Safari-hotelgroep herdenk 50 jaar

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die Safari-hotel is vanjaar 50 jaar oud.
Die hotel het oor die jare ’n landmerk in die hoofstad geword.
Van ’n nederige begin as ’n motel met 48 kamers het die Safari uitgebrei tot twee hotelle, wat onder­skeidelik met ’n driester-­ en vierstergradering spog, met 415 kamers en on­geveer 900 beddens.
Die besturende direkteur van Safari Hotels Edms.Bpk, mnr. Johnnie Hamman jr., vertel sy pa, mnr. Johnnie Hamman sr., het as jong man uit Lichtenburg in Suid-Afrika­ na Namibië gekom waar hy as groepbestuurder vir Farmers Corporated Union (FCU) gewerk het. Dit was die voorloper van Agra.
Ná ’n meningsverskil, waartydens Hamman sr. van mening was dat die onderneming nie eerlik in sy behandeling van ’n matrone was met die verkoop van haar beeste nie, het hul paaie geskei.
“My ouers het nie geld gehad nie. ’n Goeie vriend van my pa was destyds die voorsitter van die Johannesburgse aandelebeurs en my pa het toestemming gekry om toebroodjies voor die aandelebeurs te verkoop. My ma en ons kinders het in Windhoek agtergebly. Met my pa se terugkeer het hy Johnnie Hamman en Kie begin en was hy betrokke by die koop en verhuring van plase. In 1965 het hy ’n stuk grond gekoop, wat 6,5 hektaar beslaan het en deur die munisipaliteit op tender uitgesit is, met die oog om ’n motel te bou.

Klein begin
Die Safari Motel het op 13 Julie 1966 sy deure geopen.
By die ingang was ’n Total-diensstasie en ’n drankwinkel geleë. Die motel het uit 48 kamers bestaan. Die D-blok van die motel het uit ron­dawels bestaan wat in drie segmente en ’n kommunale badkamer verdeel was. Daar was ook ’n woon­wapark op die perseel. Baie mense het vir lang tydperke hier gebly. Op die perseel was ook ’n “Pick-’n-Chicken / Dairy Den”-padkafee, ’n “putt put”-baan en die hoofgebou.
“Eros-lughawe se restaurant is ook deur die Safari bedryf. Die destydse Gourmet Inn het ook aan die Safari behoort, maar is later verkoop.
“Hierbenewens het die Safari vir 22 jaar die kontrak gehad om al die maaltye te voorsien wat op die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL) se vlugte van Windhoek af bedien is. By die ingang van die padkafee was ’n vlerk van ’n SAL-vliegtuig aan­gebring,” vertel Hamman.
Aanvanklik het Hamman sr. ’n vennoot gehad, ene mnr. Dixon, wat ’n boukontrakteur was, maar hy is later uitgekoop.

Uitbreidings
In 1972 het hulle meer kamers gebou, die E- en F-blokke, wat die totale aantal kamers op 100 te staan gebring het.
In 1982 is ’n gedeelte van die rondawels afgebreek en ’n verdere 100 kamers gebou.
Hamman sr. is op 6 Augustus 1983 oorlede. Teen daardie tyd het die motel 200 kamers gehad en as Suidwes-Safari Motels bekend gestaan.
In 1984 het daar ’n naamsverandering plaasgevind en het dit van toe af as Safari Hotels (Edms) Beperk bekend gestaan.
Op 1 Augustus 1987 het Johnnie Hamman jr., wat sy BA LLB-studies aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, na Namibië teruggekom en hom by die hotel aangesluit. Hy en mnr. Alfredo Pimenta was die gesamentlike besturende direkteure van die hotel tot Pimenta se aftrede in 2014.

Resolusie 435 en onafhanklikheid
In 1988 is begin met die bou van die Safari Court Hotel en Konferensiesentrum.
“Ons het op daardie tydstip nie besef die implementering van Resolusie 435 van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) sou so gou kom nie. Met die ontplooiing van die VN se oorgangsbystandgroep (Untag) was die gebou nog in aanbou,” sê Hamman.
Op 21 Maart 1990 het Namibië onafhanklik geword en ’n nuwe era het vir nie net vir Namibië nie, maar ook vir die Safari Hotels aangebreek.
Ten einde in die groter behoefte aan ­akkommodasie en die aanbied van konferensies te voorsien, het die Safari ’n verdere 6.5 hektaar grond aangekoop.

Konferensie-mekka
Sedertdien is die hotel sodanig uitgebrei dat dit nou die grootste private verskaffer van akkommodasie en konferensiegeriewe in die land is.
Tot 2 500 mense kan vir ’n konferensie in die hoofsaal gehuisves word, en daar is meer as 44 addisionele konferensie­geriewe.
Klein konferensies, met so min as vyf konferensiegangers, tot die heel groottes. waar tot 2 500 mense geakkommodeer kan word, is al deur die Safari aangebied. Volgens Hamman moet die hotel dikwels regstaan om tussen 600 en 800 mense met middagete te bedien.
“Ons is ’n pionier op die gebied van konferensies, hetsy vir binnelandse doeleindes of buitelandse besoekers.

Verskeidenheid ­kamers
Met die 415 kamers en ongeveer 900 beddens is die Safari ideaal geleë om nie net in die behoefte van konferensiegangers nie, maar ook toeriste te voorsien.
“Die groot voordeel wat ons het, is dat ons sowel ’n driester- as viersterhotel op die perseel het. Die driesterhotel het twee klasse kamers, te wete standaard en besigheidsklas, terwyl die vierster bestaan uit klassieke en “executive” kamers, sowel as “executive” suites. Voorsiening word gemaak vir van die opkomende toeris tot staatshoofde wat in die presidensiële suite kan tuisgaan,” sê Hamman.
Oor die jare was die Safari al die gasheer vir verskeie staatshoofde, insluitende presidente Nelson Mandela, Thabo Mbeki en Jacob Zuma van Suid-Afrika, en die meeste ander staatshoofde van lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Kanselier Helmut Kohl van Duitsland, pres. Jacques Chirac van Frankryk en pres. Dmitry Medvedev van Rusland het ook al by die Safari tuisgegaan.
Selfs koninklikes, soos die Spaanse koninklike egpaar en die koning van Swaziland, was al gaste van die Safari.

Grootste bates
Volgens Hamman is die grootste bates van die Safari sy personeel en die bestuurspan.
“Dit is alles goed en wel om oor goeie geriewe te beskik, maar die personeel, wat die daaglikse werk doen, bly die ruggraat van die hotel. Ons het 240 permanente personeellede, tesame met ’n uitstekende bestuurspan wat verantwoordelik is vir die welslae van die Safari Hotels wat deur goeie leier­skap bestuur word.
“Die Safari is ook een van die min hotelle waar ’n vrou, mev. Ina Spies, die groephoofbestuurder is. Spies, wat as kleuter­onderwys gekwalifiseer is, was Hamman sr. en jr. se persoonlike assistent en het oor die jare die korporatiewe leer geklim tot waar sy vandag is.
Die Safari beskik ook oor sy eie opleidingsentrum waar personeel deur opleiding in die verskillende aspekte van die gasvryheidsbedryf bemagtig word. Hamman se vrou, mev. Annamarie Hamman, staan aan die stuur van sake in die opleidingsentrum. Hamman se oudste dogter, Natasha, is ook by die maatskappy werksaam, as die hoof van die fyngebakafdeling

Uitdagings
“Die uitdagings in die gasvryheidsbedryf is groot.
“Daar word van per­soneel verwag om lang ure, oor naweke en soms tot laat in die aand te werk.
“As gevolg van die grootte van Safari Hotels bly dit ’n uitdaging om te verseker dat goeie standaarde en gehalte deurgaans gehandhaaf word,” het Hamman gesê.
Met die waterskaarste in Windhoek ondervind die Safari ’n verdere uitdaging. Met ongeveer 500 spoeltoilette en die groot aantal mense wat konferensies bywoon, is die Safari een van Windhoek se grootste waterverbruikers.
Stappe word gedoen om water te bespaar.
“Indien daar ’n elektrisiteitstekort is, kan kragopwekkers aan­gewend word om die hotel van krag te voorsien, maar indien daar nie water is nie, bied dit ’n baie groter uit­daging.
“Bemarking is nog ’n uitdaging. Namibië is maar ’n klein deel van die internasionale toeristemark en nie baie groot internasionale lugrederye vlieg Namibië toe nie. Die doelwit met bemarking is om eerste Namibië te bemark.”
Hy gee volle krediet aan die Namibiese Toerismeraad (NTB) en Air Namibia vir die puik werk wat hulle met die bemarking van die land as toeriste­bestemming doen.
“Windhoek is bloot ’n aankoms- en vertrekpunt. Met ander woorde buitelandse toeriste reis uit Windhoek om ons land te ervaar. Die hoofaantreklikhede is die twee woestyne, natuurreservate, die kus en die vrede wat ons geniet. Ons woon letterlik in ’n paradys. Niks wat ons het om aan te bied is mens­gemaak nie, maar God­geskape. Wanneer toeriste in Windhoek is, is daar natuurlik net een plek waar hulle moet tuisgaan en dit is Safari Hotels.”

Die toekoms wink
Die Safari is deurlopend besig met opknapping aan die kamers en geriewe ten einde te verseker dit voldoen aan die hoogste standaarde.
Op lang termyn kan ’n boetiek-hotel op dieselfde perseel dalk ook verrys.
“Ek hoop dat die Safari oor die volgende 50 jaar steeds van krag tot krag sal gaan. Ek is baie dankbaar dat die Safari vir 50 jaar in hierdie land sake kan doen. Ons het ’n goeie ­
regering wat stabiliteit en vrede verseker. Dis egter nie altyd net rose
nie; soms is daar ook dorings,” het Hamman gesê.

50 jaar feestelik herdenk
Vir die 50ste herdenking­ word ’n feestelike dinee vir 14 Julie beplan, waar die Suid-Afrikaanse groep Freshly Ground sal optree.
Op Vrydag 15 Julie vind ’n mini-ekspo op die ­hotelterrein plaas van waar Radio Wave regstreeks sal uitsaai. Radio Wave sal op dié dag 18 jaar oud wees.
Tydens die ekspo kan besoekers onder meer uitstallings besoek van die hotel se verskaffers wat onder meer kos en drank sal uitstal.
Air Namibia is een van die borge van die geleentheid.
Vrydagaand hou Freshly Ground ’n konsert vir die publiek waar Gaza ook sal optree. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!