'Sakeredding' van die IMF dalk goed

Oktober 2018 was nogal 'n belangrike keerpunt vir die buurland se ekonomie met heelwat positiewe gebeure en boodskappe.
Johan Willemse



Daar wag nog moeilike aanpassings vir suksesvolle ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika.

Ek het in my vorige rubriek – Sakesiening: Resessie of Groot Depressie? – data bespreek wat wys ons is diep in die moeilikheid en dat ons probleme dalk groter as net 'n tegniese resessie is.

Daar was ekonome wat gemeen het ons is nog nie in 'n erge resessie (of moontlike depressie) nie, want ­batepryse het nie gedaal nie.

Wel, intussen het die JSE van sy grootse dalings op een dag sedert 2008 se wêreldwye finansiële krisis ervaar en eiendomspryse het nie veel gestyg nie.

Ons moet dus nie die probleme onderskat wat 'n dekade se wanbestuur van die Zuma-administrasie veroorsaak het nie. Gelukkig word daar deesdae erken dat ons 'n nuwe ekonomiese groeipad moet vind en dat die private sektor deel daarvan moet wees.

Oktober 2018 was nogal 'n belangrike keerpunt vir die Suid-Afrikaanse ekonomie met heelwat positiewe gebeurtenisse en boodskappe.

Nie net kon Tito Mboweni as nuwe minister van finansies sterk ­uitsprake maak nie (syne 'n nuwe besem), maar pres. Cyril ­Ramaphosa het ook sy beleggings- en werkskeppingskonferensie gehad waar vir die eerste keer in baie jare positiewe regeringstandpunte gestel is. Daar blyk 'n nuwe begrip te wees dat die ou weë nie sal werk om die ekonomie en staatsfinansies reg te ruk nie.

Die groot vraag is natuurlik of die ANC se kollektiewe beleidspan die standpunte gaan steun in die praktiese uitvoering van beleid?

Die spreekwoord dat die jakkals van hare verander, maar nie van streke nie, kom onwillekeurig op!



Staatsbegroting

Ek dink dit is ook hoekom Mboweni 'n dag of wat ná die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gewaarsku het dat die staat se finansies sleg lyk en dat 'n drastiese ommekeer nodig is, anders loop ons die risiko dat ons die Internasionale ­Monetêre Fonds (IMF) sal moet nader vir 'n lening. En die IMF sal die nodige beleidsverandering opdwing as deel van 'n reddingspakket.

Dié moontlikheid is al 'n jaar of wat gelede geopper en duik nou al hoe meer op. My beskeie mening is dat dit dalk die enigste manier is hoe ons broodnodige beleidsverandering deurgevoer gaan kry tot op ­munisipale vlak.

Daar is baie gepraat oor die MTBR en in mediaberigte is baie trooswoorde gebruik. Maar ek dink die meeste mense besef nie in watter swak toestand die staat se finansies is nie.

Hoewel politici praat oor die slegte posisie waarin die land is, word dit nie werklik weerspieël in die syfers van die MTBR nie. Daar was wel kleiner aanpassings, maar ek dink nie dis voldoende nie.



Hoe groot is die moeilikheid?

Die dilemma is dat die erge ­probleme met staatsfinansies (tot op munisipale vlak en by staatsondernemings) nie ten volle weerspieël word in die MTBR nie.

Die skuld van bankrot munisi­paliteite word byvoorbeeld nie in sentrale staatskuld weerspieël nie en so ook nie die miljarde rande van bankrot staatsondernemings nie.

Dink aan die staat as 'n onderneming waarvan die inkomste nie die uitgawes dek nie. Al hoe meer skuld word gemaak om die lopende tekorte te dek (nie om nuwe beleggings te doen nie).

Daar is soveel druk op die begroting dat daar kommer is oor die vermoë om skuld te diens. Rentebetalings is reeds 15% van staatsuitgawes. Dit is die basiese feite waarna internasionale kredietgraderingsagentskappe kyk. Voordat nie daadwerklik met die snoeiskêr ingelê word nie, gaan ons graderings sleg bly.

Die meegaande grafieke wys op 'n paar koue feite.

Die grafika hierlangs toon die groei in staatsinkomste en -besteding, soos aangedui in begrotingsdokumente. In die tydperk voor 2008 was daar basies 'n surplus op die staatsbegroting en staatskuld was laer as 30% van die bruto binnelandse produk (BBP).

Die MTBR beplan om staats­uitgawes vinniger te laat groei as inflasie en om in die volgende drie jaar van R1 500 miljard in 2018-'19 te groei tot R1 900 miljard in 2021-'22. Dit kom neer op groei van 24,2% oor die volgende drie jaar.

Belastinginkomste word projekteer om te groei van R1 300 miljard in 2018-'19 tot R1 630 miljard in 2021-'22.

Die voorspelde ­begrotingstekort vir die tydperk styg van R215 miljard in 2018-'19 tot R262 miljard in 2021-'22.

In die private sektor sal 'n onderneming wat reeds baie skuld het en wat begroot dat sy uitgawes vinniger bly groei as sy inkomste, nie herfinansier word sonder groot strukturele aanpassings en 'n nuwe strategie nie.

Dié grafika toon hoe die regering beplan om nog geld te leen en dat staatskuld in 2018-'19 van sowat 55% van die BBP beplan word om te groei tot bykans 60% van die BBP. Dit is sonder inagneming van staats­ondernemings se skuld en skuldwaarborge.

Staatskuld word beplan om te groei van R2 800 miljard in 2018-'19 tot R3 300 miljard in 2021-'22 – groei in meestal onproduktiewe skuld van dus R800 miljard oftewel 32%.

Dit is dus duidelik dat ons nog nie naastenby uit die moeilikheid is nie en om die “staatsonderneming” om te draai en finansiering daarvoor te kry, sal drasties herstruktureer moet word, anders gaan ons onder sakeredding geplaas word en onder dwang herstruktureer word deur die IMF.

• Prof. Johan Willemse is 'n landbou-ekonoom van Agrimark ­Consultants en 'n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-­wedstryd.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!