SAu2019ers kan nie bekostig om nie te werk, te sterf
SAu2019ers kan nie bekostig om nie te werk, te sterf

SA’ers kan nie bekostig om nie te werk, te sterf

Elvira Wood – Die gemiddelde Suid-Afrikaanse gesin gaan sukkel om finansieel kop bo water te hou as die broodwinner in ’n huishouding sterf of ongeskik raak.

Dit is bloot omdat die gemiddelde Suid-Afrikaner R1 miljoen te min lewensdekking en R1,2 miljoen te min ongeskiktheidsdekking het.

Dit beteken die gemiddelde Suid-Afrikaner is onderverseker vir R2,2 miljoen.

Die totale versekeringstekort beloop R34 700 miljard vir Suid-Afrika se 15,6 miljoen mense wat ’n inkomste verdien.

Dit beteken talle huishoudings sal ná ’n geliefde se dood ’n gemiddelde ekstra inkomste van R5 362 elke maand moet vind en R6 475 as ’n broodwinner ongeskik raak.

“Wanneer die broodwinner ongeskik raak, is ’n huishouding nie net die persoon se inkomste kwyt nie, maar gaan uitgawes waarskynlik styg omdat ’n gestremde persoon dikwels bykomende sorg nodig het,” sê Francois Hugo van True South Actuaries & Consultants, wat aan die hoof van die peiling gestaan het.

Dit is die bevinding van die 2019 Life and Disability Insurance Gap Study wat Dinsdag deur die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa) in Sandton, Johannesburg uitgereik is.

“Huishoudings wat ná ’n tragedie nie in staat is om die bykomende inkomste te genereer om hul lewenspeil te handhaaf nie, moet hul uitgawes drasties sny,” sê Saks Ntombela, direksielid van Asisa.

Ntombela sê wat kommerwekkend is, is dat die tekort elke keer groter word wanneer Asisa die studie doen.

Asisa meet elke drie jaar die gaping tussen die lewens- en ongeskiktheidsdekking wat mense werklik nodig het en dít wat hulle het.

Die resultate van vanjaar se studie sluit nie 2019-statistieke in nie aangesien dit nog nie beskikbaar is nie.

Die navorsing kyk net na huishoudings se inkomstebehoeftes ná ’n tragedie. Dit is egter belangrik om te onthou wanneer ’n broodwinner ongeskik raak, die familie nie net ’n verlies aan inkomste het nie, maar ook ekstra mediese en ander onvoorsiene uitgawes het.

Die peiling wys dat om die versekeringsgaping te oorbrug, dit die gemiddelde verdiener ’n ekstra 4,6% van sy/haar netto maandelikse inkomste sal kos om voldoende lewensversekering te koop, en 2,6% per maand vir ongeskiktheidsdekking.

Dit beteken altesaam 7,2% van ’n verdiener se netto maandelikse inkomste gaan op versekering bestee moet word.

“Dit is ongetwyfeld ’n groot syfer,” sê Hugo.

Ntombela stem saam ’n addisionele 7,2% is “ekstreem”.

“Dit is egter minder ekstreem as die alternatief wanneer jy sonder daardie inkomste moet leef,” sê hy.

Op die vraag oor hoekom mense onderverseker is, sê Hugo dat wanneer daar na die hoërinkomstegroep gekyk word, is dit waarskynlik omdat mense nie behoorlik ingelig is en besef wat die uitwerking sal wees sou hulle hul inkomste verloor nie.

Hy sê dit kan ook wees dat mense nie bereid is om byvoorbeeld van “luukshede” ontslae te raak en geld op versekering te spandeer nie.

Navorsing só gedoen

Net mense met ’n behoefte aan lewens- en ongeskiktheidsdekking is in die navorsing ingesluit. Dit is dus mense van tussen 18 en 65 jaar wat ’n inkomste verdien.

Die gemiddelde inkomste van die mense wat aan die peiling deelgeneem het, is R600 000 per jaar.

Francois Hugo van True South Actuaries & Consultants, wat aan die hoof van die peiling gestaan het, sê dié groep val onder die rykste 3,1 miljoen Suid-Afrikaners.

“Inligting van verskeie ander bronne, waaronder Statistieke Suid-Afrika, is toe gebruik om die peiling se resultate uit te brei na al 15,6 miljoen van die land se inkomsteverdieners,” sê hy.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!