Saara sê oor kerke
Denver Kisting – In dié stadium is dit belangrik om nie Namibië se Covid-19-suksesse ongedaan te maak nie.
So sê die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila.
Haar opmerkings kom ná ’n vergadering met kerkleiers verlede Vrydag om die toekoms van dié instellings te bespreek te midde van pogings om die verdere verspreiding van die pandemie in Namibië te bestry.
Die eerste minister het Maandagaand aan Republikein gesê die regering volg ’n omsigtige benadering om aan te hou om Namibiërs se lewens te beskerm, terwyl beperkings geleidelik opgehef word om die ekonomie aan die gang te kry.
“Ingevolge die goedgekeurde stimuluspakket en die post-inperkingstrategie, sal steun steeds gebied word aan werknemers en werkgewers wat daarvoor in aanmerking kom.”
Die sekretaris-generaal van die Raad van Kerke in Namibië (CCN), mnr. Ludwig Beukes, het egter Maandag gesê omdat kerke nie besighede is nie, kom hulle nie in aanmerking vir die noodpakkette nie.
Volgens hom het kerke se inkomste die afgelope twee maande met nagenoeg 50% getuimel vanweë die maatreëls om die pandemie hok te slaan.
Geen kerkbyeenkomste word die afgelope bykans twee maande kragtens die noodtoestandregulasies toegelaat nie.
Volgens Kuugongelwa-Amadhila hou die regering die situasie tans fyn dop onder fase 2 van die noodtoestand.
Dié fase het op 5 Mei afgeskop en word gekenmerk met die geleidelike verslapping van sekere maatreëls. Dit sal na verwagting aan die einde van vandeesmaand ten einde loop.
Hoewel Namibiërs tans oral in die land mag reis en talle besighede weer oop is vir sake, is die dra van maskers in ’n openbare ruimte verpligtend.
Daarnaas word massavergaderings (meer as tien mense) steeds verbied en geen alkohol mag verkoop of gekoop word nie.
Kragtens die aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) moet ’n sosiale afstand van meer as ’n meter tussen mense steeds gehandhaaf word.
Afhangend van hoe die situasie onder fase 2 ontvou, sal die regering op geskikte aanpassings besluit aan die einde van dié tydperk, sê Kuugongelwa-Amadhila.
-[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie