Sam Nujoma ‘gesond’
Denver Kisting – Daar skort glo niks met die 90-jarige stigterspresident, mnr. Sam Nujoma, se gesondheid nie.
Trouens, sê sy senior spesiale assistent, mnr. Paul Shipale, hy het die afgelope naweek sy gade, me. Kovambo Nujoma, se 87ste verjaardagpartytjie bygewoon.
Shipale sê om dít te bevestig kan enigeen van die gaste gevra word.
Hy vermeld geen name van diegene wat die partytjie bygewoon het nie of hoeveel mense daar was nie.
Shipale sê Nujoma is tans in Windhoek – nie in die Noorde van die land nie – en is ook nie in die hospitaal soos in die sosiale media beweer word nie.
Die verjaardagverrigtinge het by die egpaar se huis in die hoofstad plaasgevind, sê hy.
Wat hom betref, het dié beweerde kwaadwillige beweringe ten doel om Nujoma se beeld skade te berokken en kom neer op naamskending, sê Shipale.
Volgens hom het die stigterspresident verskeie aanslae op sy lewe aan die hand van die apartheidsmagte oorleef, maar staan steeds sterk.
Nujoma word op 12 Mei 91 jaar oud.
Op dié argieffoto is oudpres. Hifikepunye Pohamba en Nujoma. Foto Denver Kisting
[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie