Saak teen aanstel van Meatco-baas nié dringend
Produsente sal waarskynlik nie deur middel van die hof die huidige Meatco-raad kan keer om 'n permanente uitvoerende hoof aan te stel nie.
Elvira Hattingh
Die Windhoekse-hoërhof het beslis Meatco-produsente se poging om te keer dat die huidige Meatco-raad 'n permanente uitvoerende hoof aanstel - kort voor hul termyn verstryk - is nié dringend nie.
Regter Orben Sibeya het in 'n uitspraak Vrydag beveel dat dié saak op grond van 'n gebrek aan dringendheid van die rol geskrap word, alhoewel daar nie 'n oordeel oor die meriete hiervan gefel is nie.
Die Meatco-produsente mnre. Helmut Halenke, Wilhelm Diekmann en Henning Treager het verlede week 'n dringende aansoek by die hof ingedien om te probeer keer dat so 'n aanstelling plaasvind voor die huidige raad se termyn op 15 Februarie 2020 verstryk.
Hulle wou 'n tussentydse interdik teen die raad vir die toepassing van afdeling 12 van die Meatco-wet hê.
Die produsente het betoog die hoërhof het boonop sowat 'n jaar gelede beslis die huidige raad se aanstelling was onwettig. Daarna het die raad 'n appèl by die hooggeregshof ingedien, maar dié saak is steeds hangend.
APPLIKANTE
“Dit is duidelik dat die huidige raad vasberade is om seker te maak 'n permanente uitvoerende hoof van hul voorkeur en skynbaar vanuit hul eie range word in die finale stadiums van hul onwettige termyn aangestel,” het die produsente se regsverteenwoordiger, adv. Raymond Heathcote, betoog.
“Dit sal Meatco en die nuwe raad deur 'n kontrak vir vyf jaar lank met 'n uitvoerende hoof bind, terwyl die hele proses onwettig mag wees.”
Die applikante beweer op die kortlys is vyf kandidate se name, naamlik mnre. Angus Claassen, André Mouton, Mushokonanji Mwilima, Ferdinand Gariseb en me. Lorna Kavare.
Die produsente sê hulle betwyfel nie die bevoegdheid van dié kandidate vir die pos nie, maar probeer voorkom dat 'n onwettige aanstelling gemaak word wat verdere regsaksie tot gevolg kan hê.
Hulle wil eerder hê dat die nuwe raad die aanstelling doen.
Die produsente sê ook daar is geen haas vir die aanstelling nie, aangesien 'n waarnemende een in Oktober vanjaar aangestel is en die raad in elk geval nie 'n permanente aanstelling in die afgelope drie jaar gemaak het nie.
Die Meatco-raad se visevoorsitter, mnr. Ronald Kubas, het egter betoog die produsente se saak is nié dringend nie omdat hulle lankal van die beplande aanstelling weet.
Kubas sê dié saak is reeds sedert Desember 2018 op hul agenda.
Dit is ook by Meatco se jaarvergadering hanteer en in die vleisreus se nuusbriewe aangekondig.
Kubas het verder gesê sou die hof 'n tussentydse interdik teen die uitvoer van afdeling 12 van die Meatco-wet toestaan, geld dit vir al tien subklousules daarin. Dit behels dat die raad ook nie 'n waarnemende hoof kan aanstel nie.
“Die versoek is onredelik. Dit kom neer op 'n totale verlamming van Meatco se statutêre mandaat. Eenvoudig gestel: Dit is onwettig,” het Kubas in 'n eedsverklaring gesê.
Hy het verder gesê die hooggeregshof het nog nie beslis oor die wettigheid van die huidige raad nie. Dit beteken tot daar uitsluitsel in die appèlsaak is, word die toepassing van die hoërhofuitspraak opgeskort.
Kubas het ontken dat die huidige raad as 'n nalatenskap probeer om Meatco met sy besluit te bind. Hy het bygevoeg dit is onredelik om te verwag 'n sittende raad mag nie strategiese besluite neem nie, alhoewel hulle dié saak reeds vir maande lank aktief dryf. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie