Saak teen Hem Matsi uitgestel vir AG-besluit
Saak teen Hem Matsi uitgestel vir AG-besluit

Saak teen Hem Matsi uitgestel vir AG-besluit

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Die aanklaer-generaal moet nog ’n besluit neem oor die saak waarin die plaaslike modeontwerper, Hambeleleni (Hem) Matsi, van bedrog aangekla word.
Nampa berig dat die bekende ontwerper verlede Dinsdag in die Windhoekse landdroshof voor landdros Ilge Rheent verskyn het, waarna haar saak tot 15 Junie uitgestel is sodat die kantoor van die aanklaer-generaal kan besluit of sy vervolg gaan word. Hierdie is die finale uitstel.
Dit volg op ’n ooreenkoms wat vroeër tussen staatsaanklaer Ivan Tjizu en Matsi se private prokureur, mnr. Willem Visser, in die hof bereik is.
Matsi is aangekla van bedrog en dwarsboming van die gereg. Sy het na bewering met onbekende mense gereël om haar motor aan die brand te steek sodat sy glo versekeringsgeld van N$75 000 kon eis.
Sy is in Desember 2014 in hegtenis geneem en toe op borgtog van N$5 000 vrygelaat. Sy het reeds onskuldig gepleit tydens haar tweede verskyning in die hof in Oktober 2015. Sy het nie die grondslag van haar verdediging bekend gemaak nie.
Matsi is ’n modeontwerper en mediese tegnoloog.
Sy het in 2012 ’n eretoekenning vir innoverende modeontwerp by Global Woman van Ghana ontvang vir haar bydrae tot die geveg teen geslagsgeweld. In 2013 is sy genomineer om Namibië op die Verenigde Nasies se Streekkreatiewe­ Kunsraad tot 2015 te verteenwoordig en verskeie van haar sosiale projekte het voorheen steun van UN Women, UNDP and UN Vigs geniet.
Sy het ook ’n organisasie Victims to Survivors gestig om hulp aan slagoffers van huishoudelike of geslagsgeweld te verleen.
Terwyl sy mediese tegnologie aan ’n Kaapse tegnikon bestudeer het, het sy reeds met modeontwerpe begin eksperimenteer. Sy besit haar eie klerereeks Hemline Fashions en van haar kliënte sluit oudpresident, Hifikepunye Pohamba, in. Sy het vir hom ’n pak vir sy 75ste verjaardag ontwerp.
Plaaslik is sy veral bekend vir haar stryd teen geslagsgeweld en as deel van haar veldtogte het sy Brandberg saam met verskeie vrywilligers uitgeklim om bewustheid oor die kwessie te kweek.
(Eie berig en Nampa)

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer