miljoen liter gedaal.
Wosa sê die daling hou verband met die droogte in die Wes-Kaap en die impak daarvan op die wynvoorraad.
Thompson het nie in die verklaring uitgewei oor die invloed wat die wisselkoersverskille van die rand met die pond en die euro op die waarde van die uitvoer gehad het nie.
Maryna Calow, kommunikasiebestuurder, het per e-pos gesê Wosa glo nie die wisselkoers was die rede vir die styging in die waarde van die uitvoer nie omdat die volume gedaal het.
“As jy kyk na die wisselkoers op ’n jaargrondslag is daar nie ’n enorme verskil nie.”
’n Swakker rand behoort die waarde van die uitvoer ’n hupstoot te gee.
Paul Muller, tesouriebestuurder van Peregrine Treasury Solutions, sê die wisselkoers van die rand teenoor die euro was verlede jaar gemiddeld 3,7% swakker op R15,59 vergeleke met die vorige jaar. Die wisselkoers van die rand teenoor die pond was gemiddeld 2,8% swakker op R17,63 in 2018.
“Die rand het in 2018 effens teenoor die euro sowel as die pond verswak, wat beteken as alles anders dieselfde gebly het, sou uitvoerders ’n styging van 3,7% in randwaarde ontvang vir hul verkope in euro en ’n styging van 2,8% in rand vir die verkope in pond.
Muller sê ook die voordele wat uit die swakker rand getrek is, sou groter kon wees as verskansing teen die wisselkoers en die tydsberekening van die transaksie goed bestuur is.
“Die twee ander faktore wat ’n invloed op die inkomste uit uitvoer sou gehad het, is die pryse waarteen die wyn verkoop is en die volume wat verkoop is. Indien die pryse gestyg het én die rand verswak het, sou die impak groter wees.”
Wosa het nie inligting gegee oor die pryse van Suid-Afrikaanse wyn op die winkelrakke oorsee nie. Dit is wel bekend dat die plaaslike wynbedryf al jare lank sukkel om sy beeld oorsee van “vrolike en goedkoop” wyn te verander.
Die waarde van uitgevoerde grootmaatwyn het baie vinniger (7%) as dié van verpakte wyn (3%) gestyg, wat daarop dui dat dit moontlik hoër pryse is vir wyn in grootmaat – wat onder ander handelsname oorsee verkoop word as Suid-Afrika se bekende handelsname – wat die totale waarde gelig het.
Dawie Maree van FNB Landbou sê omdat die meeste van die wyn vir die Britse en Europese markte bestem is, is die prestasie van die rand teenoor dié geldeenhede belangrik.
“Die verswakking van die wisselkoers van die rand is hoofsaaklik die oorsaak vir die 4%-styging in die waarde van die uitvoer.”
Hy sê dit is beslis die geval dat die swakker rand die waarde van die uitvoer opgestoot het.
“Die uitvoer van landbouprodukte presteer in die algemeen beter in ’n swakker-rand-omgewing.”
Die waarde van die uitvoer na die belangrikste Britse mark – waarheen ’n kwart van Suid-Afrika se wyn uitgevoer word – het met 5% gestyg. Dit hou verband met die uitvoer van grootmaatwyn, want die waarde van die verpakte wyn wat uitgevoer is, was onveranderd.
Brittanje bly die grootste mark vir Suid-Afrika en die waarde van die wynuitvoer daarheen het R1,8 miljard beloop.
Duitsland is die tweede grootste uitvoerland vir Suid-Afrikaanse wyn en die uitvoer daarheen het R1,3 miljard beloop. Nederland is die derde grootste mark, maar die uitvoer daarheen het net R693 miljoenbeloop.
Afrika is ’n ligpunt as ’n mens in ag neem dat die uitvoer na alle Afrika-lande kort op Nederland se hakke is met R608 miljoen – ’n styging van 16%. Dit is veral die uitvoer na Kenia, Tanzanië en Zambië wat die totaal gelig het omdat die waarde van uitvoer daarheen met onderskeidelik 73%, 35% en 33% gestyg het.
Daarteenoor het die waarde van die wynuitvoer na nog ’n belangrike mark, Amerika – wat Suid-Afrika al vir jare probeer ontgin – met 15% tot R545 miljoen gedaal.
Die grootste volume rooiwyn wat uitgevoer word, is shiraz en die meeste witwyn is chenin blanc. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie