Sakenuus uit Afrika
Nigeriese krisis skep geleenthede vir FirstRand
Die ekonomiese krisis in Nigerië skep geleenthede vir FirstRand, Suid-Afrika se grootste bank.
“Geleenthede duik op,” sê Laurie Dippenaar, voorsitter van FirstRand wat op die uitkyk is vir ’n middelslagbank in Afrika se digste bevolkte land.
FirstRand se onderhandelinge met twee bankgroepe in dié land het vroeër skipbreuk gelei weens prysverskille.
Die Suid-Afrikaanse bankreus is op soek na ’n bankgroep met ’n groot netwerk, maar dis onwaarskynlik dat hy enige van die groot banke sal koop,” het Dippenaar in ’n onderhoud op die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) gesê voordat dit die naweek ten einde geloop het.
Die doel van dié verkryging is om Rand Merchant Bank se bedrywighede in Nigerië te help befonds.
“En hoe moeiliker dit met die olieprys gaan, (hoe meer) word ons genader,” het Dippenaar bygevoeg.
Nigerië word gestrem deur ’n jaar lange resessie met oliepryse en -inkomste wat dramaties gedaal en ’n tekort aan buitelandse valuta wat die Nigeriese niara se waarde laat afneem het.
Die ekonomiese sorge word weerspieël in die balansstate van die land se klein en middelslagbanke, met slegte skuld wat tot byna drie keer die regulatoriese perke daarvoor toegeneem het terwyl kapitaalvlakke ook daal.
Aandele tuimel
Middelslagbanke in Nigerië, insluitende Diamond Bank, Sterling Bank en Wema Bank, se aandeelpryse het verlede jaar met meer as 40% getuimel met dié dat beleggers die groot banke as veiliger hawens begin beskou het.
FirstRand het in 2011 weggestap van ’n transaksie om beheer te verkry oor die Lagos-gebaseerde Sterling Bank omdat die prys wat gevra is te hoog was.
“Ons gaan nie roekelose besluite neem of heeltemal te veel betaal nie,” het Dippenaar gesê.
FirstRand sal volgens sy voorsitter wel bereid wees om ’n bank te herkapitaliseer as deel van die verkrygingsooreenkoms, maar wou nie meer spesifiek wees oor hoeveel die groep bereid sal wees om te bestee nie.
Onderhandelings oor twee moontlike verkrygings het tot stilstand gekom weens probleme rondom die batewaarde op die banke se boeke, of die grootte van die voorsiening wat gemaak is vir moontlike slegte skuld, aldus Dippenaar.
“Ons sal op die uitkyk bly totdat ons iets vind wat ons pas. Ons is nie daarin vir die kort termyn nie, dit is naas Suid-Afrika ’n baie belangrike mark in Afrika. (Maar) ons gaan nie vers en kapittel wed op ’n Nigeriese verkryging nie.
“ ’n Styging in die olieprys bo die vlak van $50 per vat, behoort ’n krisis onder klein en middelslagbanke – wat groot blootstelling in die energiesektor het – af te weer.
“Die regering sal, sou hy moet, ingryp om die bankstelsels te steun,” glo Dippenaar.
“Dit sal daarvan afhang hoe diep die (skuld) gat is.”
Harvard-sentrum in Tunisië
Die Sentrum vir Midde-Oosterse Studies by die Harvard-universiteit in Amerika het pas sy eerste buitelandse kantoor in Tunisië geopen. William Granara, direkteur van die sentrum en hoogleraar in Arabies, sê die sentrum en die akademiese programme wat daar aangebied gaan word, is moontlik gemaak deur steun van Hazem Ben-Gacem, ’n oudstudent van Harvard.
“Die Midde-Ooste is ’n deel van die wêreld wat jy nooit ten volle sal verstaan nie tensy jy jou voete op die grond kry en dit eerstehands ervaar,” sê Granara.
DRK steun tinmyn
'n Regeringskomitee is in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gestig om die myngroep Alphamin Resources te help met die ontwikkeling van sy Bisie-tinmyn in die provinsie Noord-Kivu.
Alphamin, wat op die Toronto-beurs in Kanada genoteer is, sê sy filiaal Alphamin Bisie Mining het planne om teen 2019 met volle produksie by die tinmyn te begin.
Die goewerneur van die Noord-Kivu-provinsie het in Desember ’n opdrag onderteken vir die stigting van die komitee wat tegniese en gespesialiseerde dienste sal lewer.
Alphamin sê die Internasionale Tinnavorsingsinstituut skat daar sal teen 2018 ’n wêreldwye tekort aan tin wees.
Mobiele platform vir boere
Die kredietkaartgroep Mastercard het ’n digitale platform in Nairobi, Kenia, bekend gestel waardeur kleinboere, agente, kopers en banke in Oos-Afrika makliker met mekaar kan skakel.
Die platform, 2KUZE, stel boere in staat om goedere via hul gewone selfone te koop, en hul landbouprodukte te verkoop en betalings daarvoor te ontvang.
Die platform bring die voordele en veiligheid van mobiele handel en betalings na boere in Kenia, Uganda en Tanzanië.
Die platform is ontwikkel deur die Mastercard-laboratorium vir finansiële insluiting wat in 2015 in Nairobi begin is om praktiese en kostedoeltreffende finansiële oplossings te ontwikkel. Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie