SADC vra dat DRK-leiers skik
Minstens vier mense het reeds gesterf in geweld wat in die weste van die land uitgebreek het sedert die uitslag bekend geword het.
Llewellyn Prince
Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) versoek politieke leiers in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) om ’n onderhandelde politieke skikking vir ’n regering van nasionale eenheid ter wille van vrede en stabiliteit daar te oorweeg.
Edgar Lungu, die Zambiese president en voorsitter van die SADC se komitee oor politiek, verdediging en veiligheid, het dié versoek Sondag in ’n nuusverklaring aan belanghebbendes in die DRK gerig.
Die verklaring is Sondag plaaslik deur die Suid-Afrikaanse departement van internasionale verhoudinge en samewerking uitgereik.
Stabiliteit in die DRK word erg bedreig sedert Felix Tshisekedi, die leier van die grootste opposisieparty, die presidentsverkiesings van 30 Desember met sowat 37% van die stemme gewen het.
Minstens vier mense het reeds gesterf in geweld wat in die weste van die land uitgebreek het sedert die uitslag bekend geword het.
Intussen het Reuters Sondag berig dat hoewel Tshisekedi die presidensiële verkiesings gewen het, die regerende koalisie ’n meerderheid in die algemene verkiesing behaal het.
Joseph Kabila, wat reeds 18 jaar aan die bewind is, is die uittredende president van die regerende koalisie.
Dié uitslag sal dit moeilik maak vir Tshisekedi om die beloftes wat hy tydens sy verkiesingsveldtog gemaak het, na te kom.
BETWIS UITSLAG
Martin Fayulu, die naaswenner in die verkiesing, het Saterdag ook ’n klag by die hoogste hof in die land ingedien om die uitslag te betwis, het ’n veldtog-woordvoerder, Eve Bazaiba, aan Reuters gesê.
Fayulu beweer hy het meer as 60% van die stemme in die verkiesing gewen, en het Tshisekedi daarvan beskuldig dat hy met Kabila ’n ooreenkoms aangegaan het wat hom die wenner maak. Tshisekedi se kamp ontken dit.
Lungu het Sondag gesê belanghebbendes moet weens die sterk teenkanting teen die verkiesingsuitslae ’n politieke skikking oorweeg.
Volgens Lungu het hy met die SADC- en ander streekleiers, sowel as met Tshisekedi en ander rolspelers in en buite die DRK gepraat.
“Die SADC het die aandag van DRK-politici gevestig op soortgelyke reëlings wat hoogs suksesvol was in Suid-Afrika, Tanzanië, Zimbabwe en Kenia waar regerings van nasionale eenheid geskep is om die nodige stabiliteit en langdurige vrede te skep,” sê hy.
Lungu meen ’n regering van nasionale eenheid sal openbare vertroue verbeter, terwyl dit ook brûe sal bou en demokratiese staatsinstellings en verkiesingsprosesse vir ’n beter DRK sal versterk.
Die SADC glo ’n hertelling van die stemme sal ook die nodige herversekering aan almal verskaf. Die organisasie het ook politici in die DRK versoek het om nie op ’n wyse op te tree wat die spanning kan vererger nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie