Salt Company vier 80 jaar

'n Maatskappy wat reeds vir 80 jaar sout aan die kus produseer, maak net van sonkrag gebruik.
Jessica Botes
Jessica Botes

Die Salt Company op Swakopmund het Saterdag hul 80ste verjaarsdag gevier met die amptelike opening van ‘n nuwe perseel op die dorp.

Die maatskappy is in 1936 gestig deur mnr. Rudolf Klein wat die eerste grootskaalse soutmyn langs die Namibiese kus net noord van Swakopmund opgerig het. Salt Company was die eerste maatskappy wat destyds daarin geslaag het om goeie gebruik te maak van die klam kusklimaat om sout te produseer met die verdamping van seewater.

Volgens mnr. Jannie Klein, die besturende direkteur van Salt Company, het mense destyds sout uit klein gate in die grond gemyn. Die gate is met plastiek bedek sodat die souterige grondwater (brakwater) die gate kon vul, verdamp en sout vorm.

“Die boere is toe gevra om sakke te bring om die sout te laai. Almal het swaargekry en niemand kon daarin slaag om ‘n goeie bestaan daaruit te maak nie,” sê Jannie.

Sy oupa, Rudolf, het toe besluit om al die klein soutmyners bymekaar te kry en een groot soutmyn te stig.

“Hy het aan die begin ‘n ou Duitse metode gebruik om sout te produseer deur soutwater oor groot nette te laat vloei, maar dit het nie genoeg sout verskaf nie. In 1950 het die maatskappy ‘n Lübecker masjien in Duitsland gekoop wat toe gebruik is om kanale vol seewater te pomp. Die kanale is later groter gemaak en die eerste soutpanne is toe gemaak. Vandag pomp ons 1 000 m³ seewater per uur in die soutpanne in,” het Jannie gesê.

Die water vloei met die gebruik van kanale van een pan na die volgende een wat dan ook die water meer blootstelling aan wind en son gee en so versnel dit ook die verdampingsproses. Volgens Jannie vat die proses wel langer aan die kus, maar dit sorg weer dat die eindproduk 97,5% suiwer sout bevat. Die hele proses duur sowat 18 maande.

Die maatskappy produseer huidiglik sowat 120 000 ton sout per jaar, waarvan 80 000 ton na die buiteland uitgevoer word. Die Salt Company is ook die enigste soutmyn in Suider-Afrika wat natuurlike soutlek produseer.

“Ons soutmyn gebruik net sonkrag en die soutpanne wat ‘n tuiste vir talle voëlspesies is, is as 'n natuurreservaat geregistreer. Dit is weens ‘n mensgemaakte vleiland dat daar nou ‘n natuurreservaat is. Ons het ‘n blans tussen die natuur en mynbou geskep en ons is nie vanplan om dit te verander nie,” het Jannie gesê.

Mnr. Vetson Malango, die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van Mynwese, het tydens die opening van die nuwe perseel, die Salt Company geluk gewens op sy baie jare van sukses.

“Hierdie maatskappy is eg Namibies en al sy aandellhouers, bestuur en werkers is Namibies. Omdat sout ‘n hernubare bron is, sal die soutmyn vir baie generasies nog aan die gang wees en mense van werk verskaf,” het hy gesê.

Buiten die soutmyn op Swakopmund, bedryf die maatskappy ook ‘n soutmyn en guano platforms by Kaap Kruis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!