SADC gaan troepe na Cabo Delgado stuur

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) gaan troepe na Cabo Delgado in die noorde van Mosambiek stuur waar militante Moslems se skrikbewind die laaste maande verdiep het.

Verskeie nuusmedia het hieroor berig nadat die veiligheidsgroepering Woensdagmiddag na afloop van die spesiale SADC-beraad met die Mosambiekse regering in Maputo vergader het. Die beraad is belê om die streek se reaksie op die veiligheidsituasie in Mosambiek te bespreek.

Die besluit om troepe in die geweldgeteisterde Cabo Delgado te ontplooi, is in die gesamentlike verklaring bekend gemaak.

Die SAOG-veiligheidsgroepering, ook bekend as troika, word deur Bo­tswana se pres. Mokgweetsi Masisi gelei. Die troika het in die verklaring 'n beroep op lidlande gedoen om te help met die humanitêre krisis in Cabo Delgado, die gas- en olieryke provinsie waar groot oliemaatskappye soos Total belange het.

Die Namibiese afvaardiging na die beraad is deur die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit gelei.

Lede van die Amerikaanse spesmagte-groep, die Groen Barette, is reeds in die gebied ontplooi, terwyl die Europese Unie (EU) volgens Reuters in Julie sal besluit of hy magte sal stuur om militêre opleiding aan Mosambiekse soldate te gee.

Dr. Stergomena Tax, uitvoerende sekretaris van SADC, sê die ingrypingsmag sal Mosambiek bystaan in die stryd teen terrorisme en gewelddadige ekstremisme in Cabo Delgado.

Sy het geen besonderhede gegee oor die sterkte van die mag of hoe lank dit ontplooi sou word nie.

Veiligheids- en militêre bronne sê terwyl die leiers vergader het, was daar gevegte in Palma naby die Afungi LNG-gasaanleg, het AFP gister berig.

Die aanval deur die ekstremiste is uit die lug bestry, het die veiligheidsbron gesê.

“Palma word sedert 21 Junie aangeval,” het die militêre bron, gesetel in 'n nabygeleë dorp, aan AFP gesê.

Mosambiek se pres. Filipe Nyusi het aanvanklik vasgeskop teen die betrokkenheid van 'n ingrypingsmag omdat hy bang was sy land sou sy soewereiniteit prysgee.

Nyusi het egter met die opening van die beraad gesê SADC moet Mosambiek se vernaamste vennoot in die stryd teen terrorisme in Cabo Delgado wees. Hy het dit benadruk die gewapende insurgensie bedreig die hele Suider-Afrika.

[email protected]


FOTO
Die Namibiese afvaardiging na die beraad is gelei deur dr. Albert Kawana, minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!