SADC moet voorberei op gru00f3u00f3t reu00ebn
SADC moet voorberei op gru00f3u00f3t reu00ebn

SADC moet voorberei op gróót reën

SARCOF-20 reik vroeë waarskuwingsbulletin uit
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - SADC-lande moet hulle voorberei op normale tot bo normale reënval tydens die 2016-’17 reënseisoen wat moontlik vloede tot gevolg kan hê.

Volgens ’n vroeë waarskuwingsbulletin vir die komende reënseisoen wat deur klimaatwetenskaplikes na afloop van die twintigste Suider-Afrikaanse Forum vir Streekklimaatvooruitsigte (SARCOF-20) uitgereik is, is vooruitsigte die teenoorgestelde as wat dit in 2015-’16 was.

“Wat die komende seisoen se voorspelling betref, behoort die grootste dele in die sentrale en noordelike Suider-Afrika normale tot bo normale reën te ontvang, terwyl die noordelike dele normale tot onder normale reënbuie kan verwag,” lui die bulletin.

Namibië tel ook onder die gedeelte wat normale tot bo normale reënval behoort te ontvang.

Tydens die forum wat vanaf 24 en 26 Augustus in Zimbabwe plaasgevind het, is verskeie klimaatsfaktore in ag geneem om ’n reënvooruitsig vir die SADC-streek op te stel. Terselfdertyd is maatreëls bespreek vir in geval dié reëns waterbronne, die energie-, kommunikasie- en landbou-sektor, voedselsekerheid en rampbestuur raak.

“Die grootste gedeeltes van SADC sal normale tot bo normale reën tussen Oktober tot Maart geniet, maar Tanzanië, die noorde van Mosambiek, die Seychelle, die ooste van Madagaskar asook die verre noordelike dele van die Kongo en Angola kan gemiddelde tot onder gemiddelde reënval verwag,” lui die bulletin.

“As gevolg van die lang droogte die afgelope jare, kan groot hoeveelhede reën egter probleme veroorsaak. Gevolglik moet SADC-lidlande voorbereid wees en hulle gereed maak vir die negatiewe gevolge van klimaatwisselinge,” het die kenners gewaarsku.

SADC-lande word aangeraai om van hierdie geleentheid gebruik te maak om meer gewasse te kweek. Meer grond moet bewerk word en gewasse moet geplant word wat in die middel of láát in die seisoen geoes kan word. Terselfdertyd moet ’n persentasie van bewerkbare grond ook afgestaan word aan gewasse wat vroeg geoes kan word en droogtebestand is. Die diversifisering van gewasse word ook aangemoedig.

Verskaffers en agente moet betyds, nog voor die aanvang van die reënseisoen, gereed staan met saad en kunsmis. Terselfdertyd sê die forum boere en agente moet hulle op peste en siekte onder gewasse en vee voorberei.

Waterreservoirs in Suider-Afrika moet ook gereed gemaak word om water te ontvang en moontlikhede vir besproeiing moet verbeter word.

Bergingsgeriewe wat reënwater opvang, moet ook opgeknap word sodat lande op moontlike droogte­tydperke tydens die reënseisoen voorbereid kan wees.

Verder sê die forum lande moet beheer neem van gemeenskappe wat naby of op vloedvlaktes woon, nasionale noodfondse op die been bring in geval van rampe, beplan vir wisselende kragtoevoer wat deur groot hoeveelhede reën veroorsaak kan word en seker maak dat die omgewing genoeg water kan absorbeer.

Die gesondheidsektor moet voorbereid wees op toestande en siektes wat deur vloede veroorsaak word en regerings moet alternatiewe bronne van skoon water verskaf in gevalle waar gemeenskappe nie meer toegang daartoe het nie.

Boonop behoort die komende seisoen ’n goeie geleentheid te bied waartydens ondergrondse water asook bronne soos damme aangevul kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!