Sakkie Coetzee su00ea tot siens
Sakkie Coetzee su00ea tot siens

Sakkie Coetzee sê tot siens

Die Namibië Landbou-unie (NLU) se grootbaas van die afgelope 15 jaar tree vandeesweek af.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Toe Sakkie Coetzee (65) in 2002 aangestel is as uitvoerende bestuurder by die Namibië Landbou-unie (NLU), was dit met twee doelstellings voor oë.

Die eerste was om die groeiende grondkwessie tot voordeel van alle belanghebbendes te takel. Die tweede was om die skakel tussen die uitvoerende bestuur en die regering sterk te hou.

“Ons het destyds gesê ons moet sáám na oplossings vir die grondkwessie soek wat tot almal se voordeel sal wees.”

Dít was deurgaans die NLU se uitgangspunt: vind ’n onderhandelde oplossing pleks van sake in die koerante uit te baklei of dadelik hof toe te beur. Sakkie sê ’n voorbeeld hiervan is die hantering van die grondbelastingsage. “Ons het eers al ons opsies uitgeput voordat ons tot regstappe oorgegaan het,” sê hy.

Het hy in sy doelstellings geslaag? Antwoord ’n beskeie Sakkie: “Wel, dit is seker nie vir my om te sê nie.”

Een ding is seker: die NLU het toegang tot die regering en die unie se insette word as belangrik bestempel. Dit is al verskeie kere deur landbouminister John Mutorwa prontuit gesê. Verder het die konstruktiewe gesprekvoering oor grond bygedrae tot die handhawing van vrede en stabiliteit in die land.

As landbouekonoom wat later ook ’n meestergraad in stad- en streeksbeplanning behaal het, was die NLU die plek waar hy die laaste 15 jaar van sy beroepslewe sy kwalifikasies kon versoen, “en hopelik tot voordeel van die bedryf aanwend”, sê hy, opnuut weer beskeie. In vorige poste was hy met óf die een, óf die ander gemoeid.

Die afgelope maand was ’n baie emosionele tyd vir hom. Om afskeid te neem van ’n span kollegas “wat meer soos familie voel”, is nie maklik nie. “Verder was ek baie keer blootgestel aan strategiese beplanning en ek gaan daardie stimulasie mis.”

Hy het die grootste lof vir die mense wat saam met hom die dag-tot-dag take hanteer en hierdie belangrike landbou-organisasie gestuur het, maar ook vir die president onder wie hy gewerk het – oom Jan de Wet, Raimar von Hase, Derek Wright, en natuurlik Ryno van der Merwe (wat nou vir ’n tweede termyn dien).

Sakkie sê die NLU het oor die jare ’n relatief lae omset van personeel gehad. “Ek is dankbaar vir die span se lojaliteit en die toewyding waarmee hulle taakgedrewe hul werk verrig.”

Wat vir hom uitstaan as hy terugkyk op sy anderhalf dekade by die NLU, is dit hoe die landbou-landskap verander het. “Eerstens het kommunikasietegnologie geweldig verbeter, wat dit vir ons makliker maak om met ons lede te kommunikeer deur byvoorbeeld ons weeklikse elektroniese nuusbrief.”

Verder, sê Sakkie, moes boere baie meer diversifiseer om finansieel te oorleef. “Ek sien dit aan die kriteria wat ons geskep het vir die beoordeling van die Jongboer van die Jaar-inskrywings, wat nou eintlik verouderd is.” Hy sê jonger boere se boerderye het verskeie vertakkings, soos om groente te verbou, kole te brand en trofeejag en toerisme bedryf.

Sakkie meen ook dat een van die grootste uitdagings in die toekoms die winsgewendheid van boerdery gaan wees. “Boere sal moet slimmer boer en meer uit hul grond haal om te kan oorleef.”

Die ander is dat die NLU en sy lede voortdurend aan die voorpunt sal moet bly van die kwessies en gesprekke oor grondhervorming in die land.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!