Sal wu00eareld Trump se skade kan herstel?
Sal wu00eareld Trump se skade kan herstel?

Sal wêreld Trump se skade kan herstel?

Volgens ’n Duitse ontleder wil pres. Donald Trump die internasionale wêreldorde van ná 1945 vernietig.
Leopold Scholtz - Daar is min wêreldleiers wat soveel heftige menings, sowel positief as negatief, uitlok soos juis pres. Donald Trump van Amerika.

Om dit oordrewe te stel, sommige meen hy is die beste wat sedert Jesus Christus met die mensdom gebeur het; ander sien in hom die ergste sedert Adolf Hitler en Josef Stalin.

Een kenner wat rustig en rasioneel na Trump kyk, is die Duitse ontleder Thomas Kleine-Brockhoff. Kleine-Brockhoff was adviseur van pres. Joachim Gauck (tot onlangs Duitse staatshoof), en is tans ondervoorsitter van die German Marshall Fund of the United States, ’n organisasie wat hom vir goeie betrekkinge tussen Duitsland en Amerika beywer.

Hy was verlede jaar ook een van 12 ondertekenaars van ’n manifes met die titel “Ondanks alles, Amerika”, waarin gepleit is dat Europa – ondanks Trump – Amerika nie moet afskryf nie. Trump is net tydelik aan die bewind, het die ondertekenaars aangevoer, en daarna sal Europa weer saam met Amerika verder moet gaan.

Die ernstige Nederlandse koerant NRC Handelsblad het nou ’n boeiende, uitgebreide onderhoud met Kleine-Brockhoff gevoer waarin hy veral twee opmerklike uitsprake maak.

Die eerste is dat Trump die internasionale, op regsreëls-gefundeerde, wêreldorde van ná 1945 wil vernietig.

Hy sê daar is ’n sekere kontinuïteit tussen pres. Barack Obama en Trump: “Ook Obama wou vrede sluit met ou vyande, ook Obama wou die laste anders laat verdeel.” (Hier verwys Kleine-Brockhoff na die onlangse ooreenkoms van Trump met Noord-Korea, en Trump se aandrang dat die Europese Navo-lidlande meer aan die Weste se gemeenskaplike verdediging moet bestee).

‘MOENIE VSA AFSKRYF’

'Moenie VSA afskryf, Trump is tydelik aan bewind.’

Maar, sê Kleine-Brockhoff, Obama wou nie die internasionale orde aantas nie; hy wou eenvoudig Amerika se rol kleiner maak – “leading from behind”, was Obama se houding.

Daarteenoor wil Trump die wêreldorde wat ná 1945 tot stand gekom het, vernietig. “Hy sien daarin ’n beperking op sy handelsvryheid, ’n dwangbuis wat hy dus in sy ekstremisme doelbewus wil vernietig.”

Die tweede punt van die Duitser is dat Amerika sedert die Tweede Wêreldoorlog ’n belangrike en stabiliserende rol in Europa gespeel het.

“Die Amerikaners kon ander Europese lande, byvoorbeeld Pole, gerusstel oor die rol van Duitsland: ‘Moenie bang wees nie, ons staan agter julle, ons sorg vir ewewig’. As Amerika se balanserende rol wegval, sal dit gevolge hê vir Duitsland en hoe Duitsland in Europa gesien word.”

Hy verduidelik die Amerikaanse rol deur die voorbeeld van die Marshall-hulp – die miljarde wat Amerika ná 1945 in Europa ingepomp het om die smeulende ruïne weer op te bou: “Die Amerikaanse idee daaragter was nie ‘julle kry hulp en moet dan met óns saamwerk’ nie, maar ‘julle kry hulp en moet dan met mekáár saamwerk, ook met die voormalige aggressor’. Sonder Amerika sal die verdeeldheid in Europa wat jy nou al sien, sterker word.”

Kleine-Brockhoff sê dis logies dat Amerika sy aandag deesdae op ander wêrelddele toespits.

“Maar waardeur ons oorval is, is nie soseer die bot en vulgêre manier waarop Trump dit doen nie. Die pynlike verrassing is dat Amerika afstand doen van sy rol as die groot land wat in die bres tree vir die Weste as gemeenskap van waardes. Dis veel ernstiger. Ek het nooit gedink dis moontlik nie.”

Tot sover Kleine-Brockhoff.

BAND WANKEL

’n Reeks optredes van Trump het inderdaad meegebring dat die hegte Transatlantiese band tussen sy land en Europa aan die wankel is. Dit gaan hier nie om die vraag of Trump reg of verkeerd is nie; bloot om die feit dat die band deels weens sy optrede aan die uitrafel is.

Niemand maak op sigself beswaar daarteen dat Trump vrede soek met Noord-Korea nie. As hy daarin slaag – en, gesien die wyse waarop die Noord-Koreane misleiding tot ’n fyn kuns vervolmaak het, staan dit nog te besien – kan dit slegs goed vir die internasionale veiligheid wees.

Maar Trump maak terselfdertyd rusie met al wat leef en beef: Met sy tradisionele bondgenote – Europa, Kanada, Mexiko, Australië, Suid-Korea, Japan, noem maar op – maar ook met Amerika se sterkste mededingers, soos China.

Net vandeesweek het hy ’n tweede reeks invoertariewe ter waarde van $200 miljard teen Chinese goedere aangekondig. Dit in antwoord op Chinese teenmaatreëls nadat Trump oorspronklik tariefverhogings ter waarde van $50 miljard ingestel het.

Ook Europa en Kanada is van plan om Amerikaanse goedere in antwoord op Trump se tariefverhogings te tref. Hiermee het Trump willens en wetens met ’n handelsoorlog begin waarvan regdeur die moderne geskiedenis onomstootlik geblyk het dat niémand dit uiteindelik wen nie, dat álmal juis verloor.

Dis nie dat Trump geen regverdiging vir sy oortuigings het nie. Europa skuil inderdaad te selfgenoegsaam agter die breë Amerikaanse rug vir sy veiligheid. China maak inderdaad misbruik van staatsubsidies en invoertariewe om ’n – vir hom – kunsmatige voordelige handelsbalans teweeg te bring.

BABA MET BADWATER

Dat Trump ontevrede daarmee is, bevraagteken geen onafhanklike ontleder nie. Maar, so is die algemene konsensus, veral in Europa, Trump skiet te ver deur. Hy gooi die baba met die badwater weg.

Ook Suid-Afrika se staalnywerheid word deur sy beleid benadeel. Die beweging Solidariteit, aan wie geen mens utopiese linkse oortuigings kan toeskryf nie, het selfs ’n petisie begin wat aan die Amerikaanse regering oorhandig gaan word.

Trump se onttrekking van sy land aan verskeie internasionale multilaterale instellings pas in by sy benadering dat Amerika se belange eerste moet wees, dat al die ander Amerika altyd probeer benadeel.

Hy het Amerika onttrek aan die Parys-klimaatakkoord, die verdrag waarvolgens Iran sy kernwapenprogram gestaak het, en nou ook aan die VN-Menseregtekommissie.

Daar is mense wat vrees – die woord verwag is dalk (nog?) te sterk – dat Trump Amerika ook aan Navo en selfs die VN kan onttrek.

Maar goed, Trump sit nou eenmaal in die Withuis, en binne sy eie Republikeinse Party is die openbare kiesersteun taamlik groot. En dus is ook die meeste Republikeinse kongreslede versigtig om die president openlik aan te pak.

Hy gaan ten minste nog die volgende twee en ’n half jaar agter die lessenaar in die Ovaalkantoor sit. Die wêreld sal daarmee moet saamleef.

Uiteindelik is die bekende woorde van ’n 19de-eeuse Britse minister van buitelandse sake, lord Palmerston, hier van toepassing: Lande het geen permanente vriende nie; net permanente belange.

Met dít as uitgangspunt kan ’n mens sê dat Europa en Amerika mekaar te nodig het om mekaar permanent te laat val. Presidente en premiers kom en gaan; die belange bly bestaan.

Dus meen nugter kommentators soos Kleine-Brockhoff dat Europa – en die res van die wêreld – die volgende paar jaar moet bestee aan die beperking van die skade wat Trump aan die internasionale struktuur kan aanrig. En verder moet na die tydperk ná Trump gekyk word sodat die bande ná sy vertrek weer herstel kan word.

Die groot vraag is egter of die skade wat Trump aanrig nie dalk te groot vir herstelwerk gaan wees nie. ’n Antwoord hiérop is nie nou al moontlik nie.

* Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en onafhanklike politieke ontleder. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer