Saktyd vir 'n waarheidsoeker
Byna vier dekades gelede het Estelle de Bruyn “gedros” by die skool waar sy klasgegee het, en die eerste man wat sy by die destydse dagblad Die Vaderland teëgekom het, vir werk gevra.
Estelle de Bruyn tree aan die einde van Mei as politieke joernalis af. Republikein vier hiermee haar 38 jaar lange bydrae tot die mediawêreld.
Het jy as kind al in nuus en koerante belang gestel?
My ouers het elke aand Die Vaderland gekry en ek kon nie wag om die koerant in die hande te kry nie - om die strokiesprentjies te kyk! My ma het my nuuskierigheid geprikkel vir wat in die wêreld gebeur deur die manier waarop sy my van aktuele wêreldgebeure vertel het.
Toe word jy 'n onderwyser. Hoe het jy in 'n nuuskantoor beland?
Nie my pa of my ma was daarvoor te vinde dat ek kommunikasiekunde studeer en die joernalistiek as loopbaan kies nie. Hul beswaar was dat joernaliste mense is wat in agterstrate rondkrap en ander mense se vuil wasgoed was. Ek het toe maar met 'n beurs van die onderwysdepartement 'n droë ou BA-graadjie en 'n onderwysdiploma gedoen en gaan skoolhou. Een jaar was egter genoeg. Ek het eendag by die skool gedros, in my kar geklim, Johannesburg toe gery en by Die Vaderland se nuuskantoor ingestap. Ek het die eerste man wat ek teëgekom het, vir 'n werk gevra. Sy enigste antwoord was “Wanneer kan jy begin?” waarop ek aangedui het dat ek op 1 Januarie 1981 vir diens sou aanmeld. Toe ek daar begin werk, het ek besef die man was die nuusredakteur. Ek het hom later gevra hoekom hy my aangestel het sonder dat ek enige nuus-, skryf- of tiktoets afgelê het. Sy antwoord was: “Ek het jou jammer gekry.”
Hoe het nuuskantore destyds gelyk?
Dit was so 'n lang saal van 'n kantoor met die sport-, ekonomiese- en vroueredaksies wat in hul eie “glaskaste” gesit het. My eerste redakteur was Harald Pakendorf, en hy en al die ander redakteurs van koerante in die Perskorgroep is as “meneer” aangespreek. Joernaliste het daardie tyd nog pakke en dasse werk toe gedra.
Kan jy die eerste storie onthou wat jy gedoen het?
My eerste storie wat gepubliseer is, was 'n verwerkte nuusverklaring van die munisipaliteit wat gewaarsku het oor die gevare wat boomwortels vir die rioolstelsel inhou. As ek reg onthou, is die eerste inisiatiefstorie wat ek gedoen het 'n onderhoud met die Hell's Angels, wat destyds geld vir die Laingsburg-vloedramp ingesamel het. Dit was baie opwindend en ek het 'n volblad gekry vir my berig en foto's en my eerste byline.
Jy het grootliks politiek gedek – waarom juis dié beat?
Ek het van kleins af 'n belangstelling in die politiek en wêreldgebeure. Toe ek Namibië toe gekom het (agter 'n man, André de Bruyn, aan) was die politieke koors in die land hoog en onderhandelinge oor wanneer en óf Resolusie 435 van die Veiligheidsraad geïmplementeer gaan word. 'n Mens kon nie anders as om meegesleur te word nie. Dit het my egter tot 1 April 1989 geneem om op die politieke redaksie van die Suidwes-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SWAUK) aangestel te word. Net betyds om deel van dié opwindende hoofstuk in Namibië se geskiedenis te wees.
Wat het jou uiteindelik laat voel jy hoort in die nuusbedryf?
As ek teruggaan na my Johannesburg-dae, dink ek die dag wat ek tik onder die knie gekry het en myself op 'n tikmasjien kon uitdruk, was die koeël deur die kerk. Ek het aanvanklik erg gesukkel en dit het my laat wonder of ek nie 'n groot fout gemaak het nie. Toe ek as stadsverslaggewer aangestel is om oor die Johannesburgse stadsraad te berig, was dit 'n groot voorreg. Ek het uiteindelik 'n beat gehad, ek het “gearriveer”, ek was 'n joernalis.
Jy het dikwels vir werk gereis – watter reis staan vir jou uit?
Elke oorsese reis is besonders. Ek het probeer om met elke besoek iets van die betrokke land se geskiedenis of kultuur te beleef. In Berlyn was die Pergamon-museum 'n hoogtepunt en in Mexiko die besoek aan Chichen Itza. Toe ek in die lente in Parys was, het ek 'n dagreis na Giverny onderneem waar ek die woning en tuin van Claude Monet, kompleet met die meer met die waterlelies, besoek het.
Tog sal ek New York en die 50ste herdenking van die totstandkoming van die Verenigde Nasies en pres. Nelson Mandela se deelname aan dié geleentheid, uitsonder. Ek is as redaksielid van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se TV-nuusspan gestuur.
Watter van jou ontmoetings met politici het die meeste uitgestaan?
Natuurlik het oudpres. Nelson Mandela 'n onvergeetlike indruk gemaak. Sy nederigheid en medemenslikheid staan kop en skouers uit bo enige ander nuusmaker met wie ek ooit gewerk het. Een van die grotes wat ek die voorreg gehad het om te ontmoet, was oudpres. Julius Nyerere van Tanzanië. Oudpres. Mandela het hom aan my voorgestel tydens die laaste sitting van die frontliniestate in Harare in 1994. Wat a charismatiese maar tog plat-op-die-aarde mens.
Wie was die moeilikste nuusmaker om 'n onderhoud mee te voer?
Oudpres. Sam Nujoma. In die eerste plek was dit moeilik om 'n onderhoud met hom te kry. Dit het een keer gebeur dat ek gedink het ek het 'n eksklusiewe onderhoud en toe ek daar kom, sit 'n span ander joernaliste ook daar wat op my onderhoud inluister. Hy was ook 'n uitdaging omdat hy geantwoord het net wat hy wou en nie noodwendig jou vraag beantwoord het nie.
Jy was deel van soveel geskiedkundige gebeure, is daar 'n paar wat jy kan uitsonder?
Die voorreg om die politieke oorgangsproses in nie een nie, maar twee lande te kon dek. In 1989 en 1990 was dit die aanloop tot Namibië se eerste demokratiese verkiesing, Untag, die verkiesing self, die skryf van 'n grondwet en onafhanklikwording met die wie's wie van die wêreld wat op Windhoek toegesak het. Van 1992 af was ek by die SAUK betrokke by die onderhandelinge oor die nuwe Suid-Afrikaanse grondwet en die demokratiseringsproses in dié land. Dit was net so opwindend en die Namibiese ondervinding het my op 'n unieke manier op die gebeure in Suid-Afrika voorberei. Ek het ook TV-nuusdekking gedoen die dag toe oudpres. Nelson Mandela vir die eerste keer in sy lewe gestem het. Dit was 'n dag wat my hoendervleis oor my hele lyf gegee het.
Het jy ooit flaters begaan?
Te veel om op te noem. Toe ek vir die eerste keer 'n regstreekse radio-uitsending in Engels van Kempton Park af oor die onderhandelinge vir 'n nuwe Suid-Afrikaanse grondwet moes doen, en dit op die eerste dag wat ek ná my kraamverlof terug by die werk was, het ek my naam lelik met 'n plank geslaan. Ek weet nie wat my besiel het nie, maar toe die omroeper my vra: “Wat happened with the negotiations today?” was die eerste woorde uit my mond: “Delegates agreed today . . . ” en toe besef ek daar is nie 'n teken van enige “agreement” oor enigiets nie. Ek het myself toe uit die netelige situasie gepraat deur te verduidelik “they agreed to disagree”.
Wat is die eienskappe van 'n goeie joernalis?
Eerlikheid, nederigheid en die besef dat jy nooit groter as die storie is nie. Integriteit, nuuskierigheid, 'n opregte soeke na die waarheid en respek vir jou lesers, luisteraars of kykers en die besef dat jy in húlle diens is.
Hoe verskil joernaliste van 30 jaar gelede en dié van vandag?
Ek het altesaam 38 jaar as joernalis gewerk en oor die jare was daar groot veranderinge. Daar is destyds nog in nuuskantore gerook en joernaliste het hard partytjie gehou, soms sommer op kantoor. In dié verband kan ek darem sê ons het meer professioneel geword. Daar was ook 'n formaliteit tussen die redaksie en hoofredaksie wat vandag ongeken is. Dis jammer dat die jonger garde deesdae te veel op hoorsê staatmaak en hulle nie dubbel en dwars van die feite vergewis voordat hulle hand aan sleutelbord slaan nie.
Is daar joernaliste uit jou loopbaan wat jy bewonder?
Toe ek die eerste keer op universiteit van Oriana Fallaci, die meesterlike Italiaanse joernalis, hoor, was ek uitgeboul. Ek bewonder haar onverskrokkenheid en ongelooflike talent met woorde tot vandag toe. Ook mense soos Harald Pakendorf, oom Angel Engelbrecht, Des Erasmus, Gwen Lister, Hannes Smit, Ronelle Rademeyer en vele meer.
Watter storie sal jy nooit vergeet nie?
Die ware weergawe van 1 April 1989 se gebeure toe Plan-vegters, wat veronderstel was om op hul basisse in die suide van Angola te bly voordat hulle na Namibië gerepatrieer sou word, en na hul dood gestuur is op 'n vrugtelose sending om Namibië binne te val, bly vir my 'n hoogtepunt. Dit het jare gevat voor dié met ware binnekring-insig oor die gebeure my voldoende vertrou het om die waarheid, in teenstelling met die propaganda-weergawe, met my te deel. Ek bewonder hulle vir die feit dat hulle my daarmee vertrou
het.
Dan natuurlik die onthullings dat Namibië sedert 2006 die Verenigde Nasies se sanksies teen Noord-Korea geskend het deur winsgewende bouprojekte aan Noord-Koreaanse regeringsmaatskappye toe te ken. Dit was 'n gesamentlike poging deur my en Ronelle. Dit was skrikwekkend! Tog, toe die aankondiging die dag kom dat al die Noord-Koreane aan die land onttrek het, kon ons 'n sug van verligting slaak.
Hoe het joernalistiek jou verander?
Dis vreemd, maar ek is eintlik 'n redelike introvert. Joernalistiek het my geleer om uit my dop te kruip, om 'n standpunt te huldig en dit te verdedig, om buite die spreekwoordelike boks te dink.
Dink jy joernaliste is goeie ma's? Is hul kinders “straatslimmer” omdat hulle dikwels in 'n nuuskantoor grootword?
Natuurlik is joernaliste goeie ma's! Omdat ons gereeld met politici werk, kan jy maklik jou kind uitvang as hulle kluitjies bak. Dat redaksie-kinders nogal oopkop is en oor 'n redelike algemene kennis beskik, is waar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie