Samaria betrek Pat vir CHAN-reis

Sokker
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Pat-Nevin Uanivi, gesoute verdediger van African Stars, is deur Namibië se afrigter Bobby Samaria vir sy groep van 20 gekies wat gisteroggend na Madagaskar vertrek het.

Die 32-jarige Uanivi kan moont­lik selfs in die begin-elftal van die Tafel Lager Brave Warriors wees wanneer hulle Sondag in Antananarivo se Municipal de Mahamasina-stadion vir hul eerste kwalifiserende wedstryd vir die 2020 Afrika-Nasieskampioenskap (CHAN) teen Madagaskar opstap.

Uanivi is tevore deur nasionale afrigters grootliks vanweë sy kleinerige liggaamsbou oor die hoof gesien – ondanks sy puik rekord as klubspeler.

Samaria, die Warriors se tussentydse hoofafrigter, se reisgroep sluit Ratanda Mbazuvara, Stars se doelwagter, as sy eerste keuse in.

Charles Uirab (Unam) is op bystand met die handskoene, met Dynamo Fredericks as kaptein om die span na 'n oorwinning te lei.

Uit die groep wat die vorige CHAN-uitdunronde met Comore afgereken het, is net Isaskar Gurirab weens 'n besering weggelaat, terwyl Junius Theophilus weens sy aansluiting by 'n Ethiopiese klub buite rekening is.

Die titaniese mededinger Marcel Papama, Panduleni Nekundi, Mapenzi Muwanei en Absalom Iimbondi het ook die uitgelese groep na die eiland gehaal. Ivan Kamberipa en Uanivi kan straks deur Samaria as beproefde kombinasie by Starlile in die middelveld gebruik word om Madagaskar se aanvalle te smoor.

Samaria, wat sedert die verstryking van die Ricardo Mannetti-regime die Warriors brei, sê Namibië het 'n oorvloed talent.

“Ons het meer as genoeg talent, maar dit is 'n kuns om die regte kombinasies bymekaar te kry om jou teenstander te uitoorlê,” het Samaria op www.NFA.org.na gesê.

Die Brave Warriors stap Sondag om 14:30 plaaslike tyd (13:30 in Namibië) teen hoofafrigter Nicolas Dupuis en kaptein Faneva Andriatsima se troepe op die veld. Die groep keer Dinsdag terug en speel dan eers weer op 19 Oktober in die Sam Nujoma-stadion in die herontmoeting teen Madagaskar.

Madagaskar het sy eerste botsings in die vorige ronde teen Mosambiek met 1-0 gewen, maar moes in sy wegwedstryd die knie met 3-2 buig. Omrede die Bareas (vernoem na Madagaksar se inheemse zebu-bees) meer doele in die wegwedstryd aangeteken het, het hy as wenner gevorder om in die volgende ronde teen Namibië kragte te meet.

Die wenner tussen Namibië en Madagaskar (op aggregaattelling) sal regstreeks vir die 2020 CHAN-kampioenskap kwalifiseer wat in Kameroen aangebied gaan word.

Madagaskar word tans as die 96ste beste span ter wêreld deur Fifa beskou, terwyl Namibië net die 121ste aanspraakmaker op die ranglys is. Soos Samaria egter uitwys, tel die ranglys vir byna niks, “want daar is nie meer enige klein spannetjies in Afrika nie”.

Die Brave Warriors-spelersgroep: Ratanda Mbazuvara, Charles Uirab, Pat-Nevin Uanivi, Ivan Kamberipa, Obrey Amseb, Marcel Papama, Gustav Isaak, Larry Horaeb, Aprocious Petrus, Immanuel Heita, Dynamo Fredericks, Vitapi Ngaruka, Emilio Martin, Wendell Rudath, Llewelyn Stanley, Absalom Iimbondi, Gregory Aukumeb, Panduleni Nekundi, Elmo Kambindu, Mapenzi Muwanei.

FAMILIE VAN BALJAGTERS

Uanivi, wat na die legendariese Pat-Nevin van Chelsea vernoem is, het in die voetspore van sy pa Boas Tjingaete sy eerste tree as 17-jarige in 2004 vir Starlile as verdediger op die sokkerveld gemaak.

Sy broer, Tjiuee Uanivi, het egter op laerskool (Pionierspark) op die ovaalbal verlief geraak. Die reuse-slot van 2.00 meter het al vir die Sharks, Brive in Frankryk, die Glasgow Warriors (Skotland) asook Namibië rugby gespeel. Tjiuee sal in die volgende weke nes tydens die 2015 Wêreldbeker vir sy land tydens die 2019 Wêreldbeker in Japan opnuut in die lynstane rank.

Kommentaar

Republikein 2024-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 37° Rundu: 22° | 38° Eenhana: 21° | 37° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 37° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 21° | 36° Omaruru: 20° | 38° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 18° | 34° Henties Bay: 14° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 18° | 34° Mariental: 18° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 17° | 35° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 17° | 34° Oranjemund: 14° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 16° | 32° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 7° | 24° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 24° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 13° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 30° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!