Sacky, James 'kruip nie weg'
Sacky, James 'kruip nie weg'

Sacky, James 'kruip nie weg'

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die gewese minister van justisie, mnr. Sacky Shanghala, en die voormalige besturende direkteur van Investec Asset Management Namibia, mnr. James Hatuikulipi, sê hulle is nie voortvlugtend nie en is bereid om hulself aan die Teenkorrupsiekommissie (ACC) te oorhandig.

Hul prokureur, mnr. Appolos Shimakeleni, het gister 'n dringende brief aan die direkteur-generaal van die ACC, mnr. Paulus Noa, geskryf om vas te stel of mediaberigte waar is dat lasbriewe ook vir hul inhegtenisnemings uitgereik is.

Shimakeleni kon Sondag daarin slaag om saam met advokate Tinashe Chibwana en Eliaser Nekwaya 'n hofbevel te kry wat die onmiddellike vrylating van mnr. Bernhard Esau, die gewese minister van visserye en mariene hulpbronne, gelas het.

Esau is Saterdagmiddag saam met mnr. Ricardo Gustavo, wat in opvolg van die multimiljoen-korrupsie­skandaal in die visbedryf as senior bestuurder by Investec geskors is, by hul huise in hegtenis geneem.

Die ACC se plan was om ook vir Shanghala, Hatuikulipi, sy neef, mnr. Tamson “Fitty” Hatuikulipi, en mnr. Pius Natangwe Mwatelulo in hegtenis te neem. Laasgenoemde is na wat verneem word 'n familielid van Fitty, wat op sy beurt met Esau se dogter, Ndapandula, getroud is.

Die ACC ondersoek bewerings van korrupsie, geldwassery en bedrog wat verband hou met die toekenning van viskwotas aan Namgomar Pesca (Namibia) Pty Ltd, asook verskeie ander mense en entiteite in Namibië, Ciprus, Ysland, Angola, Noorweë, Mauritius en die Verenigde Arabiese Emirate.

Dit volg ná plaaslike en internasionale ondersoekende joernaliste vroeër die maand die laken afgeruk het oor die jare lange vermeende bedrogspul met die toekenning van viskwotas in ruil vir omkoopgeld.

Shimakeleni sê in sy brief aan Noa hy verteenwoordig nou nie net meer vir Esau nie, maar ook die ander vier na wie die ACC en polisie op soek is.

Hy wil weet of dit inderdaad so is dat lasbriewe vir hul inhegtenisneming uitgereik is.

Indien dit so is, sê hy, sal reëlings getref word dat hulle by die ACC se kantoor in Windhoek aanmeld.

“Ons kliënte het geen rede om weg te hardloop van enige klagte af nie, gesien die posisies wat hulle beklee en die bates wat hulle in Namibië besit.”

Hy versoek die ACC om dagvaardings uit te reik om in die hof te verskyn op watter datum ook al daarvoor beplan word.

Shimakeleni sê hy het mnr. Willem Olivier, senior ondersoekbeampte by die ACC, meegedeel Shanghala en (James) Hatuikulipi kruip nie weg nie en is bereid om hul samewerking te gee. Volgens hom was hulle reeds in Kaapstad “toe die mediaberigte oor die lasbriewe begin sirkuleer het”.

Volgens hom keer hulle vandag na Namibië terug.

Hy sê verder Fitty en Mwatelulo is in die land en voer aan geen ACC-beampte het hulle by hul huise of kantore gaan soek nie.

Noa het gistermiddag by navraag bevestig hy het die brief ontvang.

Volgens hom is daar “niks dringend” aan die saak nie en oorweging sal eers vandag of môre daaraan geskenk word ná die kwessie bespreek is.

Wat die volgende stap in terme van vervolging gaan wees, het hy gesê, gaan nie met joernaliste gedeel word om aan die algemene publiek bekend te maak nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!