SAL: Vakbonde vies oor vlugte gesny word
SAL: Vakbonde vies oor vlugte gesny word

SAL: Vakbonde vies oor vlugte gesny word

Die SAL se laekostelugdiens Mango sal die plaaslike roetes bedien.
Elvira Wood - Georganiseerde arbeid is so kwaad oor die besluit om verskeie vlugte van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te kanselleer, dat hulle dit oorweeg om ’n aansoek te bring om die sakeredders te vervang.

Les Matuson en Siviwe Dongwana is aangestel om die SAL se sakeredding te behartig.

Die SAL het Donderdag aangekondig alle binnelandse vlugte buiten dié tussen Kaapstad en Johannesburg, asook van sy internasionale vlugte, word gekanselleer.

Internasionale roetes wat geraak word, sluit in Abidjan via Accra, Entebbe, Guangzhou, Hongkong, Luanda, München, Ndola en São Paulo.

Die SAL se laekostelugdiens Mango sal die plaaslike roetes bedien.

Roger Foster, uitvoerende hoof van Airlink, het aan Fin24 gesê dié lugdiens sal nie huiwer om van die roetes oor te neem waarheen die SAL nie meer in Afrika vlieg nie.

Phakamile Hlubi-Majola, nasionale woordvoerder van Numsa, het Donderdagmiddag laat in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê hulle is absoluut geskok oor die aankondiging.

Sy sê die vakbond is daarvan oortuig dat die tien roetes winsgewend bedryf kan word.

Hulle is veral kwaad omdat die sakeredders geen behoorlike regverdiging vir die besluit gee nie.

“Toe ons gevra het hoe hulle die besluit regverdig, is geen besonderhede gegee nie. Die sakeredders het net gesê dit is noodsaaklik om die voortbestaan van die lugdiens te verseker nadat die tesourie met voorbedagte rade besluit het om nié die R2 miljard te betaal wat vir die SAL belowe is nie.

“Ons vind dit verbysterend dat net die bestuur van die SAL hieroor gekonsulteer is. Dit is die bestuur wat ons in dié benarde posisie gekry het wat nou raad gee om tien roetes te sluit,” het sy gesê.

“Wat erger is, is dat die sakeredders byvoorbeeld nie eens vir ons kan sê hoeveel geld gespaar gaan word deur dié drastiese besluit nie.”

Sy en Derek Mans van Solidariteit sê wat hulle behoorlik die harnas ingejaag het, is dat die verklaring oor die besluit uitgestuur is terwyl daar met arbeid vergader is.

“Die ‘konsultasie’ (van vandag) is dus niks meer as om net ’n regmerkie op ’n vorm in te vul nie,” sê Hlubi-Majola.

Die ‘konsultasie’ (van vandag) is dus niks meer as om net ’n regmerkie op ’n vorm in te vul nie.

Phakamile Hlubi-Majola

Mans het in ’n onderhoud met Netwerk24 bevestig dat net Dongwana die vergadering Donderdag met vakbonde bygewoon het. Matuson was nie teenwoordig nie.

Louise Brugman, skakelbeampte van die sakeredders Matuson & Associates, het egter vroeër die dag aan Netwerk24 gesê die vergadering met vakbonde is “om hulle in te lig, nie om met hulle te onderhandel nie”.

Hlubi-Majola sê na dese glo die vakbond nie meer in Matuson se onafhanklikheid nie.

Sy wys daarop dat die SAL op sy eie besluit het om vliegtuie te verkoop én om ander vlugte te kanselleer, en dat die sakeredders dan net dié besluite gesteun het.

“Numsa en Sacca het al in Desember, toe die SAL in sakeredding geplaas is, gesê dié vrywillige sakeredding is niks meer nie as ’n proses om die lugdiens onder die vaandel van sakeredding te likwideer.”

Mans sê ook hulle is baie bekommerd oor die proses wat gevolg word.

“Ons het vroeër die week ook met die sakeredders vergader. Hulle wou toe ons insette hê oor ’n versnelde herstruktureringsproses wat geïmplementeer gaan word nog voordat die sakereddingsplan op 28 Februarie gepubliseer word.

“Solidariteit kan tot geen versnelde plan instem totdat ons die plan gesien het nie.

“Boonop kan geen plan buite die raamwerk van die Wet op Arbeidsverhoudinge deurgevoer word nie,” sê hy.

Mans sê georganiseerde arbeid is net Woensdagmiddag laat versoek om Donderdag ’n vergadering by te woon. Geen verduideliking is gegee oor waaroor die vergadering sou handel nie.

“Toe ons daar aankom, het hulle ons ingelig oor die roetes. Dit lyk of die versnelde proses geïmplementeer is sonder dat daar met arbeid gekonsulteer is,” sê Mans.

Mans én Hlubi-Majola het bevestig dat hulle regsmenings oor die kwessie gaan kry.

Hoewel vakbonde kwaad is oor die aankondig, sê die DA dit is duidelik ’n teken dat die SAL binnekort gaan vou.

Ghaleb Cachalia, DA-LP, het Donderdag in ’n verklaring gesê dit is nou baie duidelik dat die lugdiens in duie gestort het.

“Dit lyk of die skrif aan die muur is waar almal behalwe die ANC-regering dit kan sien. Hulle is duidelik daartoe verbind om steeds die publiek se geld te mors.

“Ons kan nie die SAL aanhou steun bloot weens ’n misplaaste ‘nasionale trots’ nie.

“Die lugdiens struikel van die een ramp na ’n volgende,” sê hy in die verklaring.

Cachalia meen hoe gouer die lugdiens gelikwideer word, hoe beter. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!