u2018Sagte verbodu2019 op private media
u2018Sagte verbodu2019 op private media

‘Sagte verbod’ op private media

Rolspelers in die media het gister teen die verreikende gevolge gewaarsku wat ''n geheime kabinetsbesluit ten gunste van sy mondstukke geneem het.
Jo-Mare Duddy Booysen
Catherine Sasman – Die regering het gister vure probeer doodslaan dat ‘n geheime kabinetsbesluit om die staatsbeheerde NBC en New Era met die verspreiding van openbare inligting en advertensiebesteding voor te trek, ‘n geldinspuiting vir dié sukkelende SOE’s is.

‘n Interne memorandum in dié verband is op 26 September deur mnr. Gabriel Sinimbo, die permanente sekretaris van die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, aan SOE’s uitgereik. Sinimbo verwys na ‘n kabinetbesluit (nr. 16th/20.09.16/007) waarin alle regeringskantore, ministeries en agentskappe – insluitende streeksrade en plaaslike owerhede – beopdrag word om die verspreiding van inligting en advertensies deur New Era en die NBC te “prioritiseer”.

Mnr. Tjekero Tweya, die minister van inligting en kommunikasietegnologie, het gister dié besluit bevestig.

“Die beweegrede vir die besluit is om voorkeur, maar nie ekslusiwiteit nie, aan die staatsmedia te gee,” het Tweya gesê.

“Dis net so eenvoudig soos ‘n gestremde vrou wat voorkeur kry. Voorkeur word verleen omdat die staatsmedia die primêre mandaat het om alle regeringsinligting te versprei wat ander (media) nie nodig mag ag nie. As jy in ‘n ongelyke samelewing leef, moet jy sekere maatreëls tref om inligting op ‘n gelyke grondslag te versprei. Inligting is nie te koop nie. Dit is daar om almal ingelig te hou,” sê Tweya.

“Moenie iets (in die besluit) lees wat nie daar is nie,” sê hy.

Ombudsman

“Dit is die regering se plig om inligting met almal te deel en dit so toeganklik op alle platforms te maak. Daarvoor moet hulle alle media benut,” was die reaksie van die Media Ombudsman, mnr. Clement Daniels.

Geen woord is van die besluit gerep in die nuusvrystelling oor die 20ste September se kabinetsbesluite wat aanvanklik aan die media uitgereik is nie. Namibië is ook tans besig om ‘n wetsontwerp oor toegang tot inligting op te stel, wat vrye toegang tot inligting vir almal sal waarborg.

“Wat advertensies betref, moet die impak ook in ag geneem word,” het Daniels bygevoeg. “Dit moet ekonomies sin maak om iewers te adverteer omdat jy jou doelwit daarmee moet bereik en die regte resultate moet behaal.”

Mnr. Joseph Ailonga, voorsitter van die Redakteursforum van Namibië (EFN), het die besluit as ‘n “sagte verbod” of ‘n indirekte verbod wat inligting en advertensies betref op die private media beskryf.

Dit gaan baie Namibiërs benadeel wat hul inligting uit die private media kry, sê hy.

Misa Namibia

Die Namibiese tak van die Media-instituut van Suider-Afrika (Misa) stem saam. Me. Natasha Tibinyane, direkteur van Misa Namibia, sê die besluit gaan die publiek se toegang tot inligting beperk. Die besluit gaan voorts die onafhanklike media se vermoë aan bande lê om relevante inligting wat in die publiek se belang is, tydig te versprei.

Tibinyane bevraagteken die feit dat regeringsadvertensies nou hoofsaaklik na New Era en die NBC gekanaliseer gaan word. “Beide dié instellings word deur die staat gefinansier. Die monopolie op regeringsadvertensies gaan dus veroorsaak dat staatsgeld in die stelsel bly. Dit terwyl diegene wat die stelsel befonds, maar nie toegang tot die New Era of die NBC het nie, van hul reg op toegang tot openbare inligting ontneem word.”

Tibinyane sê die regering is verantwoordelik om tot die groei van ‘n onafhanklike media in Namibië se demokrasie by te dra. Om advertensies van dié instellings te weerhou, kan die teenoorgestelde tot gevolg hê, waarsku sy.

“Die onafhanklike media steun op advertensies as sy hoofbron van inkomste, terwyl die staatsbeheerde media deur die publiek befonds word. Die NBC het N$252 miljoen in die huidige finansiële jaar ontvang, terwyl New Era N$13,6 miljoen gekry het.”

Tibinyane het ‘n beroep op die kabinet gedoen om sy besluit te heroorweeg.

Me. Gwen Lister, voorsitter van die Namibia Media Trust (NMT), sê die feit dat die media nie van die besluit ingelig is nie, is kommerwekkend.

Hoewel inligting rakende die besluit skraps is, sê Lister dit herinner haar aan die advertensieverbod op The Namibian wat ‘n paar jaar gelede opgehef is. Alternatiewelik is dit ‘n indirekte manier om die staatsmedia ‘n hupstoot te gee, meen sy.

“Dit is nie ‘n gelyke speelveld nie,” sê Lister.

Me. Zoe Titus van NMT sê die besluit druis teen die gees van die Windhoek Deklarasie van 1991 in, wat ‘n onafhanlike en pluralistiese media bevorder. Die regering het dié deklarasie onderteken.

“Ek dink die besluit is baie kortsigtig. Die opstellers daarvan het duidelik nie die volle implikasies daarvan in ag geneem nie, want dit is nie in belang van pluralisme in die media nie. Staatsgeld behoort regverdig onder al die media versprei te word,” sê sy.

Kassie:

Só lyk die begroting

Volgens die halfjaar-begrotingshersiening is bykans N$126,13 miljoen in 2016-’17 vir drukwerk en advertensies sáám beskikbaar. (Die begroting gee nie ‘n afsonderlike bedrag net vir advertensies aan nie.)

Dié N$126,13 miljoen is bykans N$5,85 miljoen of 4,4% minder as in mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, se hoofbegroting van Februarie.

Die grootste besnoeiings is by die ministerie van binnelandse sake: In Februarie is net meer as N$13 miljoen toegeken, nou is dit sowat N$8,1 miljoen (dus N$4,9 miljoen of 38% minder.)

Die grootste druk- en advertensiebegroting is vir die ministerie van gesondheid: N$26,17 miljoen (geen vermindering)

Dan die ministerie van onderwys: N$15,685 miljoen (geen vermindering)

En die Verkiesingskommissie: N$10,402 miljoen (geen vermindering).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!