Sakesiening: Base het meer trane as glans
Sakesiening: Base het meer trane as glans

Sakesiening: Base het meer trane as glans

Niemand het al ooit na regeringsdata verwys dat toon meer as 75% van staatsamptenare verdien meer as die gemiddelde werkgewer nie.
Mike Schüssler - Die sakesektor het die laaste paar jaar onder beleg gevoel. Politici was dikwels vyandig teenoor hulle. Beskuldigings van “witmonopoliekapitaal” is rondgeslinger en die sektor moet toenemend aan strenger reëls en regulasies voldoen.

Beriggewing oor die sakesektor is dikwels negatief, maar niemand berig daaroor dat die gemiddelde werkgewer R8 000 per maand verdien teenoor die gemiddelde werknemer se R3 200 nie.

Beriggewing fokus dikwels net op die gemiddelde werknemer en die top-maatskappyhoofde wat miljoene rande verdien terwyl hulle multinasionale maatskappye bedryf. Geen konteks word gegee dat die een deel van die vergelyking kom van peilingsdata en die ander van uitgesoekte data van groot maatskappye – oor hoofde wat dikwels nie eens in Suid-Afrika woon nie.

Daar is geen konteks in die beriggewing dat werkgewers 40% langer werkweke het nie. Daar word nie berig oor die feit dat werkgewers gemiddeld minstens ’n dekade ouer as werknemers is nie en dat die werkgewer die een is wat al die risiko neem nie.

REGERINGSDATA

Daar word nie daaroor berig dat mense wat vir hulself werk, gemiddeld mínder verdien as wat werknemers gemiddeld verdien nie. Daar word glad nie berig oor die feit dat werknemers in die myn- en nutssektor gemiddeld meer verdien as wat werkgewers gemiddeld verdien nie!

Niemand het al ooit na regeringsdata verwys dat toon meer as 75% van staatsamptenare verdien meer as die gemiddelde werkgewer nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het ten minste die sentiment jeens die sakesektor verander, behalwe ten opsigte van die proses om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding toe te laat. Nasionale Gesondheidsversekering bring ook ’n nuwe stel uitdagings.

Die sakesektor sukkel al jare lank. Omsetgroei in die jaar tot einde Junie was gelyk aan inflasie, wat beteken daar was geen werklike groei nie.

Daar is ondernemings wat geld maak, maar die meeste sou ’n beter opbrengs gekry het as hulle hul bates teen boekwaarde verkoop en die geld in die bank gehou het.

Die regering en vakbonde dink die sakesektor is ’n reusekoei wat daar is om gemelk te word; ’n bose vennoot waarmee hulle moet saamleef. In die lig hiervan het die sakesektor gemeen daar is min hoop vir wedersydse begrip.

Die getal werkgewers in Suid-Afrika neem nie toe nie, terwyl die getal werkloses styg.

’N ONGEMAKLIKE WAARHEID

Dit is moeilik om geld te maak. Die meeste ondernemings bestaan ná vyf jaar nie meer nie; dis nou ondernemings wat wel begin sake doen en nie ’n doodgebore idee is nie.

Syfers van die Werkloosheidsversekeringsfonds wys die gemiddelde getal mense wat deur ’n formele onderneming in diens geneem word, het van 34 in die 80’s tot 8,8 in 2016 geval.

Luidens die jongste arbeidsmagpeiling is net 3,6% van die Suid-Afrikaanse bevolking nou werkgewers teenoor 4,4% ’n dekade gelede en 4,7% in 2002.

Dit is een van die laagste persentasies ter wêreld en dra ongetwyfeld by tot die land se werkloosheidskoers.

Die tipiese werkgewer het tussen drie en vyf werknemers en sukkel om kop bo water te hou. 58% van werkgewers is vandag swart, vergeleke met 40% ’n dekade gelede en minder as 30% in die vroeë 90’s.

20% van alle sake-eienaars is vroue, en 42% van werkende vroue werk vir hulself. Een uit agt werkgewers neem familielede in diens sonder om hulle te betaal, terwyl baie meer betaalde familielede in diens neem.

Maar die reëls en regulasies in Suid-Afrika is ontwerp vir ondernemings met honderde, indien nie duisende, werknemers nie. Selfs burgemeesters wat self entrepreneurs was, besef dit nie, soos ’n onlangse twiet van Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, wys.

HARTVERSKEURENDE BESLUITE

Ek is self ’n trotse klein werkgewer en is al amper twee dekades by sakekamers betrokke. Ek het werkgewers gesien kom en gaan. Ek het die emosies van mislukking en finansiële rampe gesien. Ek ken die hoop en vrees van mense wat vir hulself werk. Ek ken die trane en hartverskeurende besluite wat ons oor afleggings moet neem.

Ek is gelukkig dat ek so lank oorleef het en ek is uiters gelukkig dat ek die data verstaan en besef ek is nie alleen wanneer ek ’n verlies ly nie. Ek verstaan wanneer ander entrepreneurs aan my sê hulle wil nie meer mense in diens neem nie. Ek weet hoe dit voel om weke of maande aan ’n projek te werk, net om te hoor dit is vertraag of gekanselleer.

Dit is my ervaring dat mense met ’n vaste inkomste dikwels dink werkgewers is ryk en leef lekker. Ek weet dit is vals en maak dinge moeilik vir entrepreneurs wat faal, omdat daar aan hulle voorgehou word dat mislukking die uitsondering op die reël is.

Hierdie oortuiging is veral in Suid-Afrika misplaas en ’n struikelblok vir groei. Mislukking is pynlik, selfs sonder die vals geloof dat dit nie gebeur nie.

Dink daaraan: Net sowat 12% van ondernemings oorleef langer as tien jaar!

Dit was musiek vir entrepreneurs se ore toe Ramaphosa gesê het ons wíl die sakesektor hê.

Hulle voel iemand het begin luister. Sakevertroue is nog laag, maar ons het ’n begin gemaak.

Ek hoop ’n groot deel van ons bevolking begin werkgewers se risiko’s verstaan en dat ons ontslae kan raak van die misplaaste haat en fopnuus.

· Mike Schüssler is ekonoom van Economists.co.za en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!