SAA-staking: Air Nam kan nie groter vliegtuig inspan
SAA-staking: Air Nam kan nie groter vliegtuig inspan

SAA-staking: Air Nam kan nie groter vliegtuig inspan

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Air Namibia sal passasiers van South African Airways (SAA) wat vandag en môre op die gekanselleerde vlugte uit Johannesburg na Windhoek sou vlieg, op sy bestaande vlugte akkommodeer indien daar plek is.

Die nasionale redery is egter nie by magte om die volgende twee dae 'n groter vliegtuig op die Windhoek-Johannesburg-roete te ontplooi om méér van die gestrande SAA-passasiers te help nie.

Mnr. Wimpie van Vuuren, waarnemende hoofbestuurder van kommersiële aangeleenthede by Air Namibia, sê een van die twee Airbus A330's in sy vloot ondergaan tans 'n diens en sal tot 30 November nie beskikbaar wees nie.

“Die oorblywende Airbus A330 vlieg nou alleen op die Windhoek-Frankfurt-roete,” het hy gister by navraag oor die verwagte impak van die gekanselleerde SAA-vlugte op passasiers se reisplanne na Namibië gesê.

SAA het twee vlugte daagliks uit Johannesburg na Windhoek. Dié redery het alle vlugte wat vir vandag en môre geskeduleer was, gekanselleer.

Dit is aangesien sowat 3 000 lede van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa), en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging beoog om van vandag af te staak.

Die staking sluit ook SAA se tegniese afdeling in en raak dus ook die instandhouding van vliegtuie van onder meer British Airways en Kulula.

Comair bedryf British Airways se vlug op die Windhoek-roete met een vlug daagliks uit Johannesburg.

Intussen het mnr. Twaku Kayofa, openbare kommunikasiebeampte by Air Namibia, gister aan Republikein gesê Air Namibia het die nodige dokumentasie betyds vir vandag se sperdatum aan die Vervoerkommissie van Namibië voorgelê.

Dié statutêre liggaam het ingevolge die Lugdienswet, wet 51 van 1949, geëis die nasionale redery moet die versekering gee dat hy, ondanks sy benarde finansiële posisie, nie sekuriteit in die gedrang bring of lugvaartwette verontagsaam nie.

Indien die Vervoerkommissie nie tevrede is met wat aan hom voorgelê is nie, het hy die mag om die nasionale redery se lugdienslisensie op te skort sodat geen vlugte onderneem kan word nie.

Kayofa sê Air Namibia is vol vertroue hy sal sy lugdienslisensie behou en sal met sy geskeduleerde vlugte kan voortgaan.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!