Sakevertroue nou laagste sedert apartheid u2013 SAKKN
Sakevertroue nou laagste sedert apartheid u2013 SAKKN

Sakevertroue nou laagste sedert apartheid – SAKKN

Nellie Brand-Jonker – Nog ’n maatstaf wat aandui hoe swak sakevertroue in die land tans is, het in Augustus tot sy laagste vlak in langer as drie dekades gedaal.

Die indeks van sakevertroue van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN), wat elke maand uitgereik word, was in Augustus amper so laag as wat dit laas in April 1985 was.

Die indeks het van 92 punte in Julie vanjaar tot 89,1 punte in Augustus gedaal.

Bloomberg berig dit is die laagste sedert desinvestering in die land weens die apartheidsbeleid plaasgevind het. Dit was die jaar toe die Verenigde Nasies (VN) se veiligheidsraad sy lede gevra het om verdere verreikende ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika in te stel.

Netwerk24 het vroeër Woensdag berig oor nog ’n indeks oor sakevertroue wat tot sy laagste vlak in 20 jaar getuimel het. Dié indeks van RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) word op grond van ’n peiling saamgestel waaraan 1 800 sakelui deelgeneem het.

Die SAKKN se indeks van sakevertroue word saamgestel uit 13 aanwysers wat ’n aanduiding gee van die heersende sakeklimaat. Dit is kragverskaffing, vervaardiging, uitvoer, invoer, motorverkope, kleinhandelverkope, konstruksie, inflasie, aandeelpryse, lenings in die private sektor, finansieringskoste, edelmetaal se pryse, en die wisselkoers.

Sewe van dié sub-indekse het op ’n maandgrondslag agteruitgegaan en ses is swakker as ’n jaar gelede.

Uitvoer, die swakker rand en ’n daling in aandeelpryse op die JSE was van die faktore wat veral maand tot maand negatief vertoon het.

“Hoewel die ekonomie ’n resessie in die tweede kwartaal vrygespring het, is dit nog nie tyd om te ontspan nie. Dit is omdat groei in die tweede kwartaal deur eksterne faktore aangedryf is, en dit nie in reaksie was op spesifieke stappe deur die regering en die sakebedryf nie.

“Die probleme wat lei tot lae groei, duur voort en moet dringend aandag kry.

“Die ekonomie het die implementering van beleid dringend nodig om die ekonomie aan die gang te kry en werk te skep,” het Alan Mukoki, uitvoerende hoof, en Richard Downing, ekonoom van die SAKKN, gesê.

“Die huidige stand van die fiskale gebreke, maatskaplike ongelykheid en werkloosheid vereis ’n dringende verandering oor hoe die impak daarvan beskou word. Dit is nie meer net ekonomiese terme wat bestudeer moet word nie. Dit is waarskynlik die gevolg van gewelddadige misdaad, plundering en die xenofobiese aanvalle wat tans in die nuus is.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!