'Sagte inflasie gaan niu00e9 Reserwebank se arm draai'
'Sagte inflasie gaan niu00e9 Reserwebank se arm draai'

'Sagte inflasie gaan nié Reserwebank se arm draai'

Die gunstige inflasiesyfers vir Oktober is hoegenaamd geen waarborg dat die Reserwebank vandag die rentekoers gaan verlaag nie, waarsku ontleders.
Hanlie Stadler - Jason Muscat, senior bedryfs­ontleder van FNB, sê hoewel 'n inflasiekoers van net 4,8% dit laat lyk asof die sentrale bank ruimte het om inskikliker te wees, is daar te veel risiko's op die horison wat die rand verder kan laat verswak en inflasie weer sal opjaag.

Die eerste valbyl kan reeds op Swart Vrydag val wanneer Moody's Investors Service en Standard & Poor's Global Ratings môre aankondig of hulle staatseffekte verder afgradeer.

Meer as die helfte van die ekonome wat Netwerk24 gepeil het, 59%, verwag 'n afgradering van óf effekte in rand óf effekte in buitelandse geldeenhede óf albei by albei die gradeerders.

Die rand kan met tot R1 per dollar, dus naby R15 per dollar, verswak indien Suid-Afrika afgegradeer word, volgens John Cairns, valuta-ontleder van RMB.

Busisiwe Radebe en Dennis Dykes van Nedbank se ekonomiese eenheid sê die styging in die olieprys gaan inflasie na verwagting oor die ­volgende paar maande opdruk, maar dit sal die res van die jaar binne die Reserwebank se teikenband van 3%-6% bly, veral soos wat kosprysinflasie verlangsaam.

“Dít en die feit dat onderliggende ekonomiese bedrywigheid swak bly en vertroue steeds broos is, beteken dat daar ruimte vir die Reserwebank is om koerse te verlaag. Dit sal egter deur die trajek van die rand bepaal word, wat na verwagting wisselvallig sal bly voor die kredietgradeerders se besluit en die ANC se konferensie in Desember.

“Daarom verwag ons dat die Reserwe­bank sal wag en kyk, en rente­koerse onveranderd laat – vandag en dalk selfs in die hele 2018.”

Muscat sê ook dit lyk asof die begin van die “daalsiklus” dalk eintlik net uit die enkele rentekoersverlaging in Julie van net 0,25 van 'n persentasiepunt bestaan het. Dit was die eerste verlaging in vyf jaar.

Nedbank verwag dat inflasie vanjaar gemiddeld 5,3% gaan beloop – aansienlik minder as die 6,4% van 2016. Die Reserwebank het ook in September 5,3% voorspel.

“Die grootste bedreiging vir inflasie bly die wisselvallige rand, wat die daling in die inflasiekoers kan temper,” sê die Nedbank-ekonome in hul verslag oor die inflasiekoers.

Kamilla Kaplan, Investec-­ekonoom, sê die pas waarin onder meer die ­Federale Reserweraad (Fed) rente­koerse gaan verhoog en die nog ­onbekende styging in kragtariewe volgende jaar skep ook risiko's vir die inflasiekoers. Die Fed besluit weer op 3 Desember oor rentekoerse en die Nasio­nale Energiereguleerder maak op 7 Desember bekend watter persen­tasie van die styging van 19,9% in krag­tariewe waarvoor Eskom aansoek gedoen het, van April af sal geld.

Al 17 ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag dat die rentekoers onveranderd gelaat gaan word.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!