Saluut vir Shalulile!

As gesamentlike houer van die Goue Skoen-toekenning vir die meeste PSL-doele hierdie seisoen, is die Namibiër glo boonop op die rand om ’n kontrak met ’n nuwe klub te beklink.
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die Namibiese skerpskutter Peter Shalulile het Saterdag vir Highlands Park-sokkerklub sy sestiende doel van die afgelope seisoen in die Suid-Afrikaanse Premiersokkerliga teen AmaZulu behaal.

Shalulile se kolskoot in die doodsnikke het nie net die telling gelykop (1-1) laat eindig nie, maar plaas hom saam met Orlando Pirates se Malawiese voorspeler Gabadinho Mhango as die voorste doelskieter vir die afgelope seisoen op die podium om die buurland se Lesley Manyethela Golden Boot-toekenning op te raap.

Die Leeus van die Noorde, soos die klub ook bekend staan, eindig algeheel negende in dié seisoen se Premierliga, terwyl AmaZulu die 13de posisie inneem.

Shalulile het vier dae gelede op sy Facebook-blad geskryf: “Dit is in die donkerste tye dat ons moet fokus om die lig te sien. Om sukses te behaal, moet ons nie net aksie neem nie, maar droom, beplan en in onsself glo. As ons die moed het om ons drome na te streef, kan dit bewaarheid word.”

Of Shalulile na sy klub se laaste uitstappie van die seisoen verwys het, of reeds ’n moontlike 16de nettreffer in gedagte gehad het, sal niemand weet nie. Maar dat die gewilde Brave Warriors-speler opnuut Namibië se naam hoog gehou het, is gewis.

Shalulile is ook in die wedloop teen Bonginkosi Ntuli (AmaZulu), Lebogang Manyama (Kaizer Chiefs), Samir Nurkovic (Kaizer Chiefs), Themba Zwane (Mamelodi Sundowns), Richard Ofori (Maritzburg United), Gabadinho Mhango (Orlando Pirates) en Ronwen Williams (SuperSport United) gewikkel om as die sokkertydskrif Kick Off se speler van die seisoen bekroon te word.

• In ’n berig gister deur Kick Off sê dié publikasie die hangende transaksie tussen Shalulile se klub, Highlands Park, en Mamelodi Sundowns is op die rand van afhandeling.

Sundowns, pas bekroon as kampioenklub vir 2019-2020 wat hul totale aantal PSL-titels tot tien laat opskuif, het in die proses die wennerstjek van R15 miljoen opgeraap. Sundowns is reeds vir ’n geruime tyd die voorloper in die wedloop om die vlugvoetige Namibiër Shalulile se dienste vir aanstaande seisoen op te raap.

Higlands Park se mededirekteur Brad Kaftel het aan Kick Off gesê: “Dit lyk asof ons Shalulile en (Mothobi) Mvala (middelveldspeler van Bafana Bafana) aan Sundowns verkoop het. Ek het nie ’n afskrif van die kontrak om jou te wys nie, maar ek het die kontrak onderteken. Ons wag nou vir hulle, maar ja, dit lyk of hulle ook sal teken.”

Kaizer Chiefs se vroeër belangstelling in Shalulile is waarskynlik in die wiele gery deur dié spogklub se vroeër onregmatige aankoop van ’n speler uit Madagaskar in 2018 – ’n oortreding wat daartoe gelei het dat die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) die Soweto-klub verbied het om binnelands of buitelands nuwe spelers te kontrakteer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!