Sakesiening: Slaggate vir wu00eareldekonomie
Sakesiening: Slaggate vir wu00eareldekonomie

Sakesiening: Slaggate vir wêreldekonomie

Die wêreldekonomie is in die beste posisie in etlike jare.
Christo Luüs - Ekonomiese groei in die VSA, China, Europa en Japan het vanjaar versnel. Die laaste keer dat dit gelyktydig in al vier wêrelddele gebeur het, was in 2010.

Groei word steeds ondersteun deur 'n verruimende monetêre beleid wat die gevolg is van die globale finan­siële krisis.

Relatief lae rentekoerse stimuleer groei in private verbruiksbesteding en kapitaalinvestering. Ten spyte hiervan bly inflasie laag en kommoditeite is steeds heelwat goedkoper as 'n dekade gelede.

Wêreld- ekonomiese groei kan vanjaar tot 3% beloop teenoor die 2,3% van 2016.

Hierdie positiewe omstandighede is egter waarskynlik slegs tydelik van aard. 2017 kan inderdaad die hoogtepunt van die groeisiklus wees, met die volgende vyf jaar of so wat dalk 'n paar slaggate kan inhou.

Die Chinese en Amerikaanse ekonomieë sal binnekort tekens van kapasiteitsbeperkings begin toon. Dit sal inflasie aanwakker.

Metaalpryse is reeds aan die styg as gevolg van 'n groter vraag en ­strenger produksiebeheer in China. Gevolglik kan die insetkoste van heelwat ­verbruikersgoedere wêreldwyd styg.

Die groeiende skuldlas en versnelling in inflasiekoerse sal die Chinese en Amerikaanse sentrale banke noop om strammer monetêre beleidsmaatreëls in te stel wat ekonomiese groei onder druk sal plaas. Boonop beplan die Europese Sentrale Bank (ESB) om teen 2018 sy ­kwantitatiewe verruiming te begin afskaal, terwyl ­monetêre beleid ook in Kanada en Brittanje sal verstram. Die verstramming van monetêre beleid in ontwikkelde lande sal tyd neem om deur te werk, maar sal stelselmatig ander sentrale banke noop om dieselfde te doen.

Die verwagting is dat hoër rente­koerse ingestel sal word sonder veel ontwrigting van die finansiële markte, maar die risiko dat ontwrigting wel kan plaasvind, is beduidend en ­belangrik.

Deur langtermynrentekoerse ­uitermate laag te hou deur middel van kwantitatiewe verruiming, was beleggers genoodsaak om elders aantreklike opbrengste te soek. Die toename in likiditeit het die pryse van heelwat bateklasse, ingesluit effekte, aandele en eiendom, opgejaag.

Die globale finansiële krisis en die hoë batepryse wat dit voorafgegaan het, lê nog vlak genoeg in beleggers se geheue om kommerwekkend te wees.

Hierbenewens word die impak op die finansiële markte van die onttrekking van uiters groot stimulasie­bedrae nie baie goed verstaan nie. Kwantitatiewe verruiming op hierdie skaal is nog nie tevore aangepak nie en dus ook nie die afwenteling daarvan nie.

Die VSA se Federale Reserweraad (Fed) probeer sy deel doen om ontwrigting te beperk deur bekend te maak met hoeveel en oor watter tydperk hy beplan om sy balansstaat af te skaal. Die ESB en die Bank van Japan sal waarskynlik ook hierdie ­benadering volg. Die vraag bly egter hoe markte gaan reageer.

Verwantskappe wat ekonome vroeër as vanselfsprekend beskou het, soos dat 'n stram arbeidsmark inflasie in die hand werk, moet steeds bewys dat dit wel nog so werk in die era ná die finansiële krisis.

Balansstaatinkortings deur die Fed en kwantitatiewe inkorting deur die ESB kan wel grootskaalse onstabiliteit teweegbring indien besparing skielik aantrekliker gemaak word. Alternatiewelik kan aandelemarkte groot onstabiliteit toon indien effekte skerp opwaarts beweeg. Die huidige tydperk van min wisselvalligheid in ­finansiële markte sal waarskynlik dus nie onbepaald kan voortduur nie.

Strukturele faktore kan ook 'n rol begin speel. China se surplus op die lopende rekening word vanjaar op 0,8% van die bruto binnelandse produk (BBP) geraam, aansienlik minder as die 9,9% in 2007.

Die implikasie is dat China oor die volgende aantal jare meer sal bestee en minder sal bespaar.

Dit, tesame met die verouderende bevolkings in die Weste en Japan, kan beteken dat 'n swaai van besparing na besteding plaasvind, aangesien ouer mense hul opgehoopte pensioengeld gedurende aftrede bestee.

Hierdie skuif in gedragspatrone sal waarskynlik hoër “natuurlike” vlakke van rentekoerse wêreldwyd noodsaak.

Suid-Afrika sit maar droëbek en kyk hoe sy geld vermors word op niepresterende staatsbates en om ons omvangryke en duur regeerders op sagte kussings te laat sit.

3%-groei is ons beslis nie vanjaar beskore nie – dalk maar so 'n kwart daarvan.

Ons magshebbers het eintlik nog nooit vreeslik daarin belang gestel om die ekonomie te laat presteer nie. Beheer oor elke liewe aspek van ons persoonlike en sakelewe is al wat saak maak.

Misdadigers bly egter uitgesluit van hierdie beheer – hulle word toegelaat om te maak nes hulle wil. – Netwerk24

• Christo Luüs is 'n ekonoom ­verbonde aan EcoQuant

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!