Sakenuus uit Afrika
Sakenuus uit Afrika

Sakenuus uit Afrika

Estelle de Bruyn
Stop in Nairobi vir nuwe bande

Suid-Afrikaanse sakereisigers of vierwieltoeriste wat hulle dalk met bandeprobleme in Nairobi bevind, kan nou by die bandevervaardiger Continental se ContiPartner-kleinhandelsnetwerk aanklop.

Continental het dié netwerk in Kenia verder uitgebrei en gaan veral in produkte vir vierwielaangedrewe voertuie spesialiseer.

Dit sal die agtste ContiPartner-tak in Kenia wees wat oopmaak. Dit is by die Karen Shell-vulstasie wat deur Silverstone Tyres besit word.

Kenia staan nog sterk

Die Keniaanse ekonomie is gediversifiseerd en veerkragtig genoeg om enige potensieel negatiewe gevolge van volgende jaar se verkiesings in Augustus te verteer.

So sê die hoof van die sentrale bank van Oos-Afrika se grootste ekonomie.

Patrick Njoroge, hoof van die Sentrale Bank van Kenia, vertrek dié week na Amerika om die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se jaarvergadering in Washington D.C. by te woon.

Die Keniaanse ekonomie sal vanjaar na verwagting met 6% groei.

Mosambiek sal koers moet opstoot

Mosambiek sal sy rentekoers verder moet verhoog om stygende inflasie en ’n verswakkende geldeenheid te keer, het die IMF gewaarsku ná ’n besoek aan die land.

Mosambiek se staatsfinansies het onder druk gekom weens laer grondstofpryse en finansiers wat hul lenings gevries het nadat dit bekend geword het dat Mosambiek $1,4 miljard se skuld het wat nie voorheen bekend was nie.

Die metical, Mosambiek se geldeenheid, was tot dusver vanjaar die geldeenheid in Afrika wat die swakste gevaar het. Dit het vanjaar met 38% teen die dollar verswak.

Mosambiek voer meestal steenkool uit, maar as hy sy gasvelde kan ontwikkel, kan hy die derde grootste uitvoerder van vloeibare aardgas ter wêreld word. S&P Global Ratings raam sy netto skuld egter op 90% van sy BBP.

Malawi kry geld

Malawi gaan geld van die Amerikaanse regering se ontwikkelingsfinansieringsagentskap, die Overseas Private Investment Corporation, ontvang as deel van ’n finansieringsprogram van 12 jaar. Daar gaan ook geld van die Amerikaanse bank Wells Fargo kom.

Standard Bank van Suid-Afrika gaan die finansiering bestuur en het volgens Malawi se Nyasa Times $33 miljoen van sy balansstaat voorsien om die transaksies te ondersteun wat via die leningsgerief beklink sal word.

’n Geraamde $150 miljoen van die leningsgerief word vir transaksies in die kragsektor opsy gesit.

Afrika-ontwikkelingsbank steun Nigerië

Die Afrika-ontwikkelingsbank het die afgelope week belowe hy sal die Nigeriese ekonomie ondersteun.

Akinwumi Adesina, president van die bank, sê die Nigeriese ekonomie is te groot en te belangrik vir die streek dat dit toegelaat kan word om te misluk.

Die Nigeriese ekonomie het in die eerste helfte van vanjaar gekrimp en die IMF voorspel dit sal vanjaar met 1,8% krimp.

Dit is weens die 50%-val in oliepryse en die hernieude aanvalle van rebellegroepe op olie-installasies in die Niger-delta.

Afrika-ministers kla oor Agoa

’n Groep handelsministers van Afrika-lande het hul kommer uitgespreek oor die jongste verslag oor die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa).

Die ministers is besorg dat Afrika-lande suid van die Sahara nie die Agoa-voordele ten volle benut nie, weens te streng standaarde en reëls van oorsprong wat dit moeilik maak om Afrika-produkte te voorsien wat aan die Amerikaanse markvereistes voldoen. Hulle wil hê die Amerikaanse regering moet meer buigsaam wees in die toepassing van die reëls van oorsprong.

Rubberuitvoer van Ivoorkus neem toe

Die Ivoorkus se uitvoer van natuurlike rubber was in die eerste agt maande van vanjaar byna 8% hoër as ’n jaar gelede op 296 212 ton, wys voorlopige hawestatistiek.

Die Ivoorkus is die voorste produsent van kakao in die wêreld en ook die grootste produsent in Afrika van natuurlike rubber. Rubberuitvoer het die afgelope paar jaar toegeneem namate boere al hoe meer van kakao na rubber oorgeskakel het omdat hulle deur die meer stabiele inkomstestroom gelok word wat rubberproduksie bied. Netwerk24/Bloomberg/Reuters/ESI Africa/persverklarings

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!