Sakevertroue teen die toue

Namibië se sakeklimaatmonitor krimp reeds sedert die begin van die jaar in.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy - Die IJG-sakeklimaatmonitor (BCM) het sedert die begin van die jaar 3,76 punte verloor en het teen Mei op 45,16 punte gestaan – die laagste sedert 2003.
Sedert Mei 2016 het die BCM met 8,44 punte getuimel, toon die jongste monitor wat gister deur die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) vrygestel is.
Enige punt onder 50 beteken 'n inkrimping of negatiewe groei. Die BCM boer reeds die afgelope vyf maande onder dié vlak.
Volgens die IPPR toon die leidende indeks – 'n maatstaf vir sakevooruitsigte – dieselfde neiging en is dit ook op die laagste vlak in 14 jaar.
“Sou die leidende indeks enigsins verder val, sal dit die laagste op rekord wees,” sê die ekonoom Rowland Brown, wat die BCM vir die IPPR saamstel.
Die BCM word uit 31 aanwysers saamgestel. Hiervan het 12 in Mei verbeter, een het onveranderd gebly, terwyl 18 ingekrimp het.
Die jongste syfers vir die bruto binnelandse produk (BBP) wat onlangs deur die Namibië Statistiek­agentskap (NSA) vrygestel is, toon die ekonomie het in die eerste drie maande vanjaar vir die vierde opeenvolgende kwartaal negatief gegroei. Die BCM dui reeds etlike maande op dié resessie, sê Brown.
Die BBP-inkrimping word hoofsaaklik deur 'n “dramatiese verlang­saming” in die konstruksiesektor aangedryf, sê Brown, aangehelp deur die swak vertonings van vervaardiging asook klein- en groothandel. Dié sektorale inkrimpings word reeds vir “baie maande” deur die BCM weerspieël.
In teenstelling met die algemene opvatting is die inkrimping in konstruksie egter hoofsaaklik weens die private sektor wat minder bedrywig is, sê Brown.
Dít is vanweë die konstruksie van die Tschudi-, Otjikoto- en Husabmyn die afgelope 18 maande wat nou afgehandel is, sê hy.
“In vergelyking daarmee is die inkrimping in regeringsverwante konstruksie klein. Vanweë hul blootstelling aan regeringsprojekte word dit egter meer direk deur baie van die kleiner Namibiese konstruksiemaat­skappye gevoel,” sê Brown.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer