SAL 'n toetslopie vir kragkrisis?
Die nasionale lugredery se probleme is 'n vulletjie in vergelyking met Eskom s'n.
Henry Jeffreys
Die besluit om die SAL in sakeredding te plaas was 'n desperate dog dapper stap met verreikende gevolge vir hoe die land moontlik vorentoe sukkelende staatsondernemings uit die moeilikheid kan bestuur. Die vraag wat onmiddellik opduik, is of Eskom die volgende kandidaat vir sakeredding behoort te wees. Dit sal afhang van hoe daar met die SAL gevorder word.
Die sakeredding-besluit het die SAL van onvermydelike bankrotskap gered. Die proses en uitkoms sal nie net plaaslik fyn dopgehou word nie, maar ook internasionaal – veral deur die internasionale kredietgraderingsagentskappe.
Die besluit het gevolg ná volgehoue druk deur Solidariteit.
Dié vakbond se betrokkenheid is op sigself van ironiese interessantheid. Sy voorganger was die ou verregse Mynwerkersunie van Suid-Afrika, maar die moderne leiers van Solidariteit het hom sentristies geposisioneer, in skerp teenstelling met die meeste ander, oorwegend swart vakbonde, wat openlik sosialisties in aanslag en ideologie geposisioneer is.
Solidariteit het egter vinnig van net vakbond ontwikkel in 'n beweging wat sterk fokus op die grondwetlike en burgerregte van veral Afrikaners, terwyl die meeste ander vakbonde hulle toespits op die belange van swart mense. Solidariteit is deesdae bekend as 'n vakbond wat betrokke is by kwessies van meestal wit burgerlike en kultuurregte.
Die opkoms van Solidariteit is aanvanklik met vyandigheid begroet deur ANC-gesinde vakbonde en organisasies, maar hy het daarin geslaag om respek af te dwing onder sy kritici in die vakbondwese en in die regering.
VAKBONDVENNOTE
Soos die krisis by die SAL ontvou het, was Solidariteit die enigste stem wat sakeredding bepleit het.
Die regering, waarskynlik uit vrees vir sy invloedryke vakbondvennote, wou aanvanklik nie luister nie, maar Solidariteit het sy stem net dikker gemaak en uiteindelik met regsaksie gedreig. Die regering se weerstand het verlede week uiteindelik geknak.
Verrassend genoeg het die vernaamste swart vakbonde nie die besluit teengestaan nie. Selfs die verlinkse National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het dit – langtand en met sekere voorbehoude – aanvaar. Dit kan as 'n oorwinning vir Solidariteit beskou word, maar hy het wyslik besluit om nie daaroor te kraai nie.
Die SAL gaan steeds sowat R4 miljard van belastingbetalers se geld ontvang om die sakereddingspoging te olie.
Dit is om die man in beheer van die sakeredding, Les Matuson, die beweegruimte te gee om met krediteure te onderhandel. Maar dié nuwe inspuiting mag nie ontaard in goeie geld wat vrot aangewend word nie.
Die SAL se probleme is tipies van 'n knaend wanbestuurde onderneming. Matuson sal dele van die SAL se bates wat verkoopbaar is, moet identifiseer, tesame met moontlike kopers. Dit sal nie maklik wees nie, maar is onafwendbaar. Die SAL moet nou op 'n “red wat te redde is”-grondslag geplaas word.
Dit is ook belangrik dat Matuson die nodige ruimte gegee word om sy taak suksesvol af te handel. Onnodige inmenging van veral die regering se kant moet ten alle koste vermy word.
Die besluit om die SAL in sakeredding te plaas is in baie opsigte 'n belangrike toetslopie vir 'n ander uitdaging wat by die dag 'n groter skaduwee oor die ekonomie gooi – Eskom. Die SAL en sy probleme is 'n vulletjie in vergelyking met Eskom s'n.
Dit is moeilik om die weg uit die Eskom-krisis te sien. Sakeredding is dalk ook 'n opsie. Dalk moet Solidariteit se ringkoppe hul potlode skerp maak en op Eskom se redding konsentreer. Dalk het die nuwe Eskom-baas, Andre de Ruyter, 'n helpende hand van Solidariteit nodig.
• Jeffreys is 'n onafhanklike kommentator. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie