Sakesiening: Tito het ’n onmoontlike taak
Die laaste keer dat die staat se finansies so droewig was, was in 1995, sê ’n bekende ekonoom.
Dawie Roodt – Skaars is Tito Mboweni as minister van finansies aangestel of hy moet sy eerste groot hindernis trotseer. Woensdag is dit weer tyd vir die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR), wat nie regtig ’n “begroting” is nie.
Die MTBR is eintlik maar net ’n terugrapporteringsgeleentheid vir die minister van finansies en is gewoonlik nie die platform vir beleidsveranderings nie. Daarom sal ek baie verbaas wees indien daar byvoorbeeld aan enige belastings of iets anders getorring word.
Maar dit beteken nie die minister gaan nie baie hê om te sê nie! Om die waarheid te sê, die stand van die staat se finansies is so beroerd dat dit die plig van die minister is om ons hieroor in te lig. En as ’n verantwoordelike minister van finansies vir die hele land, is dit ook sy plig om die land se belange eerste te stel en nie die belange van sy party nie.
Die laaste keer dat die staat se finansies so droewig was, was in 1995.
Indien hy werklik eerlik is, sal hy ons vertel dat dit amper onmoontlik gaan wees om die staat se finansies binne ’n paar jaar en sonder baie pyn reg te stel.
Maar in 1995 was die ekonomie in ’n opwaartse groeitrajek, hulpbronpryse was hoog en Suid-Afrika was die liefling van die wêreld, anders as vandag . . .
Die staat se skuld as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) het pas tot die hoogste vlak nog gestyg. Die nuutste syfers (vir tweede kwartaal van 2018) dui op ’n skuld-tot-BBP-verhouding van 54,2% (49,2% in 1995). Tien jaar gelede, in 2008, was dit net 26%! Dus, relatief tot die grootte van die ekonomie, het die staat se skuld in tien jaar meer as verdubbel – ’n geweldige skerp toename.
Maar daar is nog meer skuld.
In totaal waarborg die staat sowat R500 miljard se lenings van staatsbeheerde instellings, waarvan waarborge aan Eskom verreweg die grootste is. Van die R500 miljard is sowat R350 miljard se lenings reeds opgeneem, wat niks ander is as staatskuld nie.
Die gebruik om staatswaarborge te gee wanneer staatsbeheerde instellings sukkel om lenings op gewone voorwaardes te beding, is eintlik redelik nuut. Van 1995 tot 2010 was die totale waarborge van die staat aan staatsbeheerde instellings sowat R65 miljard. Maar sedert 2010 het dit ontplof tot die huidige R350 miljard!
Indien die R350 miljard by die totale skuld van meer as R2 600 miljard getel word, is die staat se uitstaande skuld bykans R3 000 miljard, wat gelyk is aan sowat 63% van die BBP. Dit sluit die ongewaarborgde skuld van staatsbeheerde instellings uit, wat eintlik ook maar net staatskuld is.
Daar is nog heelwat ander staatskuld waarvoor die belastingbetaler regstreeks of onregstreeks pa sal moet staan – soos die aktuariële tekorte van sekere fondse en die skuld van die plaaslike owerhede. Tel alles bymekaar en dit is duidelik dat die uitstaande skuld van die staat veral die afgelope sowat tien jaar dramaties toegeneem het.
Die rede hiervoor – ten spyte van die styging in belastings – is natuurlik omdat die staat se uitgawes, veral sedert die Zuma-jare, deurlopend gestyg het.
In 1995 was die totale inkomste van die staat as persentasie van die BBP minder as 22%. Vandag is dit net meer as 25% nadat dit twee jaar gelede ’n hoogtepunt van sowat 26% bereik het.
Wat interessant is, is dat die belastinglas as persentasie van die ekonomie die afgelope paar jaar gedaal het ten spyte van nuwe en hoër belastings.
Dit hou natuurlik verband met ’n verswakking in die administratiewe vermoë van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), maar ook met belastingbetalers se onwilligheid om aan te hou om ’n verkwistende staat te finansier.
Dít is die tameletjie waarmee Mboweni vandeesweek te doen gaan kry.
Want, afgesien van die droewige stand van die staat se finansies, is ekonomiese groei onder druk, wat belastinginkomste selfs verder ondermyn. Verder is die verkiesing om die draai en is die besnoeiing van staatsuitgawes, veral salarisse, tans besonder onaantreklik vir die regerende party.
Maar bowenal vertel die huidige stand van die staat se finansies vir ons dat dit vandag slegter gaan met die fiskus as ooit tevore. Dit vertel ook van die grootskaalse wanbestuur en finansiële skade wat veral gedurende die Zuma-jare aangerig is. Skade wat slegs voor die deur van ’n vernietigende ANC gelê kan word.
Dit is amper ’n onmoontlike taak vir Mboweni om Woensdag enige goeie nuus te hê. Ekonomiese groeivooruitsigte sal afwaarts aangepas word, so ook verwagtings oor belastinginkomste, maar moenie enige verlaging in staatsbesteding verwag nie!
Dit is veel meer belangrik om “eenheid” in die ANC te handhaaf as om die staat se finansies reg te bestuur.
· Dawie Roodt is die hoofekonoom van Efficient Group en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie